Padongelukkefonds kry miljoene rand se duplikaatbetalings terug

(Foto: PublicDomainPictures/Pixabay)

Deur Chiara Carter, GroundUp

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het meer as R317 miljoen teruggekry wat die Padongelukkefonds (POF) verkeerdelik aan prokureurs oorbetaal het.

Die SOE ondersoek egter nou bewerings dat die POF nog miljoene rand kwyt is weens wanadministrasie en korrupsie.

Die SOE het in 2021 begin om ondersoek in te stel na die POF se benarde finansiële situasie. Die eenheid het vandeesweek die parlement se komitee oor openbare rekeninge op hoogte gebring oor sy “langdurige en ingewikkelde ondersoek” na probleme by die sukkelende POF.

Die eenheid se ondersoek fokus op bedrieglike eise en betalings, verkryging- en tender-onreëlmatighede, beweerde wanadministrasie en moontlike onwettige bedrywighede deur werknemers.

Die ondersoek het tot dusver R3,3 miljoen gekos, maar die SOE het reeds daarin geslaag om R317,6 miljoen te verhaal uit die terugbetaling van duplikaatbetalings wat die POF aan regsfirmas gemaak het.

Leonard Lekgetho, hoofondersoekbeampte by die SOE, het aan die parlementêre komitee gesê altesame 102 regsfirmas, insluitend balju’s, word ondersoek vir meer as R340 miljoen se duplikaatbetalings van die POF.

“Die POF het ʼn betalingstelsel wat bepaal dat wanneer ʼn eis aanvaar word, hetsy deur skikking of by wyse van ʼn hofbevel, daar ʼn wagtyd van 180 dae is voordat dit betaal word,” het Lekgetho gesê.

“Gevolglik sal ʼn prokureur op die POF se bankrekening beslag lê by wyse van eksekusiebevele wat deur die balju beteken is, wat veroorsaak dat betalings ingevolge die lasbriewe gedoen word ná die 180 dae verval het. Dieselfde eis sal weer betaal word [omdat dit op die POF se interne stelsel geëis is], wat dus ʼn duplikaatbetaling uitmaak.”

Verskeie regspraktisyns het skulderkenning van R70 miljoen onderteken en ander het duplikaatbetalings direk aan die SOE terugbetaal.

“Dissiplinêre stappe sal teen die amptenare gedoen word wat versuim het om te verseker dat behoorlike beheermaatreëls ingestel is om duplikaatbetalings te versag, of amptenare wat versuim het om die beheermaatreëls te implementeer. Die amptenare wat nie meer by die POF werksaam is nie, sal na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys word waar daar bewyse van misdadigheid is,” het Lekgetho gesê.

Hy het onthul dat die SOE bewyse het dat “trustrekeninge wanbestee is”. Altesame 12 regsfirmas is na die NVG verwys vir vervolging en vyf praktiserende prokureurs is by die Regspraktykraad (LPC) aangegee.

Die SOE het sy bekommernis uitgespreek oor die POF se besluit om met sy paneel van prokureurs weg te doen. Die land se voorste regsliggame het ook vroeër vanjaar dié besluit gekritiseer.

Parlementslede het gehoor dat die SOE ondersoek waarom die POF die paneel van prokureurs – wat die agentskap in die hof oor eisgeskille verteenwoordig het – verwyder het en of hierdie stap tot ʼn onlangse styging in verstekvonnisse teen die POF gelei het.

“Die totale bedrag van verstekvonnisse wat teen die POF uitgereik is vir koste en fooie van 2018 tot die tweede kwartaal van 2023, beloop R4,7 miljard. ʼn Skerp toename in die verstekvonnisse word tussen 2021 en 2022 opgemerk.

“Daar was ʼn saak waar ʼn eiser ʼn verstekhofbevel ten bedrae van R11,1 miljoen toegeken is wat die POF nie betyds betaal het nie, wat daartoe gelei het dat hierdie bedrag rente ten bedrae van sowat R500 000 opgehoop het wat ook aan die eiser uitbetaal is,” het Lekgetho gesê.

“Die ondersoek is in ʼn gevorderde stadium en die span is besig om die bevindings te finaliseer en die betrokke persone die reg op ʼn antwoord te gun voordat die verwysings gefinaliseer word.”

Verkrygingsonreëlmatighede

Die onreëlmatige kontrakte wat aan diensverskaffers toegeken is waarna die SOE kyk, sluit die verkryging van kantoormeubels en skoonmaak- en sekuriteitsdienste in.

Hierdie verkrygingsonreëlmatighede is voorheen deur die kantoor van die ouditeur-generaal opgemerk.

Lekgetho het gesê die SOE het bevind dat die POF artikel 217(1) van die Grondwet en die Wet op Openbare Finansiële Bestuur oortree het in kontrakte wat aan twee diensverskaffers toegeken is om die agterstand in eise deur padongelukslagoffers te hanteer.

“Hierdie saak sal na die SOE se siviele litigasie-afdeling verwys word vir assessering. Dit sal dan moontlik na die tribunaal geneem word.”

Nog ʼn twyfelagtige kontrak, ten bedrae van R1,8 miljoen, hou verband met die verkryging van SAP-lisensies. SAP is ʼn maatskappy wat sagtewarestelsels verskaf.

“Die voorlopige bevindinge dui daarop dat die POF nie die genoemde lisensies gebruik nie, dus kom dit neer op verkwiste uitgawes. Daar bestaan die moontlikheid om die geld terug te kry omdat die POF nie die lisensies gebruik nie en tans is ons nog besig om bewyse bymekaar te maak sodat ons dit aan ons siviele litigasie-afdeling vir oorweging kan verwys.”

Die SOE moet nog bevindings maak oor die geld wat aan kantoormeubels bestee is. Daar word beweer dat ʼn interne ouditverslag aangedui het dat ʼn R36 miljoen‑kontrak vir kantoormeubels skielik tot sowat R40 miljoen gestyg het.

Die eenheid se tussentydse bevinding is dat behoorlike verkrygingsprosesse nie in die huurkontrak van die POF se hoofkantoorgebou in Centurion gevolg is nie.

“Dit blyk dat die POF buitengewone stappe gedoen het om te verseker dat hierdie gebou verkry word. Die ondersoek duur egter voort,” het Lekgetho gesê.

Die POF se huur van sy Johannesburgse kantoor word ook ondersoek.

“Daar was baie afwykings en die voorlopige bevindinge dui daarop dat hierdie kontrak moontlik onreëlmatig toegeken is.”

Die SOE ondersoek ook of diensverskaffers soos hospitale, ambulanse, dokters, kundiges en prokureurs die POF stelselmatig meer geld gevra het en of dit in samespanning met werknemers van die fonds gedoen is.

Lekgetho het gesê die SOE ondersoek ook of werknemers betalings wat vir diensverskaffers bedoel is, na persoonlike bankrekeninge herlei het tot ʼn bedrag van R1,9 miljoen.

Intussen is betalings van sowat R482 miljoen wat aan prokureurs verskuldig is, gestaak terwyl die POF ondersoek of dit wel verskuldig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.