Petrol, rentekoers kan Kerskous knou

(Foto: Maroela Media)

Maak maar eers jou somme mooi voor jy die duur sjampanje vir Nuwejaar uithaal of die Kerskous heeltemal te vol peperduur items stop.

Ekonome waarsku dat kos- en brandstofpryse gaan beteken dat die meeste Suid-Afrikaners dié Desembervakansie steeds elke sent sal moet omdraai – en boonop word nóg ʼn styging in die rentekoers aan die einde van November verwag.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) se jongste syfers is daar ʼn mate van verligting in kospryse, maar die effense daling in die verbruikersprysindeks is nie ʼn weerspieëling van die werklike lewenskoste waaraan gewone werkende Suid-Afrikaners onderwerp word nie – veral nie wat betref die pryse van brandstof, kos en nie-alkoholiese drankies nie.

Die prys van kos en nie-alkoholiese drankies het op ʼn jaargrondslag met 11,9% gestyg en het twee persentasiepunte bygedra tot die algehele VPI wat nou op 7,5% staan.

Brandstofpryse sal na verwagting in November weer styg, nadat jaarlikse brandstofinflasie vroeër van 56,2% in Julie tot 34,1% in September gedaal het.

Nedbank-ekonome Johannes Khosa en Nicky Weimar sê inflasie gaan na verwagting tot omtrent 6,9% aan die einde van die jaar daal.

Daar is egter steeds vrese dat die wêreldwye ekonomie ʼn resessie kan ondervind en boonop beteken ʼn droogte in sommige dele van Suid-Afrika dat die prys van sekere voedselitems hoër kan bly.

Nedbank sê hoër lone en stygings in kragtariewe hou ook ʼn gevaar vir die inflasie-vooruitsig in.

Styging in rentekoers kom weer

Nóg slegte nuus is ʼn verdere verwagte styging in die rentekoers – en dit gaan waarskynlik weer ʼn taaie wees.

“Ons het aanvanklik ʼn voorlopige rentekoersverhoging van 50 basispunte vir November aangeteken, wat die primakoers op 10,5% te staan sou bring.”

Khosa en Weimar sê hulle het sedertdien egter dié vooruitskatting aangepas tot ʼn verhoging van 75 basispunte, gegewe stygende kerninflasie (dit staan nou op 4,7% en is die hoogste sedert Julie 2017), die risiko’s vir die inflasievooruitsig en ʼn groter kans dat die VSA se Federale Reserweraad (Fed) rentekoerse meer aggressief kan verhoog.

Dr. Sandra Adendorff, ʼn dosent in ekonomie by Akademia, stem saam dat Suid-Afrika se Reserwebank waarskynlik by ʼn Fed-besluit gaan inval en dat dit ʼn rentekoersverhoging van tussen 75 en 100 basispunte kan beteken.

Sy sê kerninflasie is egter net so ʼn groot bekommernis. Eksterne faktore, soos die voortslepende oorlog tussen Rusland en Oekraïne, asook logistieke probleme waaroor die Reserwebank geen beheer het nie speel ʼn groot rol hierin.

Hoër loonverhogings, soos byvoorbeeld dié aan Transnet-werkers, veroorsaak ook druk, maar die wisselkoers bly een van die grootste enkele risiko’s waarmee rekening gehou moet word.

“Verbruikers is onder geweldige druk en dit is veral arm mense wat geraak word,” sê Adendorff.

ʼn Styging in die rentekoers beteken duurder terugbetalings aan byvoorbeeld jou huisverband en indien die Reserwebank weer op ʼn verhoging besluit, sal dit die sewende agtereenvolgende een wees.

Die Reserwebank het ʼn moeilike taak om inflasie in toom te hou en indien dit hand uitruk, is dit die armstes wat nog verder swaarkry. Die Reserwebank moet dit dus behoorlik bestuur, sê Adendorff.

Sy bestempel die R270 miljard-ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Saoedi-Arabië wat pas aangekondig is, wel as ʼn ligpunt vir die plaaslike ekonomie. Pres. Cyril Ramaphosa was die afgelope naweek in Riaad waar verskeie memorandums van samewerking onderteken is.

Kerskous met silwer randjie

Die vakbond Uasa het die effense daling in die inflasiekoers verwelkom, maar waarsku dat verbruikers steeds mooi na hul geld sal moet kyk.

“Werkers wat beoog om hierdie Desember die pad te vat, moet dit oorweeg om ekstra geld weg te sit sodat hulle steeds ʼn welverdiende blaaskans kan bekostig,” sê Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa.

Adendorff sê mense moet ook in gedagte hou dat die ekonomie siklies is en hoewel dit vanjaar dalk nie so ʼn opwindende Kerskous gaan oplewer nie, beteken beleggings soos dié deur Saoedi-Arabië dat daar wel ʼn silwer randjie aan ʼn donker Kerskous kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Dink almal in SA se kers kous is al lankal die groote van ‘n pas gebore baba sin!

Waarnemer ·

En due belegging van Saoedke Arabie gaan netso in die sakke van 28 parlementslede verdwyn.WOW….mnr Ramagarien en kie gaan jollifikasie hou met die meevaller en die gratis krag en water en brandstof.

Casper ·

Ek is gelukkig met pension en dus elke dag met vakansie.Ons het ons huis in 1987 gekoop vir R 65.000,subsidie van die staat gekry maar ek het nooit die paaiement verlaag soos die rentekoerse gedaal het nie.So het ek my huis veel vinniger afbetaal as wat ek moes en ‘n Flexi reserwe opgebou wat ek belê het en nou pluk ek die vrugte.Onx gaan in elk geval nie weg oor kersfees nie.Ons het 4 staatsdamme om ons waar ons vir die dag gaan kuier.Persente is vir kinders glo ek en daarom koop ons nie duur geskenke nie.

Casper ·

Jy sal in jou lewe nooit in vandag se tyd ‘n huis kan koop of bou vir R 65.000 nie.Ek het dus simpatie met mense wat aan vebande afbetaal en dalk nog kar skuld het veral jong mense.Baie mense gaan hulle huise en karre verloor of hulle sal die begroting erg moet sny.

Jacobus ·

Ramaphosa em sy swaer Metsepe was mos nie lank terug op n foto vasgevang waar hulle met die Arabiere ooreenkomste sluit om Eskom te privatiseer nie. Hier begin dit nou waar net die ELITE GAAN BAAT VIND EN NOG RYKER WORD TENKOSTE VAN DIE ARME SUID AFRIKAANSE BEVOLKING.

Faraway ·

Ek dink elke nugter Suid Afrikaner besef. . . Resessie is op ons voorstoep

Danie ·

Met die nuus wenke van die vorige artikel wie wil nog vakansie hou sit by huis pas jou eiendom op en spaar petrol.Gaan vang vis by die dam met n goeie bottel en vergeet van die rooi gemors.

Mariana ·

Watse kerskous? Wie kan nog kerskouse bekostig? Nee jan-tuisbly-se-karretjie sal gery word en daar sal moet gesorg word vir kos op tafel en belangrike goed wat betaal moet word. In die land is dit slegs die president en sy ministers en vriende wat ordentlik kan kersfees en vakansie hou. Die res van SA moet die gordel nog stywer vastrek om 2023 weer aan te vat. Maar nietemin kan ons families steeds bymekaar kom. Geskenke is nie als nie. Net om my man, kinders en kleinkind by my te hê is vir genoeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.