OVK sê oor opdatering van kiesers se adresse

Argieffoto

Argieffoto

’n SMS wat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) aan miljoene Suid-Afrikaners gestuur het om te vra dat hulle na hul plaaslike registrasiepunt gaan om hul woonadres op die kieserslys aan te bring, het talle kiesers boos.

Maroela Media het talle klagtes van lesers ontvang wat beweer dat hulle al dekades lank op dieselfde plek woon, en reeds in die gebied gestem het, maar ʼn SMS ontvang het dat die OVK nie ʼn woonadres vir hulle het nie.

Kate Bapela, woordvoerder van die OVK, het aan Maroela Media verduidelik dat die OVK besig is om kiesers se adresse te verifieer en te verseker dat die besonderhede op die kieserslys so akkuraat as moontlik is. “In baie gevalle is die adres wat ons vir ʼn kieser het nie volledig nie of nie duidelik nie. Daar staan byvoorbeeld Kerkstraat, maar daar staan nie in watter stad die kieser bly nie en daar is talle strate genaamd Kerkstraat in Suid-Afrika,” het sy gesê.

“Baie van die strate se name het ook oor die afgelope paar jare verander en dan is die adres wat ons het nog die ou naam en nie meer akkuraat nie.”

Bapela het verwys na die saak wat tans voor die konstitusionele hof is waarin daar besluit moet word of dit vir die OVK verpligtend sal wees om volledige adresse aan politieke partye te verskaf wat verkiesings bevraagteken. Sy het gesê hoewel dit tans nie nodig is om ʼn bevestigde adres te hê om te kan stem nie, kan die konstitusionele hof se uitspraak hierdie aspek dalk verander.

Die verkiesingshof het vroeër beslis dat die tussenverkiesings wat in Februarie in Potchefstroom (Tlokwe) gehou sou word, uitgestel moet word. Die hof het die OVK aangesê om die fisieke adresse van persone op die kiesersrol te bevestig vir toekomstige verkiesings.

Die OVK het hom egter tot die konstitusionele hof gewend om teen die uitspraak te appelleer aangesien die uitspraak sal beteken dat sowat 16,2 miljoen mense nie op die kieserslys sal mag bly en nie kan stem nie as die OVK nie hul volledige adresse kan verskaf nie.

“Ons kan nie wag tot die hof ʼn uitspraak lewer voordat ons begin om ons kieserslys op te dateer nie. Daar sal nie genoeg tyd wees nie,” het sy gesê. “Ons is gedruk vir tyd en ons moet nou al begin om seker te maak dat ons kiesers se korrekte adresse op ons stelsels het. Ons hoop kiesers sal gehoor gee aan ons versoek om asseblief hul inligting by hul naaste registrasiepunt te gaan opdateer.”

Sy het ook gesê dat die OVK ʼn vorm op sy webwerf beskikbaar gestel het wat kiesers net kan uitdruk en invul en dan by hul betrokke registrasiepunt gaan afgee.

“Kiesers wat nie tydens die registrasienaweke geregistreer het nie, kan nog totdat die amptelike verkiesingdatum in die Staatskoerant gepubliseer en deur die tersaaklike minister verkondig is, by hul naaste OVK-kantoor kan registreer deur slegs hul ID saam te neem,” het Bapela gesê.

Sy het gesê die OVK sal Dinsdag die volledige statistieke bekendmaak van hoeveel kiesers reeds geregistreer is en hoeveel nog moet registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

EMK ·

My man het die sms gekry. Ek en hy woon al jare op presies dieselfde plek, die adres en alles is presies dieselfde. Toe gegaan en ja, wat hulle gehad het was skielik nei reg nie maar myne wel. Nou hoe werk dit dan? Ons adres is presies dieselfde en hoe kon sy nie heeltemal volledig wees maar myne wel? Ons het destyds op presies dieselfde tyd en plek geregistreer en alles dieselfde deurgegee so hoe is syne onvolledig en myne nie? En dit nadat ons al hoevele kere gestem het ook!

Sarie ·

Ja ons het ook die SMS’e gekry maar toe ek ‘n sekere nommer gebel het het die person wat daar geantwoord het alles vir my voorgelees wat adresse betref en dit is presies die adres waar ek al langer as 20 jaar woon. Hulle jaag sommer nou net weer spoke op.Hulle het seker gedink ons gaan sommer net in ons voertuie klim en jaag na die OBK-kantore om te gaan kyk, toe ontplof die hele ding omtrent in hul gesigte want die enigste kiesers lyk dit my wie se addresse ontbreek is die plakkerskampe

Roger ·

Die “OVK” bly steeds die regerende party se grootste bondgenoot. Ons word ‘n rat voor die oë gedraai met elke verkiesing, nes soveel ander dinge.

