Peuter se kakebeen geheg ná hond hom byt

Hendré na die operasie (Foto: Verskaf)

Hendré du Plessis, die kind wat op 26 Junie deur ʼn hond aan sy gesig beetgekry is, het verlede week ʼn operasie aan sy kakebeen ondergaan en is dieselfde dag uit die Peglerae Life-hospitaal in Rustenburg ontslaan.

“Die operasie het goed afgeloop en ons is baie verlig om hom by die huis te hê. Hy is amper weer sy ou self,” sê Hendré se ma, Nadesna du Plessis.

Hendré, wat oor twee maande twee jaar oud word, is Donderdag omstreeks 09:30 in die teater ingestoot en het so teen 11:00 uit die teater gekom. Hy is omstreeks 12:00 ontslaan.

Hendré se kakebeen is tydens die operasie geheg. Een van sy kiestande wat gebreek is, is ook getrek.

“Hy kla nie vreeslik dat hy seer het nie. Hy sal af en toe vir ons sê hy het ’n eina en na sy gesig wys.”

Nadesna sê hy drink baie vloeistof en eet nog moeilik, maar dit sal met tyd verbeter. “Hy eet nog sy sagte kossies en probeer reeds vaster kos eet, maar dis maar nog moeilik.”

Die een kant van Hendré se gesig hang egter nog steeds. Dit is omdat die dokter nie al die senuwees tydens die eerste operasie kon heg nie.

Hendré net nadat hy uit die teater gekom het (Foto: Verskaf)

“Van die senuwees wat deur die hond afgebyt is, het al herstel. So een of twee van hulle het nog nie herstel nie. Volgens die dokter moet ons binne die volgende ses maande kyk of dié senuwees vanself sal herstel. Daar is ook ’n kans dat dit nie gaan herstel nie.”

Nadesna sê sy mond hang veral in die aand, maar is gedurende die dag beter. “Voor die operasie het hy glad nie beheer oor sy spoeg gehad wat gedurig uit sy mond loop nie. Dit is nou al baie beter.”

Hendré moet die dokter op 18 September vir ’n opvolgbesoek sien. Hy moet dan weer oor ’n jaar teruggaan sodat die dokter weer na die merke op sy vel onder sy ken kan kyk. Dié vel was weg nadat die hond hom gebyt het, maar het darem mettertyd begin genees.

“Hy gaan moontlik volgende jaar vir ’n operasie hiervoor moet gaan.”

Hendré in die hospitaal in Junie (Foto; Verskaf)

ʼn Geldinsameling is so twee weke gelede van stapel gestuur vir Hendré se peperduur kakebeenoperasie wat naastenby R100 000 gekos het. Die Du Plessis’s se hospitaalplan is reeds met Hendré se eerste operasie uitgeput, en hulle het nie genoeg geld gehad om vir sy operasie uit hul eie sak te betaal nie.

Maroela Media het vroeër berig slegs ’n week nadat dié geldinsameling van stapel gestuur is, is genoeg geld ingesamel dat Hendré toe wel verlede week die operasie kon ondergaan. Vreemdelinge van heinde en ver het geld in Nadesna se rekening inbetaal vir die operasie.

Lees op Maroela Media oor die voorval waartydens Hendré in Junie deur die hond gebyt is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SomeOne ·

sterkte met genesing, hendre jy is in liewe Jesus se Hande (vs)

Nozi ·

Kan sommer sien klein Hendre is ‘n regte klein vergtertjie. Ek bid vir jou liefste klein Hendre dat Liewe Jesus jou sommer baie gou gesond sal maak en dat hy elke plekkie wat nog nie 100% genees is nie sal aanraak en dat dit nie nodig sal wees vir enige verdere operasies nie. Liewe Heer, ek bid dat U U hand van genesing om klein Hendre sal vou en hom aanraak op elke plekkie waar hy pyn mag he. Dankie Heer dat U hom al klaar aangeraak het daar waar hy nou is. Amen. Vasbyt Liefiekind, Liewe Jesus is al klaar besig om aan al jou einas te werk.

Fae Fubar ·

Wat ‘n dierbare ou seuntjie. Dankie aan almal wat die operasie moontlik gemaak het. Seëninge vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.