Die departement van gesondheid het Dinsdag gesê hy stel ondersoek in ná ʼn 63-jarige manlike pasiënt dood is toe ʼn ander pasiënt hom by ʼn hospitaal in Empangeni aangeval het.
Nomagugu Simelane Zulu, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, het gesê die saak word dringend ondersoek om te bepaal of dit nie verhoed kon word nie.
Die pasiënt is Sondagaand omstreeks 23:00 by Ngwelezane-hospitaal lukraak aangeval terwyl hy geslaap het.
“Die 51-jarige verdagte het Saterdag vir die eerste keer by die hospitaal opgedaag en is Sondag as ʼn pasiënt opgeneem. Daar is in hierdie stadium geen bewyse dat die vermeende oortreder sielkundige probleme het nie,” het Simelane gesê.
Sy het gesê personeel by die hospitaal, wat aan diens was, het ʼn struweling en gille gehoor en dadelik ondersoek ingestel. Die slagoffer is ernstig aangerand nadat die verdagte hom met sy vuiste bygedam het. Sekuriteit het vinnig die twee mans geskei en die slagoffer het behandeling ontvang deur verpleërs en dokters. Pogings om hom by te bring was tevergeefs. Hy het aan sy beserings beswyk.
Die ander pasiënt is verdoof en in isolasie geplaas. Die saak is by die polisie aangemeld en die verdagte is onder polisiebewaking gehou.
Die hospitaal was deurgaans in gesprek met die familielede van die oorledene en beradingsdienste is gereël vir die personeel wat aan die voorval blootgestel is.
“Ons sal met die polisie en die familie van die oorledene saamwerk om die saak op te los. Ons betuig ons innige meegevoel met die familie en vriende van die oorledene,” het Simelane bygevoeg.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
4 Kommentare
Ongelooflik. As iemand my 25 jaar gelede vertel dat so iets in ons mooi land kan gebeur, sou ek in hulle gesig gelag het.
Smaak my almal is nie ewe siek nie …..
Laat ek maar liewer niks sê oor KZN se King Edward nie! Die swakste sorg wat ek nog ooit beleef het en dit aan een van ons senior burgers! Na n baie slegte val, is sy opgeneem met verskeie breuke, bloeding op die brein en talle wonde. Om kort op te som – hierdie ouer dame sit vandag met ontformde hande en arms agv die dokters en verpleeg personeel se nalatigheid! Sy is nie eens meer instaat om haarself aan te trek nie! As ek nie die gebeure Met my eie twee oë gesien het nie, sou ek maar hard… Lees meer »
Nerens is jy veilig nie. Net nerens…