Pasgebore baba in Limpopo vermoor

Argieffoto (Foto: oknesanofa/Pixabay)

Die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, lt. Genl. Thembi Hadebe, het ʼn onmiddellike ondersoek gevra na die gewelddadige moord van ʼn pasgebore baba.

Lede van ʼn gesin by ʼn huis in Ga-Mashabela in Masemola het Donderdagoggend omstreeks 06:00 op die baba se liggaam afgekom. Dit was in ʼn plastieksak toegedraai en is op hul voorstoep gelos. Die polisie is dadelik ontbied en het ondersoek ingestel.

“Die babadogtertjie, vermoedelik slegs ʼn dag oud, is verwurg voor sy in die sak geplaas is,” sê lt.kol. Malesela Ledwaba, woordvoerder van die polisie. “Die liggaam het reeds begin ontbind. Die ma van die baba is nog nie bekend nie.”

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en die omstandighede rondom die voorval.

“Dit is ʼn gruwelike en ontstellende voorval,” het Hadebe bygevoeg. “Die ondersoekbeamptes moet meedoënloos die verantwoordelike verdagtes soek wat vir dié barbaarse daad verantwoordelik is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.