Pas op, kapers hou jou dop

Kenners gee raad oor hoe om jou risiko’s te verminder te midde van ‘n styging in kapingsvoorvalle. (Argieffoto)

Teendiefstaltoestelle soos immobiliseerders en ratslotte maak dit al hoe moeiliker vir boewe om voertuie te steel – dít het bygedra tot ʼn beduidende toename in voertuigkapings. Dit kan ook duidelik gesien word in die polisie se jongste misdaadsyfers wat onlangs bekend gemaak is.

Richard Brussow, stigter van die National Hijack Prevention Academy (NHPA), sê toenemende werkloosheid en afleggings dra by tot dié neiging. Gekaapte motors is maklike geld vir goed gevestigde sindikate wat die voertuie by kapers koop.

“Voertuigkaping is ʼn georganiseerde onderneming, word deeglik beplan en volgens sakebeginsels bedryf,” sê Brussow.

Dís wat die statistieke sê

Volgens die polisie se jongste statistieke het motorkapings tussen Oktober en Desember verlede jaar met 7,2% toegeneem in vergelyking met dieselfde tydperk ʼn jaar tevore. Altesame 4 794 motorkapings is net in hierdie drie maande aangemeld.

Sedans (toe motors) en luikrugmotors is kapers se voorkeurteikens en 1 559 sedans en 844 bakkies of paneelwaens is in die tydperk van drie maande gekaap.

Oktober – Desember 2020
ProvinsieKapingsvoorvalleStyging/Daling
Oos-Kaap277-2,1%
Vrystaat600%
Gauteng2 346+5,9%
KwaZulu-Natal791+4,5%
Limpopo136+22,5%
Mpumalanga322+16,7%
Noordwes145+6,6%
Noord-Kaap9+12,5%
Wes-Kaap708+14,9%

 

Volgens die polisiesyfers kom die meeste kapings in townships voor: Altesame 1 003 voorvalle is in formele en informele townships aangemeld, gevolg deur voorstedelike woonbuurte waar 842 motorkapings binne die driemaandetydperk aangemeld is.

Die versekeraar Dialdirect sê hy het kennis geneem van ʼn kommerwekkende 20%-styging in kapings, met tot 30 000 voorvalle wat jaarliks landwyd aangemeld word.

(Argieffoto)

“Daardie oomblik dat jy stilhou om ʼn pin by die hek in te sleutel of huiwer terwyl jy na jou afstandbeheerknoppie of personeeltoegangskaart soek, open die deur vir ʼn kaper om toe te slaan,” waarsku Bianca de Beer, ʼn woordvoerder van Dialdirect.

“ʼn Paar sekondes is al wat nodig is.”

Mohamed Ameen Dabhelia, woordvoerder van die veiligheidsdiensverskaffer Vision Tactical, sê ook kapers word al hoe meer uitgeslape.

“Die lewe keer stadigaan na normaal terug. Daar is meer voertuie op die paaie en kapers gebruik beslis die geleentheid om op niksvermoedende motoriste toe te slaan.

“In baie gevalle word mense van winkelsentrums af op hul padroete gevolg – hulle word geteiken omdat hulle duur klere of juwele dra.”

Brussow sê hoewel talle mense slagoffers van kapings by hul huise of ondernemings se toegangshekke is, dui dit nie noodwendig op ʼn neiging dat méér mense juis hier voorgelê word nie.

“Weens die geweldige toename in kapings gebeur baie voorvalle gevolglik ook by toegangshekke.

“As ʼn rower jou volg, weet hy egter nie noodwendig waar jy gaan eindig nie. Dit is dalk toevallig dat jy by jou sekuriteitsoord se hek stilhou.”

Hy sê wagte is dikwels ongewapen en wil nie in ʼn geveg met ʼn bende kapers betrokke raak nie. Hulle skrik kapers gevolglik nie noemenswaardig af nie.

Brussow sê rowers teiken beslis spesifieke voertuie – meestal voertuie waarvan daar baie op die paaie is. ʼn Polo Vivo, byvoorbeeld, is ʼn gereelde teiken en ʼn gekaapte Vivo word vir ʼn skamele R10 000 deur die kapers verkwansel.

Wanneer ʼn kaping ʼn huisrooftog word

(Argieffoto)

Brussow sê die goue reël is om altyd te verseker dat jou motorhek behoorlik toe is agter jou wanneer jy jou erf binnery.

