Pa, dogters vervolg ná miskraam

(Argieffoto: Unsplash)

Meer as twee jaar nadat ’n swanger vrou só erg aangerand is dat sy later haar ongebore kind verloor het, word ’n pa en sy twee dogters vir die aanranding privaat vervolg.

Windel Ameer, Shahiedah Courtiers en Shariefah Ameer van Eersterust, oos van Pretoria, het verlede week in die landdroshof in Hatfield verskyn op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Windel en sy dogters word daarvan beskuldig dat hulle vir Linodene Jacobus in Oktober 2020 erg aangerand het. Sy was toe skaars drie maande swanger. Jacobus het destyds verskeie steekwonde en kneusplekke aan haar lyf tydens die beweerde aanranding opgedoen.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het egter aanvanklik geweier om te vervolg nadat ’n senior aanklaer aangevoer het dat dit ’n “wedersydse bakleiery was” en daar geen vooruitsig op suksesvolle vervolging is nie.

Dít ondanks videobewyse van die aanranding en weergawes van verskeie ooggetuies, sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die eenheid het ’n skrywe aan die NVG gerig waarin die eenheid sy verbasing uitgespreek het oor die besluit om nie te vervolg nie en die NVG het eindelik ná volgehoue druk in Mei verlede jaar sy besluit hersien.

“Moet ons aanvaar dat vroue wat in ’n bakleiery beseer word geen beskerming van die wet sal ontvang nie?” wil Nel nou weet.

“Ons kan nie anders as om ons afsku dat die NVG sou toelaat dat ’n saak soos hierdie vir maande uitgerek word, te weerspieël nie … As ’n ‘bakleiery’ toegelaat word, maak ons in werklikheid voorsiening vir wraakgevegte wat wettelose chaos tot gevolg kan hê.”

Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, sê dit is onaanvaarbaar dat dit so lank geneem het om te verseker dat die saak voor die hof gebring is. “Dit blyk dat die owerhede enige verskoning sal probeer vind om nie te vervolg nie, in plaas daarvan om te verseker dat sake gereed is om verhoor te word. Daar is voldoende bewyse om die aanklagte teen die beskuldigde te ondersteun en ons is tevrede dat die saak uiteindelik voor die hof is.

“Ons spreek egter dieselfde kommer uit as die klaer se familie: dat die beskuldigdes deur moontlike invloed in hul gemeenskap in staat is om polisie-ondersoeke te ondermyn, wat hulle toelaat om straffeloos op te tree. Die eenheid sal dit nie duld nie. Dit wys ook dat geregtigheid byna onbereikbaar is vir burgers sonder ondersteuning van ’n waaksaamheidsopdrag soos AfriForum se privaatvervolgingseenheid,” sê Bateman.

Die saak is tot Donderdag 23 Februarie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alta Alleman ·

Aanranding met die doel om ernstig te beseer het definitief n saak teen die beskuldiges. Aai ons landswette darem.

Di ·

NVG is ‘n spul narre en ANC kaders!!! Meeste sake word nie vervolg nie TENSY een of ander organisasie DRUK uitoefen om hulle werk te doen nie. Patetiese spul!

Niklaas ·

Die senior aanklaer wat nie vervolging laat voortgaan nie gee net te gou op. Dalks is hy ook ‘n goeie kennis van die aanranders, hoe sal ons weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.