Pa herstel stadig ná skietery wat seun eis

Johan en Catharina Hebler en hul seuns Nathan (18) en Juandré. (Foto: Verskaf)

Johan Hebler, wat verlede week gewond is in ʼn skietery in Vanderbijlpark wat ook die lewe van sy seun, Nathan (18), geëis het, herstel stadigaan in die Unie-hospitaal in Alberton.

Johan (52) weet egter steeds nie Nathan is dood nie.

Johan en Nathan was verlede Dinsdagaand by die Slap Chips-kitskoswinkel in Vanderbijlpark toe Tommy Phalatsi (49) op mense begin losbrand het.

Phalatsi het vir Nathan en ook vir Willem Kriel, ʼn motorwag, geskiet waarna hy weggejaag en by ʼn vulstasie selfmoord gepleeg het.

Nathan is ʼn ruk later by die Mediclinic in Emfuleni dood. Kriel het ʼn dag later in ʼn hospitaal in Sebokeng gesterf.

Lewis Lawrence Townsen, ʼn winkelbestuurder, is ernstig beseer toe Phalatsi by die eetplek in voertuie vasgejaag het en Townsen teen ʼn voertuig vasgepen is.

Bianca Venter, ʼn niggie van Nathan, sê Johan is in ʼn kunsmatige koma gehou, maar het intussen al sy oë oopgemaak. Die dokters sal hom na verwagting Donderdag heeltemal begin wakker maak. Hy het reeds ʼn operasie ondergaan om die skade weens die skietwond aan sy buik te herstel.

Venter sê weens ʼn Covid-19-geval by die hospitaal kan Johan se vrou, Catharina, hom nie in hierdie stadium besoek nie. Sy kon wel met hom oor die foon praat.

“Catharina is rustiger, maar sy sê alles voel nog onwerklik. Dit voel vir haar of sy net wag vir [Nathan] om van die plaas af te kom.”

Nathan het ook ʼn jonger boetie, Juandré (15).

“Catharina is ʼn ongelooflike sterk vrou en Juandré staan sterk saam met sy ma.”

Venter sê die gemeenskap het die familie die afgelope ruk op die hande gedra. “Ons het ongelooflike ondersteuning gehad. Daar is mense wat kos bring of inkopies aandra. Catharina het ʼn koevertjie met R10 daarin gekry. Dit was fantasties, ons waardeer elke enkele bydrae,” het sy gesê.

Nathan sal veras word en ʼn roudiens sal vir hom gehou word sodra Johan sodanig herstel het om dit te kan bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

LANA is ELANè ·

SA lees daagliks soos ‘n riller, ongeag vir die covid se aanslag is misdaad soveel erger as enige iets anders. Ek hoop werklik die man herstel spoedig, alhoewel die ergste nog op hom wag en dit is dat hy sy kind op so wrede manier aan die dood afgestaan het. Ek voel so bitter jammer vir sy vrou en ander seun en die arme karwag se familie.

Genis ·

Hoe onnodig en hartverkerend… mens kan maar net bid vir genesing na die tragedie… Alle sterkte aan die familie en vriende… Mag God jul dra in die moeilikke tyd..

Sylvia ·

“… is in ‘n kunsmatige koma …” Hoe kon sy vrou dan met hom oor die foon praat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.