Hy waarsku ook dat mense alles moontlik moet doen om te verhoed dat hulle “deel” van die aanval word. ʼn Kaper wat toeslaan, gaan vat waarvoor hy gekom het – of dit nou op ʼn gewelddadige manier is of nie. Die beste raad is dus om glad nie as ʼn bedreiging voor te kom nie en jou voertuig te laat gaan.

“Jy skarrel dalk nog in die motor rond terwyl die hek agter jou steeds oop is. Hoe dieper jy egter in die erf inbeweeg met die hek oop – sommige motorhuise het deure wat in die huis ingaan – hoe dieper trek jy die rowers in jou perseel in. En dít is wanneer ʼn kaping ʼn huisroof kan word.”

Hy sê die beste raad is om te help verseker die rowers kom so gou moontlik weg. Met ʼn vinger op ʼn vuurwapen se sneller wil jy ʼn kaper geen rede gee om te skiet nie – selfs al word die skoot nie doelbewus afgevuur nie.

Kapers en jou kinders

Dit is volgens Brussow ook net in uitsonderlike gevalle dat kinders deel van kapers se bedrywighede word. ʼn Buurman skreeu dalk byvoorbeeld wanneer hy onraad merk en die kapers jaag summier met ʼn vasgegordelde kind weg.

“Die kans dat hulle jou kinders gaan vat, is ongelooflik klein en gebeur seker net vyf of ses keer per jaar.”

Die kind word in só ʼn geval gewoonlik ook vinnig langs die pad afgelaai omdat ʼn ontvoerde kind veel meer aandag trek as ʼn gekaapte voertuig.

Volgens die polisie se statistieke het motorkapings of pogings om ʼn motor te kaap tot 18 moorde, 88 voorvalle van poging tot moord en vier ernstige aanrandings tussen Oktober en Desember verlede jaar aanleiding gegee.

“Hoe minder bedreiging jy inhou, hoe groter is jou kans op oorlewing,” sê Brussow.

Hy sê kapers beskou vroue in die algemeen as ʼn geringer bedreiging en veral mans wat oorval word, moet verseker dat hulle nie dreigend voorkom nie. “Iets kleins soos ʼn skielike weerkaatsing of die losknip van ʼn sitplekgordel kan tot ʼn skoot lei. Doen alles moontlik om te verseker dat hy nie skrik nie.”

Kapers slaan dán toe

Die NHPA se syfers* wys dat die meeste kapings op ʼn Vrydag plaasvind.

Motoriste is op Vrydae dikwels meer ontspanne en daar is groot hoeveelhede verkeer op die pad.

Kapers slaan dan toe, blaas die geld wat hulle vir die gekaapte voertuig gekry het oor die naweek en begin teen Dinsdag en Woensdag weer na ʼn nuwe slagoffer soek.

“Dit is duidelik dat voertuigkapers deur gulsigheid en ʼn onversadigbare drang na al hoe meer gerief, eerder as behoefte, gemotiveer word,” sê Brussow.

“Die onversadigbare drang na mag is nog iets wat onder rowers opgemerk word. Die magsbasis berus in die toegang tot vuurwapens: Toegang tot ʼn vuurwapen dwing almal om gehoor te gee, óf die gevolge te dra.”

Die beste raad, sê Brussow, is om tydens ʼn kaping te besef dat jou lewe uiteindelik veel meer werd is as jou voertuig.

*Grafiek: National Hijack Prevention Academy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Louis ·

So, ons moet nou maar net die kapings en diefstalle gelate aanvaar? Mag ons nie meer ons eiendom beskerm nie?

Cindy ·

natuurlik Louis, hoe dan anders? Hy is mos geregtig op jou goed waarvoor jy hard werk & betaal!

Jana ·

Louis, jou gesin soek jou, nie die kar nie. Wat gaan gebeur as hulle jou skiet en jy gaan dood? Glo my, jou geliefdes gaan wens jy het maar liewer net die kar laat gaan. ‘n Kar kan opgespoor word of jy kan ‘n nuwe een koop, maar jy kan nie vervang word nie.

Carin ·

Ry agteruit in jou erf in. Stop in die straat Ry agteruit in jou erf in. Dan kan jy sien wat gebeur voor jou en jou kanse om weg te kom is baie groter

Marisa W ·

Dis ‘n baie slim en eenvoudige plan Carin – ek gaan dit beslis begin toepas. Baie dankie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.