Patoloog getuig oor ‘vars wonde’ net voor Chevonne se dood

Rochelle Botha en Stefan van Niekerk (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

’n Patoloog wat verlede jaar die nadoodse ondersoek op Chevonne Rusch se liggaam gedoen het, het Maandag in die hooggeregshof in Palm Ridge, Gauteng, getuig dat dié tweejarige van kop tot tone beserings opgedoen het.

Dr. Emefa Abra Apatu het altesaam 49 wonde, kneusplekke, skaafplekke en letsels reg oor die tweejarige se liggaam aangeteken.

Volgens Apatu is meeste van dié beserings binne die bestek van ’n paar ure tot ’n dag voor haar dood opgedoen. Sy het tydens haar getuienis daarna as “vars wonde” verwys.

Die beserings was duidelik op die kleuter se gesig, kopvel, arms, buikwand, lae rug, bene en voete.

Die nadoodse ondersoek het bevind dat Chevonne diep kopvelbloeding met onderliggende binneskedelse bloeding in die serebrale korteks (dit wil sê bloeding op die brein) opgedoen het. Daar was verder nie enige inwendige beserings nie.

Op adv. Riana Williams, staatsaanklaer, se vrae wat die beserings moontlik kon veroorsaak, kon Apatu nie ’n antwoord gee nie.

Met van die kneusplekke en bloukolle het sy gesê dat “krag gebruik is om só besering te kon veroorsaak” of dat “ʼn voorwerp” die besering kon veroorsaak het.

Weens tegniese probleme met die klankopnemer in die hof, moes Apatu se getuienis kortgeknip word en sy sal na verwagting op 28 Augustus haar getuienis voortsit.

Rochelle Botha en Stefan van Niekerk (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die hofsaak het later as beplan begin nadat die polisie nie Rochelle Botha, Chevonne se ma, by die vrouetronk Sun City in Johannesburg, waar sy tans aangehou word, opgelaai het nie. Haar gewese verloofde en medebeskuldigde, Stefan van Niekerk, wat in ʼn ander gevangenis aangehou word, was wel op tyd.

Die patoloog sou oorspronklik verlede week getuig het. Die saak is toe uitgestel omdat een van die verdediging se regsverteenwoordigers nie vir die saak opgedaag het nie weens ʼn hoofpyn.

Chevonne Rusch (2). (Foto: Facebook)

Botha en Van Niekerk staan tereg vir die moord op Chevonne op 11 Mei verlede jaar. Hulle word ook aangekla van seksuele aanranding, verkragting, mensehandel, kindermishandeling en poging tot moord.

Botha en Van Niekerk is ’n jaar gelede in hegtenis geneem nadat Chevonne by ʼn kliniek in Klopperpark dood verklaar is. Van Niekerk het haar glo met kneusplekke aan haar lyf daar aangebring.

Lees meer oor die saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Marinda ·

Die mense wat die ou dogtertjie vermoor het, is erger as….ek het nie eens woorde nie. Dis beter dat sy eerder dood is as om nog jare van mishandeling te moes deurmaak. Wat ñ skande! Ek hoop hulle sit vir ewig agter tralies. Sorg dat hulle gesteriliseer word in die tronk. Sulke mense durf nooit weer kinders te hê nie!

Hasie ·

Nou sit die twee kop onderstebo ,.vir wat? Waar is jul tirade nou ? Die twee is slegter as sleg !

Laminin ·

Wonder hoe slaap hulle saans? Wat gaan in hul gedagtes aan wanneer hulle alleen is?

Lillian ·

Hemel maar dié verdediging kan darem die hof se tyd mors en ons belastinggeld, ‘n hoofpyn as verskoning!?!? Het jy al gehoor van Compral? Dis pille hoofpyn dan kan jy jou werk voortsit!

August ·

Dit is beter dat hul n meelklip om die nek hang en in die see spring as om n kind leed aan te doen. Watter ouer doen dit. Mag hulle kry wat julle kant toe kom.

Dewald ·

Daar gaan niks in hul gedagtes aan nie. Geen mens wat nugter dink sal so iets doen nie. Hoop hul gooi die sleutels weg as hul opgesluit word.

marius ·

As die klankopnemer nie werk nie moet daar met die hand notule gehou word . Hulle is bloot te lui .

Elma ·

Tot die dag wat ek sterf sal ek hierdie tipe dinge nooit verstaan nie. HOE kyk mens in so n engelgesiggie se ogies en mishandel haar so.

Karoo ·

Vader aleen weet hoe kan enige iemand so ‘n pragtige groot oog dogterjie so harteloos verniel en mishandel. Ons samelewing is besig om vinnig te verval en ons sisteem vaal ons weerlooses in ons gemeenskappe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.