Petrol kos jou R1 duurder in April

Argieffoto (Foto; andreas160578/Pixabay)

Gwede Mantashe, die minister van minerale hulpbronne en energie, het wysigings in die petrolprys aangekondig wat van 7 April 2021 sal geld.

Suid-Afrika se brandstofpryse word maandeliks aangepas gebaseer op huidige plaaslike en internasionale faktore. Internasionale faktore sluit die feit in dat Suid-Afrika ru-olie invoer op ʼn prys wat internasionaal bepaal word met invoerkoste daarby ingesluit.

Só verhoog die brandstofpryse:

  • 93-oktaan-petrol: styg met 95c per liter
  • 95-oktaan-petrol: styg met R1 per liter
  • Diesel met 0,05% swael: styg met 65,2c per liter
  • Diesel met 0,005% swael: styg met sowat 63,2c per liter
  • Paraffien: styg met 34,8c per liter
  • Gas: styg met 48c per kilogram.

Mantashe het verskeie redes verskaf vir die aanpassing:

  • Prys van ru-olie

Die prys van Brent ru-olie het van $61,10 na $64 per vat gestyg tydens die periode onder hersiening. “Die dramatiese verhoging word toegeskryf aan ʼn verskeidenheid gebeure, waaronder lae inventarisgetalle vir ru-olie in die VSA, die verwagte verhoogde ekonomiese aktiwiteit in die VSA ná hul ekonomiese stimuluspakket goedgekeur is en ʼn vaartuig wat in die Suezkanaal vasgekeer was en ʼn vertraging vir houerskepe, insluitend olietenkskepe, veroorsaak het.”

  • Internasionale pryse van petrolprodukte

Nog ʼn rede wat vir die verhoging aangevoer word, is die verhoging in internasionale pryse van petrol, diesel en paraffien. Dit het onderskeidelik met 61,72c per liter, 27,22c per liter en 25,26c per liter gestyg.

  • Rand/dollar-wisselkoers

Die rand/dollar-wisselkoers het ook ʼn impak gehad op die prys van brandstof. Die rand het teen die dollar verswak (van 14,76 tot 14,95) tydens die periode onder hersiening.

  • Brandstofheffing en Padongelukkefonds

“Die minister van finansies het op 25 Februarie 2021 in sy begrotingsrede aangekondig dat die brandstof- en padongelukkefondsheffing op petrol en diesel onderskeidelik met 16c per liter en 11c per liter sal verhoog vanaf 7 April 2021.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Manie ·

Ons arme motoriste en gas verbruikers word uitgebuit met die belastings op brandstof en maandelikse verhogings…net om pa te staan vir die kaders se vergrype!! Brandstof van SA word uitgevoer na buurlande goedkoper as wat ons die SA verbruiker betaal!! Hoekom toi toi sekere groepe met huurmotors nie soos wat gebeur het voor 1994 nie….is dit omdat hulle nou gesubsidieer word met brandstop!!!

Nie Verbaas ·

En so vat die ANC net meer en meer. Dit alles omdat fondse deur korruptes geplunder is en nog steeds geplunder word. Besef die regering wat hulle aan die ekonomie doen? Ek glo nie, want wysheid ontbreek hulle duidelik en korruptes loop nog vry.

Bolander ·

Die feit dat die rand met meer as 20% teenoor die dollar versterk het die laaste 12 maande, het waarskynlik geen effek nie. Klink baie vreemd, want dit is gewoonlik die verskoning.

Friedrich ·

Kan iemand asseblief verduidelik hoekom die petrol prys so veel hoër as ‘n paar jaar terug, maar die olie prys is baie laer. Maak dit vir julle sin?

Eltan ·

Agv al hoe meer en meer belasting wat elke jaar gehef word…

Corne123 ·

En so melk die anc ons nogsteeds en niks wat ons daaraan kan doen nie kyk maar nou gaan al die steenkool sasolburg toe so maar reg hir loadshedding

Niné ·

My beursie kan die korrupsie nie meer vat waarvoor ons moet vergeld nie. Ons middelklas mense word nou ook verarm! Veral ons oumense wat eens op n tyd die land met trots opgebou het.

daniel ·

Dit wil voorkom asof die publiek nou moet vergoed vir die tekorte wst deur korrupsie veroorsaak is.

lodewyk ·

Die probleem is dat die ANC met elkke verkiesing die mense wat die somme nie mooi verstaan nie met n kos pakkie en n T hemp ooreed om vir hulle te stem,tot hierdie mense nie tot n besef kom nie,gaan ons vir altyd sukkel met n korupte regeering -Tyd vir drastiese verandering -Kyk na die voorbeeld wat die Weskaap stel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.