Paniekknoppie red moontlik sakeman se lewe

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Scott Rodgerson/Unsplash)

’n Buitelander wat die naweek by sy onderneming in Boksburg aan die Oos-Rand ontvoer is, is ’n dag later in Vosloorus – minder as 20 km daarvandaan – opgespoor, danksy die Automobiel-Assosiasie (AA) se Rem-i Amica-paniekknoppie.

Die man se vermeende ontvoerders kon boonop in hegtenis geneem word nadat die owerhede ’n leidraad vanaf die opsporingstoestel opgevolg het.

‘Volg die spoor’

Die CASi-inbelsentrum, deel van die AA se noodreaksiedienste-operasie, het Saterdagmiddag ’n panieknoodsein van die buitelander se toestel ontvang en gewapende reaksiebeamptes is uitgestuur, verduidelik Jaco de Villiers, besturende direkteur van CASi.

Regstreekse bywerkings van die sakeman se ligging het egter aangedui dat die toestel aan’t beweeg was. Sekerheidspersoneel kon die regstreekse ligging opspoor, maar die toestel is later verlate op ’n stortingsterrein in Vosloorus gevind.

’n Tweede panieknoodsein is vanaf dieselfde stortingsterrein gestuur, vermoedelik oomblikke voordat die ontvoerders die toestel ontdek en weggegooi het.

Die spoor het van daar af doodgeloop.

Die span het dadelik begin om die toestel se geskiedenis te hersien, terwyl ander sekerheidsmaatskappye in die omgewing gevra is om op die uitkyk te wees vir onlangs gesteelde of gekaapte voertuie.

“Ons het ’n ontleding gedoen van die toestel se bewegings vanaf die oomblik dat die oorspronklike panieknoodsein gestuur is, tot die tweede panieknoodsein, en tot wanneer die spoor doodgeloop het,” sê De Villiers.

‘Die leidraad’

Die span van CASi het tydens hul ontleding agtergekom dat die toestel vinnig aan’t beweeg was, maar dat die toestel vir ongeveer twee minute op ’n spesifieke plek stilgestaan het. Dié ligging was nie die ligging van die slagoffer se huis- of werkadres nie en het ’n belangrike leidraad verskaf wat die span met misdaadintelligensie gedeel het.

Misdaadintelligensie het op hierdie leidraad reageer en ’n span wetstoepassingsowerhede, waaronder ’n private sekerheidsmaatskappy, die Johannesburgse Metropolisie se K9-eenheid en die Gautengse provinsiale ondersoekeenheid, is na ’n huis in Vosloorus.

Dit is hiér waar die buitelander en die vermeende ontvoerders opgespoor is.

Willem Groenewald, hoof- uitvoerende beampte van die AA, sê hy is dankbaar dat die slagoffer so ’n toestel gehad het wat die AA in staat gestel het om so ’n belangrike rol in sy tuiskoms te speel.

“Persoonlike veiligheid is nie meer ’n luukse nie en elke enkele Suid-Afrikaner behoort toegang te hê tot die een of ander vorm van noodreaksie, of dit nou deur ’n selfoon of ’n selfstandige toestel is. Hierdie voorval onderstreep weer die belangrikheid om beheer van persoonlike veiligheid as ’n prioriteit te neem, vanweë die voordele wat dit kan inhou.

“Sonder die kritieke inligting vanaf die slagoffer se Rem-i-toestel, sou hy dalk nie opgespoor kon word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.