Peperduur landgoed opgeveil om witrenosters te help red

(Foto: John Hume)

John Hume, een van Suid-Afrika se grootste renosterboere, verkoop nou die gesogte Mauricedale-natuurlandgoed naby Malelane in Mpumalanga in ʼn laaste, desperate poging om sy meer as 1 700 witrenosters te red.

Mauricedale, wat in 2008 tussen R490 miljoen en R523 miljoen werd was, word in ʼn verklaring oor die verkoop van die eiendom beskryf as ʼn “belegger se droom”. Dit is geleë in een van Suid-Afrika se gewildste toeristegebiede en is ʼn klipgooi van die Krugerwildtuin.

Behalwe vir groot uitbreidingsmoontlikhede as ʼn nasionale en internasionale toerismebestemming, gaan die koper van Mauricedale-natuurlandgoed ook ʼn sleutelrol speel om die toekoms van die ikoniese witrenoster te verseker – ʼn nalatenskap waarop enige natuurliefhebber trots kan wees, lui die verklaring.

Hume het gesê dit is geen geheim dat sy renosterprojek op Buffalo Dream Ranch, ʼn aparte eiendom naby Klerksdorp in Noordwes, al ʼn geruime tyd in finansiële moeilikheid is nie. Mauricedale, wat 6 600 ha beslaan, is Hume se laaste, groot bate. Daar is voorheen onsuksesvol probeer om die eiendom vir R400 miljoen te verkoop.

Die onophoudelike stropery van renosters om horings op die swartmark te verkoop plaas enorme druk op die eens florerende suidelike witrenosterbevolking in Suid-Afrika, lui die verklaring. Private renostereienaars, asook nasionale parke is die slagoffers van gewetenlose stropers en sindikate wat winsgewende, onwettige smokkeloperasies tussen Suid-Afrika en lande waar die aanvraag na renosterhoring hoog bly, bedryf.

“Ons is baie trots om te sê dat ons renosterteelprojek baie goed vaar en ons trop het gegroei tot ʼn verstommende 1 732 suidelike witrenosters, al moes ons ʼn groot getal diere verkoop om bedrywighede te befonds,” lui die verklaring.

“Ons teel 200 suidelike witrenosterkalfies per jaar en het pas twee jaar en vyf maande sonder enige voorvalle van stropery aangeteken. Dit het egter teen ʼn groot prys gekom.

“Ongelukkig is die lewens van al dié renosters steeds in groot gevaar, weens die groeiende finansiële krisis waarin ons onsself bevind. Ons kan ook nie enige volhoubare inkomste genereer nie. Ons pleidooi vir alternatiewe finansiering of belegging wêreldwyd het tot dusver niks opgelewer nie,” het Hume gesê.

Die landgoed word aanstaande maand opgeveil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

L ·

Waarom kan daar vir soveel ander dinge fondse ingesamel word, maar die toekoms van Suid Afrika se Natalingskap moet steeds in die gedrang bly. Wanneer gaan ons as Suid Afrikaners die erns van hierdie saak besef en saam staan. Is daar geen manier waarop ons vir John Hume kan help met hierdie onophoudelike geveg teen stropers en die finansiesiele aspekte wat daarmee gepaard gaan.
Ek haal my hoed af vir jou John Hume jy probeer steeds met al die struikelblokke in jou pad. Dit is n passie en jy leef dit.

WWW ·

As jy nie in Afrika die regte persoon betaal nie sal jy niks reg kry nie – John Hume het op verskeie geleenthede aansoek gedoen om wetiglik renosterhorings te verkoop (horings wat bekom is deur die onthoring om stropery te voorkom) en baie sterk teen kanting vanaf regering gekry – Die fondse sou hom sekerlik in staat stel om nodige befondsing te bekom en sekerlik die vraag te stem tot in n mate –

marous ·

Dis verskriklik om jou lewe se harde werk so in die drein te sien afspoel . Ons ervaar dit elke dag . Kan nie meer kop bo water hou nie !

Gustav Venter ·

Blameer die kortsigtige verbod op die handeldryf met renosterhoring. As John sy voorraad renosterhoring deur ‘n sentrale kon verkoop, kon hy maklik sy renosters beskerm het. Dit sou die witrenoster se voortbestaan verseker het, net soos wat die swartwitpens, bastergemsbok en bontebok deur wildboere gered was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.