Joann ·

Net so selfde met ons gebeur. En daar werk geen blankes net swartes. Nie kleurlinge nie net swartes. Ek stem nie want ons blankes word nie gereken nie

Liza ·

Met alle respek Joann, as jy nie stem nie mag jy ook nie kla nie!

Louw ·

As jy nie stem nie, mag jy nie kla oor enige iets in die land nie, elke stem wat nie stem nie gaan dan na die ANC.

Francois ·

En as jy stem, mag jy kla – en waar bring dit jou? Vergeet die politiek, man – verkiesings is deurtrek met korrupsie, skelmstreke en valse beloftes. Gooi eerder jou tyd en energie agter burgerregte-organisasies soos Afriforum in.

Leeukuil ·

As jy stem mag jy juis nie kla nie! As jy wil deelneem moet jy mos die uitslag aanvaar, jy het dan reeds jou “demokratiese” reg uitgeoeffen. Stem reg, bly weg.

Elfie ·

Francois – mens MOET stem; en ek wed jou Afriforum sal presies ook dit aan sy lede voorstel!

Basson ·

OVK se opmerkings is ‘n rookskerm en probeer om die aandag weg te weerkaats van die werklike probleme. In Centurion het hulle eensyding bv meeste inwoners van ‘Zwarkops’ se uitbreiding verander na ‘Highveld’, alhoewel dit al vir JARE korrek en geverifieer was. Die webwerf / SMS het aangetoon my adres is reg, maar ek het buitendien gaan kyk en gevind dis verander.
Die OVK het ‘n nuwe IT stelsel geimplimenteer en hulle wil nie erken dat dit weereens ‘n globale gemors is nie.

Basson ·

Ironies genoeg is mense sonder vaste adres tot ‘n groot mate kwytgeskeld van die rompslomp – laat mens wonder ne… (Poskantoor is genoeg)

Tersia ·

Met die vorige verkiesing het my man se werker gestem sonder n ID boek. Die dag na die stemmery het hy gesé hy het “gevote ” nou hoe verstaan jy dit!??????

Leon ·

Ek het ‘n vermoede dat baie ANC ondersteuners se adresse NIE van die stelsel verdwyn het nie…

Liza ·

Jy is reg Leon, in ons dorpie is almal wie ‘n afrikaanse of engelse van het se adres nie reg nie…. ????

Arrie ·

Ja rêrig né. Rekenaars is nou seker slim genoeg om self stukke adresse te verander, uit te haal of hele adresse te “verloor”. Hoe is jou adres met dorp al die jare reg en skielik nou “bly” jy volgens OVK se lys sommer in ‘n ander dorp???

Bets Bothma ·

Ons het ook sms ontvang, ons het gaan seker maak en ons adres is definitief nie nagegaan of dit volledig is nie, net ons ID nommers is nagegaan!

Wilma ·

Ja ek hoor wat julle se hulle se by die IEC kantore die adresse word nagegaan en dan reggestel en soos julle se ek en my dogter bly ook by dieselfde adrer, sy is daar en ek nie dit is skrikwekkend om te weet ouer gardes se adresse verdwyn net ne

Scalla ·

Ek het ook sms gekry en gister my id boek en water en ligte rekening saamgeneem vir die adres wat nie eens nodig was nie. Verstaan dit nie aangesien ek al jare op dieselfde punt stem en my adres onveranderd is. Die persoon deel my mee dat dinge verander het, ek vermoed al wat verander het is die een wat die invoere moes doen seker weer nie geweet of vergeet het nie.

Pieter ·

Die OVK probeer om die stelsel reg te kry nadat die ANC in Thlokwe (Potchefstroom) meer as 4000 kiesers in gery het om te stem en toe uit gevang is. Dit is vir ons almal baie frustrerend maar gaan maak seker dat jou besonderhede reg is sodat ons die ANC n groot pak kan gee in die opkomende verkiesing. Moet nie negatief wees nie en sê dat jy nie gaan stem nie – ons het alle stemme nodig as ons die land wil reg kry en jy mag nie kritiseer as jy nie stem nie.

Tokkie ·

Die wat sê dat ander nie die reg het om te kla as hulle nie stem nie is arrogant. Een het die volste reg om te kla as jou belastinggeld vermors word of jy gestem het of nie.

jordaan ·

Ja, hulle is dalk arrogant, maar deur net te kla gaan niks verander nie – slegs deur te gaan stem is daar ‘n kans om enigsins ‘n verskil te maak.

marie ·

my man het in Maart 2016 gegaan toe was sy adres verkeerde, ons het n vorige keer ook gestem skielik is sy adres verkeerd maar myne reg ons het dit verander in Maart , vorm ingevul die hele toetie toe ons weer terug gaan in April was die adres weereens verkeerd , ek vra maar net wie doen wat , gaan dit reg wees as ons die dag gaan stem ……….

