‘Pasiënt’ in rolstoel help wagte by kliniek beroof

Die Gugulethu-gemeenskapsgesondheidsentrum. (Foto: Google)

Veiligheidswagte by ʼn gesondheidsfasiliteit in die Wes-Kaap is Dinsdag deur twee mans beroof wat hulle as pasiënte voorgedoen het. Een van die mans het selfs in ʼn rolstoel aangekom voor hy opgespring en ʼn vuurwapen op die wagte gerig het.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand sê personeel by die Gugulethu-gemeenskapsgesondheidsentrum is in die vroeë oggendure oorrompel.

“Twee mans, een in ʼn rolstoel wat deur die ander een gestoot is, het toegang tot die perseel verkry deur hul voor te doen as pasiënte wat gesondheidsorg benodig,” sê die departement.

“Nadat die veiligheidswagte die hek oopgemaak het, het die mans vuurwapens op hulle gerig. Nog twee mans het daarna die perseel binnegekom.”

Die vier mans het die wagte beroof en gevlug. Niemand is in die voorval beseer nie, maar die departement sê die wagte is erg getraumatiseer.

“Almal by die fasiliteit is berading aangebied en hulle sal deurlopend ondersteun word.”

Die departement sê dit is betreurenswaardig dat misdadigers gesondheidsfasiliteite teiken wat kwesbare mense help.

“ʼn Gesondheidsfasiliteit is ʼn plek van genesing waarheen diegene wat mediese sorg benodig kan gaan. Dit mag nie in enige samelewing as ʼn maklike teiken vir misdadigers beskou word nie,” sê die departement.

“Hierdie voorval was duidelik ʼn voorafbeplande aanval op die kwesbare mense in die gemeenskap. Hulle is ʼn gevaar vir die samelewing en moet vervolg word.”

Die departement het reeds die kringtelevisiebeeldmateriaal aan die polisie oorhandig met die hoop dat die verdagtes vinnig vasgetrek word.

Dr. Nomafrench Mbombo, LUR vir gesondheid in die Wes-Kaap, het die voorval ten sterkste veroordeel.

“Ons gesondheidsfasiliteite is ʼn noodsaaklikheid vir gemeenskappe wat behoorlike gesondheidsorg in ʼn veilige ruimte kan kry. Hierdie optrede ondermyn nie net ons fasiliteite se vermoë om te funksioneer nie, maar plaas ook ons ​​personeel en pasiënte se lewens in gevaar.

“Ek hoop die polisie sal hierdie saak prioritiseer sodat die oortreders boet vir hul dade.”

Mbombo sê hoewel die departement spook om alle gesondheidsfasiliteite te beveilig, is hulle ook afhanklik van die gemeenskap om alarm te maak as daar dalk veiligheidsrisiko’s opduik.

“Ons het almal die reg op gesondheidsorg, en ons moet saamwerk om hierdie diens te beskerm,” sê sy.

“Hierdie voorvalle het verreikende gevolge aangesien getraumatiseerde personeel nie in staat is om terug te gaan werk toe voordat hulle emosioneel ten volle herstel het nie. Dit kan weer beteken dat daar minder gesondheidsorgwerkers is om na siekes om te sien.”

Die departement het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om met enige inligting oor die voorval na vore te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Shakespeare ·

Met ‘n regering soos wat ons het, het jy nie vyande nodig nie. VERROT tot op die been. Hulle ondersteun kriminele grootskaals ten alle tye. BOOS verby.

Misky ·

Hulle word net skelmer en meer uitgeslape by die dag. Niemand sal tog nou iemand in ‘n rolstoel vermoed of verdink nie, totdat hy opspring en ‘n geweer op jou rig.

As die skelms darem hulle denkvermoë tot goeie gebruik kon sit, sou ons land vooruit kon beweeg en baie entrepeneurs oplewer.

Di ·

Kyk as dit by skelm streke kom is hul BAIE intelligent. Wens hulle wil so intelligent wees om eerder te werk vir hulle geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.