Petrol, diesel, elektrisiteit: ʼn Energiekrisis en ekonomiese ramp

(Foto: pixabay)

Suid-Afrika se energiekrisis het ontaard in ʼn ekonomiese ramp. Suid-Afrikaners is nou vir oorlewing afhanklik van elektrisiteit wat nie beskikbaar is nie en vloeibare brandstof wat nie bekostigbaar is nie, sê dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor minerale hulpbronne en energie.

“Boonop word van huishoudings en ondernemings, wat toenemend op vloeibare brandstof aangewese is vir hul energiebehoeftes, verwag om brandstofheffings te betaal wat uitsluitlik ingestel is vir padgebruikers.”

Te midde van fase 6-beurtkrag het landsburgers vandag gehoor dat petrol en diesel se prys hierdie maand weer skerp styg. Petrol met tot R2,57 per liter en diesel met R2.30 per liter. Bykans alle petroleumprodukte sal voortaan meer as R25 per liter sal kos.

“Hoewel ‘n land se ekonomie gewoonlik in geldterme gemeet word, is energieverbruik ‘n meer akkurate weergawe daarvan. Geldeenhede se wisselende waarde maak dit moeilik om presies vas te stel hoeveel ekonomiese aktiwiteit deur ‘n sekere aantal dollar of rand verteenwoordig word.

Daarenteen staan die aantal megajoule energie wat verbruik word, in ‘n direkte verband met aktiwiteit.

“In Suid-Afrika was welvarende huishoudings, landbou, nywerheid, handel en treinvervoer teen die 1980’s bykans volledig geëlektrifiseer. Daarom word bykans elke landsburger deur beurtkrag geraak,” voeg Boshoff by. “Sowat 60% van die land se vloeibare brandstof word tans ingevoer. Die land se ekonomie is daarom toenemend afhanklik van internasionale faktore en die afnemende vermoë van hawens.”

Asof dit nie genoeg is nie, word duisende kragopwekkers met petrol en diesel aangedryf.

“Daar is wel ‘n klein deel van die ekonomie wat met die minste denkbare ontwrigting voortgaan: dit is die huishoudings en ondernemings wat hulle reeds van konvensionele energiebronne bevry het. Dit behels nie net sonkrag- en batterystelsels nie, maar ook elektriese vervoer wat daaraan gekoppel is.”

Boshoff meen die staat kan ‘n belangrike bydrae lewer om te voorkom dat die huidige krisis in ‘n ramp ontaard en dit is om alle belasting uit die brandstofprys te verwyder en om die mark vir voorsiening van hernubare krag heeltemal oop te maak – buiten vir veiligheidsregulering.

“Volgens die huidige trajek sal die staat binne die afsienbare toekoms groot lenings moet aangaan om die ekonomie te herstel. Die afskaffing van brandstofbelasting moet nie gesien word as ‘n verlies vir die staatskas nie, maar as ‘n manier om likiditeit in die ekonomie te voorsien. Oopstelling van die elektrisiteitsmark kan dit vir huishoudings en ondernemings aantreklik maak om hernubare hulpbronne só te ontgin dat piektye ten beste van krag voorsien kan word. Dit kan ook help om die land se kragnetwerk in stand te hou.”

Hy sê energievoorsiening in Suid-Afrika – en daarom die landsekonomie – kan ʼn ANC-regering nie langer bekostig nie.

“Dit mag nou voel of 2024 nog te ver is, maar ‘n krisis van dié aard mag selfs die regering dwing om te bedank en sodoende ‘n verkiesing uit te roep. Anders sal Suid-Afrikaners nog op verbetering moet wag”

Abigail Moyo, woordvoerder van die vakbond Uasa, sê ook Eskom bring Suid-Afrikaners tot wanhoop. “Die kombinasie van verhoogde elektrisiteitspryse (die jongste was 3,49% vir 2022/2023 wat op 1 Julie in werking getree het) en ʼn afname in dienslewering het die land tot hopeloosheid gebring. Basiese dienslewering, waarvoor ons met ons swaarverdiende belasting betaal, het in ʼn geldput verander waar werkers gedwing word om meer te betaal vir minder.”