Nico ·

En hoe verduidelik die OVK dat jy geen bewys van residesie nodig het nie, net jou word is goed genoeg. Maak dit oop vir bedrog soos in Tolkwe!

Mauritz Havenga ·

Hou op kla! Hierdie is mos ‘n geleentheid om dit wat nie korrek is nie of onvolledig is, reg te stel. Ek en my vrou het na die stempunt gegaan en die baie vriendelike (swart) dame het ons vining en professioneel gehelp. Al wat dit gekos het om te verseker dat ons besonderhede op die kieslys korrek is, was ‘n paar minute van ons tyd.

Anny ·

Jy verstaan nie. Lees die vorige kommentare. Jy maak adres vandag reg maar more is dit weer verkeerd. Jy meld weer aan en maak reg en vlg maand is dit weer verkeerd. Mens is magteloos en kan net hoop op 3 Aug joune is reg.

Joann ·

Tokkie dit is net so. Het stem al enige iets beteken? My belasting geld beteken iets sonder my stem. En om die adresse te vra sodat die wat nie daar woon nie en aangery is stop te sit is n klug. Hul gee maar net hul tjommie se adres.

Thys ·

My adres is ook skielik aanlyn weg. Wys ek is geregistreer en korrekte stempunt maar na jare skielik geen adres.

Ek reken die fiasko is n nuut gevonde stukkie ANC bedrog plan !

Anny ·

Dis hoekom die hele adres storie n klug is. Enige ou kan enige adres opgee en hulle aanvaar dit so. Dus… 4000 mense kan op 1 adres registreer en hulle sal dit nie agterkom nie.

Helena ·

Wonder net, ek het my en my man se id”s ingesit om te kyk of ons geregistreer is ons is wel en wys tot waar ons met stem, op dieselfde plek wat ons in die verlede gestem het, maar my man kry sms sy adres ontbreek nou as hy nie n adres het nie hoe kan daar aangedui word waar hy moet stem

m ·

Word met ‘n spesifieke doel gedoen. Hulle wil seker verhoed dat ons stem. Die ANC sal elke trick in die boek probeer om stemme te verseker.

Sarie ·

Moes my adres ook weer gaan opgee na tien jaar by dieselfde adres en drie keer se stem. Wat my eintlik geamuseer het was ‘n tafel waar DA kandidate stemme probeer werf het. Ek sien hoe die dame in bevel twee bruin jong manne nader roep aan elkeen ‘n DA t-hemp en R100 gee met die belofte van meer later. Sy gee toe vir elkeen ‘n appel ook. So die twee is toe seker betaal om in hulle woonbuurt te gaan stemme werf. Politiek bly maar politiek :))

Penellope Jones ·

Ons adres was ook verander na ‘n totale onlogiese adres! Gelukkig het ons gaan navraag doen met die eerste registrasienaweek. Tot ons skok het ons agtergekom dat ons adres verander is nadat ons al amper 20 jaar in dieselfde omgewing, huis, en straat straat woon en by dieselfde stemlokaal stem! Ons het dit laat verander, herregistreer en verlede week het ons sms en telefoonoproep ontvang om ons in te lig dat die adres verander is.

Talle, talle klagtes oor die radio oor mense wie se name of adresse sommer net verdwyn het of verander is. Nou hoor ons dat die OVK later in die week ‘n volledige lys beskikbaar sal stel met kiesersname en adresse.

Hoekom kan dit nou skielik reggestel word, nadat daar die afgelope naweek nog heelwat foute voorgekom het, nadat ons vir hoelank in die pers, radio en televisie gewaarsku is dat daar twee registrasienaweke om die draai is en dat ons asb moet seker maak dat ons inligting reg is en dan is dan is die foute aan hulle kant??

GeeCee ·

Ek wou my vorm ingee die naweek maar die beamptes wou hom nie vat omrede ek nie my ID by my gehad het nie. Wat doen ek nou met die vorm.

Anny ·

Ons het al 3x by dielfde stemlokaal gaan stem en ons adres was reg. Gister toe ons net wil seker maak….. jammer jul adres ontbreek,registreer asb weer. Kom stemdag lê my naam dalk 2x daar en dan gaan ek 2x stem ook. Lekker man!

Dr Pieter van der Dussen ·

Pragtige taal die Englikaaans van Maroela….. Opdatering? Updating? Wat van bywerking – baie beter verstaanbaar. Ek se maar net…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.