Partytjie na begrafnis: Twee dood, 11 vas

Argieffoto: Kent Williamson

Twee mense is dood en 11 verdagtes is in hegtenis geneem nadat ʼn skietgeveg tussen ʼn groep mense en polisiebeamptes uitgebreek het na afloop van ʼn begrafnis in Mpumalanga.

Die voorval het by die sportterrein in die Marite-gebied tussen Bosbokrand en Hazyview plaasgevind. Volgens brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het ʼn groep mense ʼn partytjie gehou na afloop van die begrafnis.

“Hulle het motors ‘gespin’ en lukraak skote afgevuur. Die polisie is in kennis gestel van die gebeure en het dadelik gereageer.”

Daar is op polisiebeamptes losgebrand met hul aankoms op die toneel. “Die polisie het teruggeskiet en twee mense is noodlottig gewond. Twee polisebeamptes en nog ʼn persoon is beseer.”

Die beseerdes is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling waar die verdagte onder polisiebewaking is.

ʼn Ongelisensieerde vuurwapen is in die besit van een van die oorledenes gevind. Die polisie het 11 verdagtes, tussen 25 en 35 jaar oud, in hegtenis geneem en ook op ammunisie beslag gelê.

Sake van poging tot moord, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie en kwaadwillige saakbeskadiging word ondersoek.

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval ten sterkste veroordeel en ʼn beroep op gemeenskapslede gedoen om gehoor te gee aan die afsonderingsregulasies.

“Ons kan nie toelaat dat wetteloosheid heers of ongestraf bly nie,” het Zuma gesê.

Die verdagtes sal Dinsdag in die periodieke hof in Calcutta verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

johanf ·

Dit is nou ń affêre, makietie na ń laaste eerbetoning, nou moet daar weer 2 begrafnisse gehou word……
Wat nog….?

Prikkie ·

Kan ‘n mens dit nou vir enigiemand oorvertel?

Stomgeslaan.

Sarel ·

Tyd vir die Polisie om te sê genoeg is genoeg onsxgaan nie langer misdadigers se teiken wees nie.

Lorna ·

Nou wonder ek net hul moet nou dubbel party hou vir die 2 wat doodgeskiet is mmmmmmmmmm

Elsabe ·

Hoe se die ‘onder polisie bewaking’-beseerde waar kry hulle die ongelisensieerde wapen?

Niklaas ·

Dit laat nou wonder of drank dalk beskikbaar was en daar misbruik was? Nugter mense sal mos nie so roekeloos en onverantwoordelik skote aftrek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.