Paniekaankope by vulstasies weens moontlike brandstoftekort

Groot kommer heers onder motoriste oor ‘n moontlike brandstoftekort weens die afgelope paar dae se oproer. (Foto: Maroela Media)

Paniekbevange motoriste het Woensdag tougestaan by talle vulstasies ná berigte dat brandstoftekorte in die land weens voortslepende geweld in KwaZulu-Natal en Gauteng ondervind kan word.

ʼn Brief van die Suid-Afrikaanse Petroleumraffinaderye (Sapref), wat lui dat hy nie bedrywighede in die lig van die oproer kan voortsit nie, het boonop soos ʼn veldbrand versprei en tot selfs groter kommer gelei.

Luidens die brief het Sapref ʼn sogenaamde force majeure verklaar – ʼn klousule in kontrakte wat bepaal dat partye vrygestel word van aanspreeklikheid wanneer ʼn buitengewone gebeurtenis of omstandighede buite hul beheer plaasvind.

“Weens die burgerlike oproer in die land en die ontwrigting van verskaffingsroetes na en van KwaZulu-Natal, het verskaffers van materiaal wat kritiek is vir Sapref se bedrywighede te kenne gegee dat hulle aflewerings aan die raffinadery opskort weens veiligheidskommer oor hul personeel en skade aan hul voertuie op die paaie.

“Sonder die genoemde belangrike materiale en met geen duidelikheid oor hoe lank die onrus gaan duur en normale verskaffing hervat kan word nie, kan Sapref nie bedrywighede by die raffinadery volhou nie. Gevolglik word Sapref gedwing om die moeilike besluit te neem om die raffinadery te sluit,” lui die brief.

Dit is namens Shell en BP Suid-Afrika se petroleumraffinaderye aan hul klante uitgestuur.

Sapref is Suid-Afrika se grootste raffinadery en verskaf 35% van die land se brandstof aan handelaars.

ʼn Vulstasie-eienaar van Gauteng het Woensdag gesê sy sou onder normale omstandighede genoeg brandstof gehad het. Weens die toeloop van motoriste gaan dié voorraad waarskynlik veel vinniger as verwag uitgeput wees.

Sy waarsku ook dat dit ʼn kopseer kan veroorsaak vir motoriste wat móét ry en nie net opvul omdat hulle tekorte vrees nie.

Matebello Motloung, ʼn woordvoerder van Sasol, het gesê hulle sal binnekort die jongste inligting oor die situasie bekend maak. Woordvoerders van BP en Shell kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, sê Sapref se besluit gaan ongetwyfeld ʼn uitwerking op die reeds kritieke brandstofsituasie in die land, en veral die binnelandse provinsies hê.

“Die primêre oorsaak vir die sluiting word direk verbind aan veiligheidskommer wat spruit uit die misdadige geweld, plundery en opstande wat KwaZulu-Natal lamgelê en nou na ander provinsies versprei het.

Mileham sê Sapref se sluiting, tesame met dié van Astron, Enref en Petro SA wat reeds gesluit is, beteken dat slegs twee raffinaderye, wat minder as 30% van Suid-Afrika se gewone brandstof produseer, tans operasioneel is.

Dit kan lei tot ʼn verhoogde vraag na ingevoerde brandstof wat na die binneland vervoer moet word, na alle waarskynlikheid deur Transnet se pypleiding van Durban na Gauteng.

“Gegewe dat die pypleiding loop deur sommige van die mees geraakte gebiede in terme van oproer en plundery – en dit in die verlede ook al verskeie kere deurgeloop het onder diefstal – lyk dit waarskynlik dat dit óók gesluit gaan word.”

Mileham sê tensy die situasie normaliseer, gaan daar “waarskynlik brandstoftekorte in die kort na mediumtermyn wees, veral in Gauteng, Noordwes, Limpopo en Mpumalanga.

Die DA het ook na die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, gekap en sê dié is spoorloos.

“Dit is belangrik dat min. Mantashe stappe doen om ʼn konsekwente en lewensvatbare voorraad brandstof na alle Suid-Afrikaanse provinsies te verseker.”

Mileham sê die minister moet ʼn plan voorlê oor hoe die raffinaderye se kapasiteit herstel en verseker gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frik ·

“Die DA het ook na die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, gekap en sê dié is spoorloos.”
Weereens is die DA heeltemal onredelik in hulle verwagtinge. Hoe kan hulle van Mantashe verwag om aandag te gee aan onbenullighede soos dreigende brandstoftekorte. Soos die res van die ANC leierskap lei hy met trots reg van agter.

Elinette ·

Ek is ewe skielik BAIE bly dat ek hier in die Wes-Kaap woon ………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.