Paasfees dalk die rede vir vroeër vyfde vlaag

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid. (Foto: GCIS)

Suid-Afrika se vyfde vlaag van die koronavirus gaan moontlik vroeër as verwag sy opwagting maak met ’n beduidende toename in nuwe gevalle wat die afgelope twee weke aangeteken is. Die toename kan dalk toegeskryf word aan Paasfees en ander onlangse godsdienstige byeenkomste.

Dit sal egter eers oor ’n week duidelik wees of die land al die volgende virusvlaag tegemoet gegaan het, sê dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid.

Intussen is sy departement besig om deur 300 000 kommentare op die voorgestelde nuwe gesondheidsregulasies te sif. Dit moet teen volgende Donderdag (5 Mei) gefinaliseer wees, wanneer die ramptoestand einde ten laaste opgehef word.

Phaahla het Vrydagoggend aan verslaggewers gesê wetenskaplikes het tot onlangs nog vermoed dat Suid-Afrika se vyfde vlaag van die virus die land teen middel Mei of selfs die begin van Junie sal tref.

Prof. Salim Abdool Karim, voormalige voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, het egter vandeesweek in ’n weeklikse verslag aan die departement aangedui dat die land op grond van ’n tegniese definisie reeds die vyfde vlaag binnegegaan het.

Meer as vyf nuwe gevalle per 100 000 mense word daagliks aangemeld.

Daar word egter aangevoer dat die land eers die volgende vlaag sal binnegaan indien meer as 6 237 gevalle per dag vir meer as sewe dae agtereenvolgend aangemeld word.

(Foto: Phill Magakoe/AFP)

Meer as 6 300 gevalle is Woensdag aangemeld voordat die getal nuwe gevalle Donderdag weer gedaal het. Die daling kan egter moontlik toegeskryf word aan die openbare vakansiedag waartydens minder toetse gedoen is.

“Hoe ons ook al daarna kyk, dit dui wel daarop dat ons eintlik baie vroeër die vyfde vlaag kan betree.”

Teen Maandag (25 April) het kenners ’n 137% toename in nuwe gevalle opgemerk vergeleke met die vorige sewe dae. Hoewel al nege provinsies tans ’n toename in gevalle beleef, kom die meeste gevalle in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap voor.

Dié drie provinsies is tans verantwoordelik vir meer as 85% van alle nuwe gevalle.

Die minister het daarop gewys dat daar gelukkig nog geen nuwe variant van Covid-19 kop uitgesteek het nie. Slegs veranderinge aan die bestaande Omikron-variant in die vorm van subvariante is opgemerk.

Dr. Richard Lessells, spesialis in oordraagbare siektes verbonde aan die Genomic Sequencing Network, het gesê die twee nuwe subvariante van die Omikron-variant is geïdentifiseer as BA.4 en BA.5.

Die twee subvariante is verantwoordelik vir die helfte van die gevalle sedert vroeg April.

Phaahla se departement is nie juis bekommerd oor die subvariante nie, maar is wel bewus daarvan dat die land ’n lang winter binnegaan waartydens Suid-Afrikaners meer binnenshuis gaan verkeer.

Hospitaalopnames neem toe

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Mediclinic Suider-Afrika/Facebook)

Dr. Waasila Jassat, verbonde aan die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), het op haar beurt vanoggend gesê die instituut het reeds ’n effense toename in hospitalisasies, veral wat private hospitale betref, opgemerk.

Die land se hospitale verkeer egter in dié stadium nog geensins onder druk nie.

Gauteng staan in dié stadium op gemiddeld 60 Covid-19-hospitaalopnames per dag. Die syfer is nog nie kommerwekkend nie aangesien sowat 1 000 hospitalisasies per dag tydens die piek van die sogenaamde Delta-virusvlaag opgemerk is, het Jassat verduidelik.

Nog geen noemenswaardige toename in sterftes is ook al opgemerk nie.

Omikron blyk steeds veral jong kinders te raak. Hoewel ’n toename in infeksies regoor alle ouderdomsgroepe opgemerk is, is die meeste infeksies in die ouderdomsgroep tien tot 14 aangemeld.

Die meeste hospitalisasies word by mense ouer as 65 aangemeld.

Jassat het gesê dit is in dié stadium te vroeg om te bespiegel oor die erns van die vyfde virusvlaag, aangesien ’n toename in gevalle maar twee weke gelede begin het. Nios se data sal oor die komende weke meer duidelikheid kan verskaf.

Die minister en onderskeie kenners het opnuut ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om hulle teen Covid-19 te laat inent en hul opvolg-inentingsdosisse (oftewel booster) te ontvang in aanloop tot winter en vyfde virusvlaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Jessey ·

Iets of iemand moet die skuld kry. “Plausible Deniability”

domheks ·

Darem maar snaaks dat Godsdienstige byeenkomste die skuld kry. Het jy al gesien hoe lyk dit by sokker byeenkomste? Vra maar net!

Janine ·

Of by shebeens, waar almal aan een bottel drink. Selfde sigaret deel.

Tersia ·

MM, hoekom het julle my kommentaar afgehaal. Ek het net bloot gese dat hulle eerder moet gaan soek na die oorsaak van die toename in gevalle by die Sjebeens wat deurnag oop was gedurende die Paastyd … geen wette was nagekom nie, vra my ons bly naby een. Nou wil hulle kom en Godsdienstige byeenkomste die blaam gee.

Misky ·

Toemaar Tersia, ek voel selfde en my kommentaar ook verwyder. Ek mag blykbaar nie sê dat covid verby en iets van die verlede is nie.

Witbaard ·

Twak, hulle soek net n rede om hulle regulasies te regverdig. Kyk hoeveel mense sterf. Dit bepaal hoe ernstig die virus is, nie die positiwiteitskoers en aktiewe getalle nie. Daar sterf daagliks baie meer aan ander siektes as covid.

Mariana ·

Om paasfees en godsdienstige byeenkomste te blameer vir die 5de vlaag wat reeds laasjaar voorspel is, is darem nou wraggies verregaande. Maar dis seker al manier om die 5de vlaag te regverdig.

Carin ·

Ag hemel, enigeiemand wat die weer dopgehou het sou geweet het die aantal gevalle en skete gaan toeneem. Dit geld nie net vir covid nie, maar vir ander siektes ook. Wanneer gaan MaroelaMedia bietjie moeilike vrae begin vra en in-diepte na hierdie hele storie kyk?

Andre ·

Eienaardig, hulle kan duisende op ‘n dag toets. Maar nie water voorsien aan dorpe nie. Nou wonder ek, hoe moet mense hulle hande was. Of is toetse meer winsgewend?

Marius ·

As ek dit nie mis het nie was die 5 de vlaag al in desember voorspel deur Dr ABSA. Die program word goed gevolg né…

Miskruier ·

Godsdienstige byeenkomste! Loutere twak! Die kerke was leeg en die kuierplekke vol. Die virus het nou lank genoeg ons onderdruk.

DJ ·

Hulle kan maar al die stadions na kyk waar al die ingeentes bymekaar kom as hulle die oorsaak soek. Beslis nie Paasfees nie.

LANA is ELANè ·

My aarde, wil jy nou mee, dit is slegs diegene met mediese fondse wat tans deur die 5de golf getref word. Eienaardige fenomeen…. laat mens nogal wonder…????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.