Pfizer bied 70%-beskerming teen Omikron

(Argieffoto: Pedro Pardoo/AFP)

Discovery Health, Suid-Afrika se grootste private mediese fonds, sê twee dosisse van die Pfizer-entstof bied in die huidige vlaag Omikron-infeksies 70%-beskerming teen ernstige komplikasies weens Covid-19 wat hospitaalopname vereis, asook 33%-beskerming teen Covid-19-infeksie.

Daar is dus ʼn beduidende kans dat ingeëntes Covid-19 sal opdoen, maar hulle sal waarskynlik nie so siek word nie.

Die data is gegrond op die eerste drie weke van die nuwe Omikron-vlaag in Suid-Afrika. Discovery Health sê die bevindings moet dus as voorlopig beskou word terwyl die vlaag vorder. Die mediese fonds het meer as 3,7 miljoen lede en is dus goed geplaas om intydse en skaalgedrewe insig oor die uitwerking van Covid-19 te bekom.

Die navorsing oor die doeltreffendheid van die twee dosisse entstof is gedoen deur Discovery se span aktuarisse, in samewerking met navorsers verbonde aan die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR).

Die navorsing het gewys dat diegene wat twee dosisse van die entstof ontvang het, 33%-beskerming geniet om nié die Omikron-variant op te doen nie. Dit is ʼn beduidende afname van die 80%-beskerming wat die entstof tydens die vorige vlae gebied het.

Beskerming teen ʼn ernstige vorm van die siekte wat tot hospitaalopname lei, staan tans op 70% – weereens ʼn beduidende daling van die 93% waarop dit tydens die vlaag wat deur die Delta-variant aangedryf is, gestaan het.

Beskerming van 70% word nietemin as betreklik goed beskou.

“Die uitslae van Discovery Health se ontledings is uiters bemoedigend,” sê prof. Glenda Gray, president van die MNR.

“Dit is baie belangrik om aan mense te wys dat in die werklike lewe – in die teenwoordigheid van ʼn hoogs oordraagbare nuwe Covid-19-variant – die Pfizer-BioNTech-entstof steeds goeie beskerming teen ernstige siekte en hospitaalopname bied.”

Die ontleding wys ook dat beskerming teen hospitaalopname onder alle ouderdomsgroepe (van 18 tot 79 jaar oud) volgehou word. Effense laer vlakke van beskerming vir ouer mense (67% vir mense tussen 60 en 69 jaar oud en 60% vir diegene tussen 70 en 79) is aangeteken.

Beskerming teen hospitaalopname help ook ten spyte van die teenwoordigheid van chroniese siektes wat insluit diabetes, hipertensie en kardiovaskulêre siektes.

Shirley Collie, hoofaktuaris oor gesondheidstatistieke by Discovery Health, sê die gevaar om weer die infeksie op te doen, is beduidend hoër tydens die Omikron-vlaag.

“Met elke opeenvolgende vlaag Covid-19-infeksies in Suid-Afrika het ons die langdurigheid van immuniteit wat gevolg het op ʼn vorige Covid-19-infeksie – met ander woorde die gevaar om weer geïnfekteer te word – dopgehou,” sê Collie.

“Die kans om weer geïnfekteer te word, het mettertyd toegeneem, met Omikron wat gelei het tot aansienlik hoër koerse van herbesmetting in vergelyking met vorige variante.”

Diegene wat tydens die derde Delta-vlaag Covid-19 opgedoen het, staan ʼn 40%-kans om weer met Omikron geïnfekteer te word en diegene wat in die tweede Beta-vlaag die koronavirus opgedoen het, staan ʼn 60%-kans om met Omikron geïnfekteer te word, het die navorsing bevind. Dié persone het dus ʼn kleiner kans om die nuwe variant op te doen, as dié wat ingeënt is sonder om die virus op te doen.

Die navorsers het ook bevind die gevaar van ernstige siekte en hospitaalopname is heelwat laer in Omikron-infeksie wanneer dit met vorige variante vergelyk word.

“Epidemiologiese nasporing wys ʼn skerp trajek van nuwe infeksies wat dui op Omikron se vinnige verspreiding, maar tot dusver wys dit ʼn platter trajek van hospitaalopnames wat moontlik dui op minder ernstigheid,” sê dr. Ryan Noach, hoof van Discovery Health.

Die navorsers het ook bevind volwassenes wat in hospitale opgeneem word, het ʼn laer geneigdheid om in hoësorg- of intensiewe sorgeenhede opgeneem te word in vergelyking met vorige vlae.

Inenting, waaksaamheid

Navorsers is dit eens dat waaksaamheid en inenting die beste maniere is om die pandemie te boewe te kom.

“Die voortgesette hoë vlakke van die Pfizer-BioNTech-entstof se beskerming teen ernstige Covid-19 is bemoedigend,” sê Noach.

“Ons hoop dat die huidige ondervinding van Covid-19 wat veroorsaak word deur die Omikron-variant – in die meeste gevalle matig – onveranderd sal bly. Desnieteenstaande bly ons bekommerd dat die gesondheidsorgstelsel onder druk kan kom gegewe die hoë koers waarteen Omikron versprei en die gevolglike skielike hoë infeksielas.”

Noach sê navorsers sal die vordering van die vierde vlaag fyn dophou.

In hierdie stadium is dit egter diegene wat nie ingeënt is nie, wat hoofsaaklik in hospitale opgeneem word.

“Die belang van Covid-19-inenting in die huidige omstandighede kan nie betwyfel word nie, soos onteenseglik in die navorsing gewys is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

KB ·

Discovery is nie die spreekbuis op virologiese bevindinge nie. So UIT vir hulle!
Prof. Glenda Gray sê 33%.

Mudguard ·

Alles is nou Omikron. Wat het van die Delta variant geword?

annie ·

Aangesien die hele opstel net Pfizer ophemel en adverteer moet ek ook ‘n eiertjie mag lê. Dis moontlik dalk nie geskik vir diegene met ‘n natuurlike gesonde immuniteit nie wat oor die algemeen maklik allergiese reaksies ontwikkel. Hul moet hul dokters daarin ken. J&J sou dan dalk ‘n beter opsie kon wees of die Russiese jab. Die grootbaas van Pfizer het glo (lees gerus meer daaroor) aanvanklik nie homself en sy gesin daarmee gespuit nie, glo om ordentlik te wees en nie eerste in die ry te wou staan nie. Eers glo toe hy moes voor hy Israel kon besoek. Mense grap daaroor.

Dirk Mostert ·

Ha ha. Dit was ook op TV dat die grootbase van Pfizer en Moderna saam reeds $10 biljoen ryker geword het tydens/danksy die pandemie.

Riekert Arend ·

En Die Antwoord is- VERGEET DIT SO GOU SOOS GISTER! ;}

Oom Hennie Pennie ·

Dit is uiters kommerwekkend dat Pfizer en Discovery wat pro-vaks is so opgehemel word. Kan ons asseblief MEER berigewing kry oor alternatiewe opsies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.