Paaie herstel, maar Umdloti se riool pla steeds

Probleme met water- en kragvoorsiening in die gebied is meestal uitgestryk en groot opknappingswerk aan die stormwaterstelsel is gedoen. (Foto: Maroela Media)

Umdloti, ʼn gewilde vakansiedorp aan die KwaZulu-Natalse noordkus, wemel van konstruksiewerkers wat steeds spook om die skade wat in die verwoestende oorstromings vroeër vanjaar aangerig is, te herstel.

Swaar reën het in Mei vanjaar in die streek uitgesak en dae lank voortgeduur. Dit het tot verskeie modderstortings gelei, strukture het verkrummel, brûe het verspoel, groot stukke van talle toegangspaaie is weggekalwe en pype en kabels is uitgeruk of deur vloedwater meegesleur.

Vicky Schnetler is die wykbestuurder van die niewinsgewende organisasie Umdloti Village, wat hom beywer vir die verbetering en beveiliging van al die gebiede wat deel van die Umdloti Village vorm.

Schnetler sê in hierdie stadium is hul grootste kopseer herstelwerk aan die rioolstelsel. “Dit is in wanorde en ons sit met ʼn geweldige rioolreuk,” sê sy.

Op talle plekke in die omgewing stroom rioolvuil steeds sigbaar in die strate af of voor huise verby. Die reuk van rou rioolvuil hang ook swaar in die lug.

Schnetler sê die meeste ander herstelwerk het fluks verloop en sowat 80% van paaie wat in die oorstromings beskadig is, is reeds herstel. Rommel besaai egter nog heelwat paaie.

Herstelwerk aan drie groot woonstelgeboue op Noordstrandweg wat kwaai beskadig is, duur voort, maar die wind waai bourommel en sand wat uit die geboue gebring word, oral heen. Dit veroorsaak onder meer versperrings op paaie.

Probleme met water- en kragvoorsiening in die gebied is meestal uitgestryk en groot opknappingswerk aan die stormwaterstelsel is gedoen.

“Met die rioolstelsel is dit egter asof niks gebeur nie,” sê Schnetler.

In hierdie stadium is verskeie strande, van die Durbanse punt tot by Ballito, ook steeds gesluit nadat hoë vlakke van die bakterie E. coli in die water gevind is.

Die eThekwini-metro het vroeër vandeesmaand sommige strande heropen nadat omvattende watertoetse gedoen is. Strande wat reeds oopgestel is, sluit in Bay-, Noord-, Wedge-, Suid-, Addington-, uShaka-, Punt-, Brighton-, Amanzimtoti-, Pipeline-, Warner-, Winklespruit- en die Umgababa-strand. Toetse het bevestig die watergehalte by die strande is nou op ʼn aanvaarbare standaard.

By strande wat steeds gesluit is, bly alle wateraktiwiteite soos swem en branderry egter verbode.

Schnetler sê die Umdloti Village laat nou self toetse doen om die watergehalte te bepaal en hulle het nog geen aanduiding gekry van wanneer strande heropen gaan word nie. Hulle is ook in deurlopende verbinding met die munisipaliteit om ʼn spoedige oplossing hiervoor te probeer vind.

“Ons het mense wat AirBnB’s verlaat omdat hulle bloot nie die reuk [van riool] langer kan uitstaan nie.

“Ons restaurante kry ook swaar weens die rioolreuk. Eers was daar Covid-19, toe die plundering verlede jaar en daarna die oorstromings. Ons mense was onder geweldige druk,” sê Schnetler.

Die parlementêre ad hoc-komitee oor vloedrampverligting en -herstel het einde verlede maand ʼn oorsigbesoek aan die gebied gebring en was tevrede met vordering wat met rehabilitasiewerk in Umdloti gedoen is.

Hulle het ook gevra vir langtermynplanne om die uitwerking wat klimaatsverandering op die gebied het en wat voortaan weer tot modderstortings kan lei, teen te werk.

Besoekers verwelkom

Volgens Schnetler sal die gebied teen Desember slaggereed vir die duisende verwagte besoekers wees. Sy sê sowat 91% van slaapplekke in Umdloti is reeds bespreek en besoekers sal moet gou spring as hulle oor die Kerstydperk nog ʼn blyplek in die gewilde vakansiedorp wil vind.

Gerrilene Fouché, bemarkingshoof van LekkeSlaap.co.za, sê die akkommodasie-besprekingswebwerf se data wys dat vakansiegangers egter nog huiwerig is om besprekings in die gebied te maak, gegewe die geweldige skade wat vroeër daar aangerig is.

“Besprekings in Umdloti vir die tydperk 16 Desember 2022 tot 3 Januarie 2023 is tans 36% minder as tydens dieselfde tydperk in die vorige jaar. Terwyl ons beslis dié daling deels aan die vloedskade kan toeskryf, is dit wel belangrik om in ag te neem dat vakansiegangers skynbaar sedert die pandemie geneig is om meer op-die-nippertjie-besprekings te maak en hierdie neiging kan ook ʼn invloed op die huidige besprekingsgetalle hê.”

Fouché sê die Noordkus bly steeds een van LekkeSlaap-gebruikers se topbestemmings deur die jaar, maar veral in die somermaande.

“Ons sien gewoonlik ons grootste besprekingsgetalle in dié gebied tydens die Desembervakansie. Verder oes die gebied ook ʼn groot getal besprekings tydens Paasnaweek in.”

Benewens Umdloti is besoekers ook gretig om veral op plekke soos Ballito, Salt Rock, Shaka’s Rock en Zinkwazi-strand te gaan uitspan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.