Petisie geloods om Emfuleni-raad te ontbind

ActionSA hoop om meer as 20 000 handtekeninge teen die munisipaliteit te kry. (Foto: Verskaf)

ActionSA het Saterdag ʼn petisie van stapel gestuur wat beoog om die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit in Gauteng se raad finaal te ontbind sodat die munisipaliteit onder administrasie geplaas kan word.

Dié sukkelende munisipaliteit word gekenmerk deur jare se korrupsie, wanbestuur en gebrek aan dienslewering.

Funzi Ngobeni, Gautengse voorsitter van ActionSA, sê hulle hoop om meer as 20 000 handtekeninge teen die munisipaliteit te kry.

“Die munisipaliteit het herhaaldelik versuim om basiese dienste te lewer, met vullisverwydering wat onbetroubaar is en water-, sanitasie- en elektrisiteitsdienste wat byna nooit gelewer word nie,” sê Ngobeni.

Die munisipaliteit is sedert 2018 onder administrasie deur die provinsiale regering geplaas, waarna onreëlmatige uitgawes tot meer as R1 miljard gestyg het en rekeninge nie betaal kon word nie.

“Dié ingryping het duidelik weinig resultate opgelewer en in die proses het dienslewering verder bly verswak,” sê hy.

“Die provinsiale regering behoort die raad dringend te ontbind om aanspreeklikheid te verseker en dienslewering te herstel.”

Die Grondwet bepaal dat die provinsiale regering ʼn munisipale raad kan ontbind en wanneer dit ontbind word, behoort daar binne 90 dae verkiesings te wees om ʼn nuwe raad aan te stel.

“ActionSA glo dat die gemeenskap van Emfuleni eenvoudig nie kan wag tot die 2026- munisipale verkiesing om die munisipaliteit se raadsamestelling te verander nie, en daarom vra ons dat opgetree word,” sê Ngobeni.

“Die Gautengse provinsiale regering het langer as drie jaar in gebreke gebly om die uiters kommerwekkende situasie by die munisipaliteit te takel, en daarom moet drastiese stappe gedoen word om die situasie te beredder.”

Die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit het die afgelope paar maande gereeld nuusopskrifte gehaal oor die onstuimigheid by die munisipaliteit.

Vroeër vanjaar het chaos in ʼn raadsaal by die munisipaliteit uitgebreek nadat 2 243 munisipale werkers en 90 raadslede nie hul salarisse vir die maand ontvang het nie.

Voor dié voorval het van Emfuleni se diensverskaffers sake in hul eie hande geneem, onder meer Eskom wat die balju gestuur het om die munisipaliteit se voertuie te konfiskeer in ʼn poging sy uitstaande skuld aan die kragvoorsiener te verhaal. Die munisipaliteit het in daardie stadium nagenoeg R1,3 miljard aan Eskom geskuld.

ActionSA het intussen onderneem dat hy alles in sy vermoë sal doen om te verseker dat daar dringend na inwoners se behoeftes omgesien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.