OUTsurance vies oor Hippo se draakstekery

OUTsurance het hom tot die hof gewend oor die advertensie, maar talle Suid-Afrikaners skaterlag daaroor. (Skermgreep)

ʼn Advertensie van Hippo, ʼn maatskappy wat versekeringspremies namens voornemende kliënte vergelyk, het Suid-Afrikaners aan die skater. Die versekeringsreus OUTsurance, met wie hy oënskynlik in die advertensie die draak steek, is egter glad nie dik van die lag nie.

In die advertensie vertel ʼn opgeruimde kliënt aan haar passasier (ʼn versekeringsman) hoe sy dit geniet om die planeet te help red – én om aan haar versekeringspremie te bespaar. Terwyl hulle opgeruimd deur ʼn boomryke woonbuurt ry, spring Hippo se bekende nurkende seekoei egter op en wys aan die kliënt dat sy ʼn selfs beter premie kan kry – mits sy Hippo gebruik om verskillende opsies te vergelyk.

Die parmantige seekoei maak die versekeringsman se sitplekgordel sommer namens hom los en dan beveel die kliënt: “Out!”

Die advertensie herinner baie aan dié van OUTsurance en die maatskappy het die Pretoriase hooggeregshof met ʼn dringende aansoek genader en die hof gevra om ʼn stokkie voor die uitsaai daarvan te steek.

OUTsurance het aangevoer die advertensie sinspeel daarop dat die maatskappy kliënte te veel laat betaal en dat dit inbreuk maak op sy regte.

Die saak is die afgelope week egter van die rol geskrap weens ʼn gebrek aan dringendheid en OUTsurance is beveel om die koste van die aansoek te betaal.

Dit beteken die advertensie mag steeds uitgesaai word.

OUTsurance sê hy glo die advertensie is ʼn skending van sy handelsmerkeiendom.

“Dit is misleidend in sy inhoud en plaas die bedryf in die algemeen in ʼn swak lig,” sê Natasha Kawulesar, woordvoerder van OUTsurance.

“Ons ondersteun gesonde en billike mededinging maar glo nie die veldtog voldoen aan regulatoriese en wetlike vereistes nie.”

Volgens OUTsurance is sommige van die inhoud van die advertensie verkeerd en maak dit ʼn afleiding oor OUTsurance wat hom deur assosiasie in ʼn slegte lig by verbruikers plaas. Om hierdie rede het hulle kapsie gemaak teen die advertensie.

“Soos altyd sal ons ons handelmerk op alle wetlike en regulatoriese maniere wat aan ons beskikbaar is, beskerm,” sê Kawulesar.

Bradley du Chenne, uitvoerende hoof van Hippo, sê egter die doel van die advertensie is om verbruikers op te voed.

“Net omdat ʼn advertensie ʼn gelukkige kliënt wys wat vir jou vertel hoeveel hulle op hul motorversekering spaar, beteken nie noodwendig dat jy gaan bespaar nie.

“Jy kan moontlik met ʼn ander versekeraar meer bespaar en jy gaan net uitvind of jy die beste aanbod kry indien jy kwotasies van verskeie van Suid-Afrika se voorste versekeraars met mekaar vergelyk.”

Du Chenne sê dit is wat Hippo doen. Dit is nie ʼn versekeraar nie, maar bied aan kliënte ʼn meganisme om kwotasies van 11 versekeraars soos Virseker, King Price, Pineapple, iWyse en Dotsure met mekaar te vergelyk.

“Daarna berus die keuse by hulle.

“Hoewel daar ʼn paar versekeraars van ons platform ontbreek, is hulle genooi en is dit hulle keuse om nie deel te neem nie,” sê Du Chenne.

Sommige sosialemediagebruikers het Hippo geloof vir sy skerp advertensie, terwyl ander die platform daaroor gelooi het. Dit was veral die karakter in die Hippo-advertensie, wat byna op ʼn druppel water lyk soos Katlego Maboe – wat voorheen die gesig van OUTsurance se advertensie was – wat platforms besig gehou het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pierre ·

Niks verkeerd met die advertensie, as julle goedkoper en beter diens lewer het julle mos niks om oor bekommerd te wees nie, en mag die arme man nie advertensies maak nie omdat hy soos iemand anders lyk, miskien lyk Katlego soos hy.

dada ·

Nee wat Outsurance se advertensies is vervelig en irriterend. Hippo s’n skreeusnaaks!

blia ·

Ag nee wat, hierdie is ligte musiek. Gaan kyk bietjie hoe Mercedes, BMW en Audi mekaar oor die jare uithaal in hul advertensies. Is dit maar wat bietjie gesonde kompetisie is nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.