Paniek oor Amerikaanse bank ‘onnodig’

(Foto: Shutterstock)

Die ineenstorting van die Amerikaanse Silicon Valley Bank (SVB) het talle beleggers op hol weens vrese dat dit kan aanleiding gee tot ʼn situasie soortgelyk aan die internasionale finansiële krisis van 2008-’09.

Tydens dié krisis het ʼn aansienlike daling in die Amerikaanse huismark as katalisator gedien vir ʼn finansiële krisis wat in die VSA begin en eindelik wêreldwyd versprei het. Dit het ook uiteindelik tot die sluiting van enkele reusebanke en meer as 300 kleiner banke gelei.

Prof. Waldo Krugell, ʼn ekonoom van die Noordwes-Universiteit, meen hoewel Suid-Afrikaners kan kennis neem van die gebeure, is Suid-Afrikaanse banke waarskynlik nie in gevaar nie.

Krugell sê SVB was ʼn unieke instelling in die opsig dat sy kliënte hoofsaaklik hoëtegnologie-beginmaatskappye was wat geld by hom gedeponeer het. Dié maatskappye het die afgelope ruk self die wind van voor gekry en begin geld onttrek – hul deposito’s by die bank – om aan hul bedryfsbehoeftes te voldoen.

Die geld wat SVB oorspronklik in deposito’s gehou het, het die bank egter nie weer uitgeleen nie; dit is gebruik om Amerikaanse staatseffekte te koop. Rentekoerse het egter begin styg en die waarde van dié effekte het begin daal.

Om sy deure oop te hou, moes hulle die effekte verkoop – maar teen ʼn verlies.

Dit het tot paniek gelei en kliënte het vervaard hul geld begin onttrek en na veiliger hawens begin vlug.

Wat het gebeur by SVB?

SVB staan sedert die 1980’s hoofsaaklik lenings aan nuwe tegnologiemaatskappye in die VSA toe. Die bank was tot verlede week die VSA se 16de grootste bank en meer as $200 miljard (sowat R3,6 biljoen (“trillion”)) werd. SVB is Vrydag gesluit nadat senuweeagtige deposante hul geld op ʼn streep onttrek het wat die Amerikaanse reguleringsowerhede gedwing het om in te gryp. Hulle het dieselfde dag beheer van die bank oorgeneem.

Die VSA se Federal Deposit Insurance Company (FDIC) het reeds aangedui dat hy alle deposito’s by SVB sal waarborg. Dit sluit in deposito’s wat die gebruiklike maksimum gewaarborgde bedrag van $250 000 (sowat R4,5 miljoen) oorskry.

Verlede week se ineenstorting was die grootste van ʼn Amerikaanse bank sedert 2008 en is boonop voorafgegaan deur die likwidasie van Silvergate Bank, ʼn klein streeksbank wat ʼn gunsteling onder veral die kriptogeldeenheid-gemeenskap was.

Sondag het die owerhede ook Signature Bank, die VSA se 21ste grootste bank, gedwing om sy deure te sluit.

Die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed), die FDIC en die tesourie het die naweek in ʼn gesamentlike verklaring egter die versekering gegee dat al SVB se deposante van Maandag “toegang tot al hul geld sal hê”. Die Fed het aangekondig dat hy bykomende geld aan banke beskikbaar sal stel om hulle te help om aan deposante se behoeftes te voldoen. Dit sluit onttrekkings in.

Uitwerking op SA

Krugell sê Suid-Afrika het nie werklik banke soortgelyk aan SVB – met groot blootstelling aan byvoorbeeld hoëtegnologie-beginondernemings of kriptogeld – nie.

Die Suid-Afrikaanse bankstelsel word ook streng gereguleer.

Nietemin het verlede week se gebeure in die VSA ʼn rimpeleffek in Suid-Afrika gehad, sê hy. In Suid-Afrika het die aandele van die land se vier grootste banke gedaal nadat fondsbestuurders kennis geneem het van die gebeure en hul blootstelling aan bankaandele verminder het.

“As jy fundamenteel na Suid-Afrika se banke kyk, is daar nie fout nie. Die gebeure raak nie die gesondheid van die Suid-Afrikaanse banksektor nie,” sê Krugell.

Die Amerikaanse owerhede het boonop blitsig ingegryp om die situasie vinnig in bedwang te bring en die markte sal na verwagting mettertyd bedaar.

“Ons is nie terug in 2008 nie,” sê Krugell.

Bykomende bronne: AFP, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Uitmykoker ·

Die Biden-regime het hier vir hulsef ‘n yslike lat gepluk – eers is inflasie aangeblaas deurmiddel van onverantwoordelike staatsuitgawes wat noodwendig rentekoerse opwaarts gedruk het en die waarde van staatseffekte laat daal het. Nou is die dilemma: indien ‘n verdere verhoging in rentekoerse die bank-sektor noodwendig nog meer sal ontwrig; hoe gaan inflasie in die VSA dan anders onder beheer gebring word as rentekoerse nie verder verhoog kan word nie? Silicon Valley Bank het groot bedrae geld aan die Black Lives Matter beweging bewillig, en die Biden-regime was ook direk betrokke by fondsinsameling vir die bevryding van BLM boewe tydens die onlangse oproer in die VSA; dus gun ek hulle nou hierdie geleentheid om hul prioriteite te heroorweeg .

houopkruip ·

Dankie vir die berig.
Kry net jul “miljoene, miljarde en triljoene” reg.
Afrikaans word nie in hierdie geval “direk” uit Engels vertaal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.