ʼn 53-jarige pa en sy 19-jarige seun is Sondag in Mosselbaai in die Wes-Kaap in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn plaaslike tronkbewaarder.
Volgens die Wes-Kaapse polisie het die moord Sondag omstreeks 00:30 in Mathezastraat in Kwanonqaba plaasgevind.
“Die beampte was nie aan diens nie en is vroegoggend na sy bure om sy vriendin te gaan haal. Toe hy daar aankom, het ʼn rusie tussen hom en die twee verdagtes ontstaan,” het die polisie gesê.
Die verdagtes het glo messe gaan haal en die beampte noodlottig gewond.
Die Kwanonqaba-polisie het vinnig reageer en die pa en seun is kort daarna in hegtenis geneem. Daar is ook beslag gelê op hul bloedbevlekte klere en ʼn mes wat op die toneel gevind is.
Die verdagtes moet Dinsdag in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op aanklag van moord.
Dit is so hartseer dat mense so geweldadig moet optree. n Oomblik van swakheid agv waarskynlik n te kort humeur en wie weet daardie tyd van die oggend moontlik drank……. ???? Dis nie net die lewens van die bewaarder wat vermoor is se familie wat nou in rou gedompel is nie; maar ook sy kollegas en vriende. RIV mnr die bewaarder. Mag jou geliefdes en vriende getroos word en bygestaan word in hierdie hartseer tyd.