Parlement brand, maar ‘niemand kyk na kameras’

(Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die veiligheidskameras in die parlementêre kompleks het wel gewerk toe ʼn brand Sondag daar uitgebreek het, maar volgens die minister van openbare werke en infrastruktuur het niemand dit dopgehou nie.

Min. Patricia de Lille het Maandag by ʼn mediakonferensie oor die verwoestende brand by die parlement gesê die polisie is verantwoordelik om dié kameras dop te hou, maar dat dit nie gedoen is nie.

Volgens De Lille word daar ook ondersoek ingestel na waarom niemand vroeër opgemerk het dat iemand toegang tot die kompleks verkry het nie. “Daar was beslis ʼn veiligheidsbreuk,” sê De Lille. Die polisie sal dit ondersoek.

Die geraakte geboue sal so gou moontlik aan die polisie vir verdere ondersoek oorhandig word en ʼn span ingenieurs, onder wie elektriese, strukturele en meganiese ingenieurs, het reeds in Kaapstad aangekom om die kompleks te inspekteer. Omdat die temperatuur op sommige plekke in die gebou steeds sowat 100 °C is – dit was vroeër tot 400 °C – word hommeltuie intussen ingespan om ondersoek in te stel tot dit veilig is vir kenners om die toneel te betree.

ʼn Voorlopige verslag oor die omvang van die skade sal teen Vrydag beskikbaar gestel word, sê De Lille. Dit sal ook ʼn raming van die koste verbonde aan herstelwerk insluit.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die parlement, sê vrae moet gevra word oor hoe brandskade aan die Ou Raadsaal en die nuwe gedeelte van die kompleks versprei het, sonder dat skade aan die gang wat die twee dele verbind, aangerig is.

Die Nasionale Vergadering-gedeelte is heeltemal verwoes, selfs die plafon het nou ingestort. Hoe is dit moontlik dat die brand in die Ou Raadsaal begin en ʼn pad na die nuwe raadsaal vind, sonder skade aan die gang wat lei na die nuwe raadsaal?

“Ons is nie forensiese ondersoekers nie. Hulle is die beste mense om antwoorde op die talle vrae wat ons as voorsittende beamptes het, te gee.”

In Maart verlede jaar, toe ʼn brand ook in die kompleks uitgebreek het, is die oorsaak aan ʼn elektriese fout toegeskryf. Mapisa-Nqakula het egter teen bespiegeling gewaarsku oor wat die oorsaak van die jongste brand is.

Oor bewerings van die vakbond Nehawu dat die sekerheidsbegroting van die parlement ingekort is en beamptes onder meer nie meer nagskofte gewerk het nie, sê Mapisa-Nqakula sy het verneem daar was geen sodanige besluit om die werksure van veiligheidspersoneel te verminder nie. “Of die polisie sonder die medewete van hulle seniors nie aan diens was nie … ons sou verwag dat die brand vinnig aangemeld sou word.

“Dit laat jou met baie vrae.”

Amos Masondo, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, sê die voorsittende beamptes van die parlement is diep bedroef deur die skade aan die kompleks. Die Nasionale Vergadering is heeltemal in die brand verwoes, terwyl omvattende skade aan verskeie ander geboue aangerig is.

Sommige belangrike gedeeltes van die kompleks kon wel gered word. Dit sluit in die parlement se biblioteek, die museum – waar verskeie kunswerke en erfenisstukke gehuisves word – asook die Keiskamma-tapisserie op die grondverdieping van die Ou Raadsaalgebou. Die Hansard-transkripsies en ander geskiedkundige rekords het ook behoue gebly.

Die parlement het ook begin om sommige belangrike rekords te digitaliseer en daar is geen aanduidings dat die twee datasentrums – die primêre datasentrum en ʼn rugsteunsentrum – deur die brand geraak is nie.

Die staatsrede en die begrotingsrede sal intussen soos beplan voortgaan en die parlement sal sy werk soos gewoonlik voortsit, sê Mapisa-Nqakula. Die minister het ook aanbiedinge van hulp geloof, veral dié van die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, dat die Stad Kaapstad sommige van sy geriewe vir die voortsetting van die parlement se werk beskikbaar sal stel. Die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum het ook aangebied dat sy geriewe gebruik kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Vlooitjie ·

Ek wonder of enigiemand aanspreeklik gehou gaan word vir als wat nou so uit die kas tuimel.

Wielspore ·

De Lille moet trekpas kry, eers is dit die veiligheids heining tussen SA en ZIM wat ondersoek word, nou is dit die veligheid van die parlementsgebou.
As jy onbevoeg is, dan is jy onbevoeg.

KB ·

Onbevoegde De Lille, onbevoegde SAPD…onbevoegde parlement.
Wat is volgende?!

Kobus ·

Stem saam met Wielspore. Sy raas net ( soos meeste van haar kollegas ) en dan dink sy sy het haar werk gedoen. Maar soos ons president, neem hulle altyd na die tyd met verbasing kennis van wat om hulle aangaan. Good Party = Good for nothing !

annie ·

So nou is dit die polisie se skuld? As die betreder by ‘n venster ingeklim het, hoe het hy by die ‘n hek ingekom as die brandbestryders nêrens kon inkom nie. Hulle gaan lank soek na die sigaretstompie wat glo die brand veroorsaak het. Ons moet nie spekuleer nie. Hoekom nie? Soos dat die staat sakke vol geld het vir duur begrafnisse maar nie genoeg om die parlement te beveilig nie. En nou gaan dit ons eers kos.

boerie ·

Nou dat dit hulle self raak nou word daar gespring om te beweer dat die polisie nie hul werk doen nie, iets wat die publiek lank al ondervind.

Mariana ·

Hoe uiters pateties is die spul nie? Onbevoeg om hul werk te doen en een wil ander skuldig maak. Is daar dan geen intergriteit tussen die verantwoordelikes nie. Nee blykbaar nie

Marius ·

Al die duur kunswerke en tappiseries moet verwyder word en elders in veilife bewaring geplaas word voordat dit vernietig word.

Dries ·

Dan juig die EFF oor hierdie tragedie. Hoe tragies is dit dat ons sulke slegte mense in ons regering kan he. Net die liewe Here kan ons red in hierdie land

Jacobus ·

Vra vir China om ‘n nuwe parlement in Soweto te bou.
Die ANC se rekord om iets te herstel, ( hulle het nog niks herstel nie), sal beteken dat daar geen parlementsgebou selfs oor 20 jaar gaan wees nie. Ons gaan maar terug in tyd, en die lede vergader onder ‘n groot boom, met ‘n weerligafleier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.