Moyo sê werkers maak staat op elektrisiteit vir dag-tot-dag lewe, maar hulle betaal meer vir dienste wat al hoe minder beskikbaar is. “Dit het ʼn negatiewe impak op hul lewens by die huis en by die werk. Die nimmereindigende beurtkrag het families se roetines omvergewerp, omdat normale huisroetines nie meer moontlik is nie.”

Moyo sê kinders sukkel om hul huiswerk te doen en te leer en talle mense, wat ʼn ekstra inkomste wil verdien in tye van ongenadige prysverhogings, kan dit nie doen nie. Ondernemings en privaat individue wat meer as R150 000 kan bekostig, is nou op soek na alternatiewe kragbronne om die ligte aan te hou en met hul lewens aan te gaan.

“En dit is bloot omdat die staatsbeheerde Eskom al dekades lank nie behoorlik sy mandaat uitvoer nie. In 2008 het ons die eerste beurtkrag beleef weens ʼn gebrek aan instandhouding, korrupsie en diefstal. Verlede week het ons die langste en ergste beurtkrag ooit beleef. Wanneer sal dit tot ʼn einde kom? Hoeveel meer poste gaan verlore gaan as gevolg hiervan?”

Met die brandstofprys wat Woensdag verhoog en ander munisipale heffings wat ook waarskynlik gaan verhoog, maan Uasa sy lede en alle verbruikers om hul huishoudelike uitgawes te hersien sodat hulle kop bo water kan hou. “Uasa maan die regering om dringend op te tree om ʼn algehele ekonomiese ineenstorting te voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Henri ·

My krag kom van die HERE, die SKEPPER van die hemel en die aarde. Ek sal nie vrees nie.

Theuns ·

Question: petrol increase = 9.94%. Average oil price May was Usd113.34 June was Usd 115.05. Diff Usd1.71 = 1.5%. ROE May Usd1/ Sar15.5. June usd1/ 16.34. Diff 0.84c. 5.41%. How do we get 9.94% increase if highest factor increase is 5.41%. ? Please explain … the sums don’t add up.. Please ask the REGTE vraag oor die pryse. Dis skokkend dat politicians en kommentators nie somme kan doen. Media moet ook meer % verhogings wys nie net Rand styging. Dit gee perspektief. Ons word uitgebuit….

Nie Verbaas ·

Sit die opposisiepartye net weer op hulle hande en lewer kommentaar soos gewoonlik of gaan hulle daadwerklik iets daaraan doen? Tot op hede het ons nog geen aksie gesien teen vakbonde en stakers wat verantwoordelik is vir die sabotasie van die infrastruktuur nie. Eskom en regering lek eerder hulle agterente.

Witbaard ·

Politieke partye (DA) sal seker eers ‘n weer ondersoek wil laat doen. Ons hoop moet liewer op Solidariteit of AfriForum wees.

Snowball ·

‘n ANC orkestreerde mishoop. ‘n Gebrek aan leierskap, integriteit en kundigheid en hier sit ons – die afgrond wink en die skuldiges aanvaar steeds nie verantwoordelikheid nie, nie die vakbonde, die ANC of Eskom nie. Die ANC kon net sowel oorlog verklaar het teen die burgers van SA. WE CAN’T BREATHE.

H.A. ·

Anc- ons doen dit in die kommunistiese reels. So is ons geleer. Maak almal mak, dan kan jy volle beheer uitoefen.

Papsak ·

Ek se weer die petrol pryse kos pryse bly plek pryse ens is nie n ramp nie kyk waar le regtig n ramp hierdie breinlose regering en hierdie aan geplakte president daar le die ramp want hulle sorg vir hulle self en flip die land en sy probleme want as hulle nie nou besluit om pryse af te bring nie sien ek probleme vir ons

JohnnyS ·

Hulle is klaar besig met nuwe t-shirts, 2024 sal hulle weer ingestem word deur die ontvangers van die t-shirts.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.