Pensioenarisse sleep ouditeur-generaal hof toe

Die ouditeur-generaal Kimi Makwetu. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Vier voormalige werknemers van die kantoor van die ouditeur-generaal (OG) dagvaar die OG vir meer as ʼn dekade se agterstallige pensioengeld. Die saak tussen Jacobus Albertus Johannes Loots, Louis Pieter Snyman van Rooyen, Francois Jacobus Joubert en Günther Robert Witthöft en die OG en sy adjunk word vandag (Maandag) in die in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Die applikante voer aan die maandelikse toelae vir pensioenarisse se mediese onkoste is sedert 2003 nog nie weer aangepas is nie. Die applikante ontvang dus steeds net meer as R1 000 per maand in mediese toelae van die OG, terwyl die verbruikersprysindeks en die koste verbonde aan mediese fondse met tussen 200% en 300% toegeneem het. Berekeninge toon dat indien dié toelae dienooreenkomstig aangepas was, die pensioenarisse reeds in 2016 meer as R2 000 ʼn maand in mediese toelae sou ontvang.

Die applikante was almal in bestuursposisies aangestel ten tyde van hul aftrede en meeste van hulle was ongeveer 40 jaar lank in diens van die OG. Hulle beweer daar is ongeveer 200 pensioenarisse van die OG wat in dieselfde bootjie sit.

Luidens hofstukke wat Maroela Media gesien het, vra die applikante die hof om te beveel dat hulle geregtig is op ʼn jaarlikse verhoging in die uitbetaling van mediese toelae, in lyn met inflasie. Die applikante vra ook dat die hof die OG beveel om dié verhoging terugwerkend van 2003 tot 2016 uit te betaal. Dit moet gedoen word binne twee maande van die hof se uitspraak hieroor. Die hof moet ook ʼn besluit wat die OG in 2016 gekommunikeer het om nié die betrokke toelae te verhoog nie, ter syde stel. Die dagvaarding is reeds in Oktober 2016 uitgereik.

Dit is die vierde agtereenvolgende rentekoersverlaging. (Foto: Maroela Media)

Loots, afgetrede adjunk-ouditeur-generaal, sê in sy beëdigde verklaring wat by die hof ingedien is, dat die huidige OG, Kimi Makwetu, in 2016 in ʼn brief aan sy adjunk gekommunikeer het dat die bedrag vir mediese bystand wat aan pensioenarisse uitbetaal word, nie aangepas of vermeerder moet word nie.

“Ek en my mede-applikante word geweldig beïnvloed deur die OG se besluit in 2016 en het geen ander keuse as om ons tot die hof te wend nie,” lui die verklaring.

Die applikante voer aan die OG se finansiële state maak boonop sedert 2010 voorsiening vir ʼn jaarlikse toename in die uitbetaling van mediese bystand aan die ongeveer 200 pensioenarisse. Fondse is spesifiek hieroor opsygesit.

Volgens die beleidsraamwerk wat die OG in 2000 aanvaar het, is alle pensioenarisse wat lid is van ʼn mediese fonds, geregtig op ʼn maksimum mediese toelae van R1 015 per maand. Die beleid bepaal dat dié maksimum bedrag jaarliks deur die bestuur van die OG oorweeg word en, indien nodig, aangepas word gebaseer op die verbruikersinflasiekoers en mediese inflasie. Dié beleid is in 2002 hersien en sedertdien het die bedrag wat Loots maandeliks as mediese toelae ontvang, onveranderd op R1 042 gebly. Die ander applikante ontvang steeds net R1 015 per maand. “Sou die maksimum bedrag sedert 2003 jaarliks aangepas gewees het, sou die uitbetaling van mediese toelae in 2016 maandeliks R2 357 beloop het,” lui Loots se verklaring. Dié bedrag is gebaseer op berekeninge deur ʼn onafhanklike ouditeur.

Loots wys in sy verklaring daarop dat die verbruikersinflasiekoers tussen 2000 en 2014 met 227% gestyg het. In dieselfde tydperk het koste van mediese fondsbydraes met 375% toegeneem.

Die saak is vir die volgende paar weke op die hofrol geplaas.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.