Petisies en betoging aangekondig oor Taalmonument

(Foto: Verskaf)

Die DA beplan om volgende Saterdag ’n petisie tydens ’n betoging in die Paarl aan die bestuur van die Afrikaanse Taalmonument te oorhandig oor die beoogde naamsverandering.

Dr. Leon Schreiber, DA-LP, het ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen wat “ons land se ryk taaldiversiteit koester” om die petisie en betoging te ondersteun teen die ANC se nuutste aanslag op die regte en erfenis van die land se uiteenlopende Afrikaanssprekende gemeenskap.

Daar heers groot kommer onder rolspelers in die Afrikaanse gemeenskap oor minister Nathi Mthethwa se skynbare planne om die “Afrikaanse” uit die Afrikaanse Taalmonument en -museum se naam te verwyder.

“Die ANC gee duidelik meer om oor hul ideologiese krygstog teen Afrikaans as oor ernstige krisisse soos onbekostigbare brandstof- en kospryse.”

Volgens Schreiber sal verskeie senior DA-leiers Saterdag teenwoordig wees om persoonlik protes teen die naamsverandering aan te teken.

“Die Taalmonument is deel van die Paarl se DNS, en ons kan eenvoudig nie toekyk hoe dit ook ’n slagoffer van ANC‑ideologie word nie. Ons boodskap is eenvoudig: Ons sal onder geen omstandighede aanvaar dat ’n monument wat juis ’n viering is van die uiteenlopende aard van hierdie unieke Afrikataal, van alle betekenis gestroop word net om die ANC se obsessiewe haat vir Afrikaans te bevredig nie.”

Die FAK het intussen ook sy stem tot die kritiek gevoeg en versoek dat die Taalmonument nie van sy geskiedenis gestroop word nie.

“Mthethwa beoog om die Afrikaanse Taalmonument en ‑museum in die Paarl te hernoem na iets meer ‘inklusief’. Mthethwa het gesê dat die ATM se naam moet verander en dat dié verandering ononderhandelbaar is.” Die FAK het ook ’n petisie in die verband begin.

Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kulturele sake en sport, het gesê sy het met ontsteltenis gehoor van Mthethwa se voorstel om die naam van die Afrikaanse Taalmonument te laat verander.

“Die Afrikaanse Taalmonument is in 1975 gestig en simboliseer die diversiteit en groei van die Afrikaanse taal. Dit is ’n belangrike deel van ons land se geskiedenis en die naam is direk verbind met sy oorsprong en betekenis. Om die naam te verander sou die historiese waarde van die Afrikaanse taal wegneem. Ons moet verseker dat ons nie die belangrikheid van die beskerming van al ons inheemse tale uit die oog verloor in ons doel om gelyke toegang en verteenwoordiging aan almal te gee nie.

“Ek wil minister Mthethwa versoek om die voorgestelde naamsverandering van hierdie histories waardevolle monument te heroorweeg. Dit is tyd dat ons begin ondersoek instel hoe ons openbare fondse bestee word in die naam van maatskaplike kohesie, as die aksies wat gedoen word tot verdere verdeeldheid in die land sal lei.”

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument beplan ʼn strategiese beplanningsessie met die ATM-raadslede op 26 en 27 Mei, gevolg deur ʼn openbare vergadering op 28 Mei in die Paarl waartydens die publiek se insette gevra sal word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.