Parlement begin proses bou om OB te verwyder

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die parlement begin hierdie week met die daarstel van ‘n proses om die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, uit haar pos te verwyder. Of dit gaan gebeur is ‘n ander saak.

Tans bestaan daar geen vasgestelde proses om ‘n OB te verwyder met wie die parlement as oorsigmeganisme ontevrede is nie. Dit is ‘n tekortkoming in die Suid-Afrikaanse grondwetlike demokratiese opset.

Die hoofsweep van die DA, John Steenhuisen, het dus nou konsepdokumente by die parlementêre reëlskomitee ingedien om so ‘n proses te skep. Dis ‘n geformaliseerde dokument, maar in praktyk vereis dit eerstens dat ‘n mosie deur die Nasionale Vergadering aanvaar moet word om ‘n veelpartykomitee daar te stel wat ontevredenheid met die Openbare Beskermer kan ondersoek.

Ontevredenheid met die OB kan op drie gronde tot haar verwydering lei, naamlik onbevoegdheid (as sy te siek word om haar werk te doen), onbekwaamheid (as sy die hele tyd foute maak) of wangedrag.

Die veelpartykomitee wat die kwessie dan moet ondersoek kan insette ontvang van ‘n onafhanklike paneel kundiges, wat byvoorbeeld afgetrede regters kan insluit.

Nadat die veelpartykomitee dan tot ‘n meerderheidsbesluit gekom het aangaande die voortgesette geskiktheid al dan nie van die OB vir die amp, moet die Nasionale Vergadering die komitee se aanbeveling aanvaar of verwerp.

Die verwagting is dat die konsepreëls grootliks aanvaar sal word, hoewel daar twee aspekte is wat omstrede mag wees. Eerstens bepaal die voorgestelde konsepreëls dat die helfte van die lede van die veelpartykomitee lede van die opposisie moet wees, wat afwyk van die beginsel van proporsionaliteit wat gewoonlik die Suid-Afrikaanse parlement rig.

Tweedens is daar geen aanduiding of ‘n hoër drempel as 50% stemme in die Nasionale Vergadering nodig sal wees om die OB uit haar pos te verwyder nie. In die afwesigheid van enige gespesifiseerde drempel sal 50% plus een stem in die Nasionale Vergadering genoeg wees om die Openbare Beskermer te verwyder, en party mense mag aanvoer ‘n hoër drempel moet vereis word.

As die konsepreëls uiteindelik aanvaar word, is dit nog nie te sê die daardeur geskepte proses sal suksesvol teen Mkhwebane gebruik word nie. Hoewel sy baie teenstanders het, is die EFF uitgesproke ondersteuners van haar en mag die ANC onwillig wees om die onenigheid wat oor haar binne die ANC bestaan, tot openbare verdeeldheid te laat ontwikkel met die aanpak van so ‘n proses.

Die proses sal egter bestaan as die reëls daarvoor bepaal word, en dit is waarmee die reëlskomitee van die parlement van vandeesweek af besig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Rooikappie het nou die Bos be tree!! Wat nou?

Andrea van Vuren ·

Hoekom is dit so ‘n lang uitgerekte pynlike proses. Kan die OB nie die boodskap kry nie. Dit het drie jaar geneem om van Zuma ontslae te raak! Tyd kos geld!

Gemaskerde Sopbeen ·

Die wet is gekompliseerd en ingewikkeld. Hierdie land kort nie ‘n openbare beskermer nie….dit nodig ‘n paneel van openbare beskermers, nie om die wet korrek te interpreteer nie, maar ook om die werks-las te kan hanteer.

Opistophthalmus ·

En die landswette toe te pas. Almal onder dieselfde kam skeer, Sonder voorbehoud

Michael P ·

Om haar uit haar pos te verwyder is seker nie n probleem nie. Die probleem is die GOLDEN HAND SHAKE.

Alida X ·

O my goeiste!
Nou is dit weer ‘n veelpartykomitee en onafhanklike paneel kundiges.
Teen die tyd dat alles bespreek en ondersoek en aanbeveel en oor gekoukus is sal haar termyn al verstryk het.
Dan moet die onafhanklike komitee ook nog verkieslik uit regters bestaan. Hoogsbesoldigde mense wat hulle met sulke twak moet besig hou.
Laat die regskenners eerder in die howe wees sodat sake afgehandel kan word en nie net op uitstel bly nie. Van uitstel kom afstel en so word die kaders nie vervolg nie.
Dit is om van siek te word.

Kobus ·

Rerig???? Moet jy so sukkel om van onbekwame mens ontslae te raak.

Pieter ·

As sy in die privaat sektor gewerk het was sy lankal gevire hulle moet eers verby ace kom

kolla ·

Dankie tog vir die DA as dit nie vir hulle was nie het almal nog gewonder wat om nou te doen.

Robert ·

Die wat haar aagestel het kan haar mos maar afbetaal ook. Dan moet hulle ook afbetaal word,want hulle is net so onbevoeg soos sy.
Ou Cyril kan dit seker maar bekragtig.

Jerry ·

“What you see is not what you get”! Dit geld reg deur die bank vir alle anti-kolonialisme instellings en politieke groeperings. Hulle staan aan dieselfde kant van die draad, is deel van dieselfde toneelgroep en speel in dieselfde misleidende toneelspel en lei die publiek se aandag af van die werklikheid wat korrupte politieke vuilspel, de-kolonisasie en nasionalisering behels. Wanneer n toneelstuk klaar deur n persoon opgevoer is, is dit tyd vir herontplooiing na n volgende toneelstuk. Soos die tyd verloop raak dit nodig om van die toneelstukke te herhaal, maar met nuwe rolspelers!

Kas ·

Is sy regtig onbevoeg of is sy ”n vlieg in iemand se bankrekening Dink maar aan haar aanbevelings oor VBS bank en die CR 17 skandaal.Die Estina projekPolitiesie het daar ingemeng.Magashule word deur iemand beskerm want hy is nog erger as Zuma.

John ·

Gaan hulle probeer of van die hondjie of die goue halsbandjie ontslae te raak? Dit gaan vir jare sloer want the more things change the more things stay the same… Talk is expensive in SA… We pay dearly for nothing done…

colleen ·

Daar is talle tekortkominge in die grondwet. Van wanneer af steur die ANC hulle aan die grondwet?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.