Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) het Woensdag gesê hy het met skok te wete gekom van die SAPD se planne om ʼn klopjag op sy nasionale kantoor uit te voer.
Moses Dlamini, woordvoerder van Opod, het in ʼn verklaring gesê die direktoraat het betroubare inligting ontvang dat lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, aan die polisie se nasionale intervensie-eenheid (NIU) opdrag gegee het om op gereedheidsgrondslag te wees om ʼn klopjag op Opod se kantoor uit te voer.
Phahlane word tans ondersoek oor bewerings van korrupsie, geldwassery en dwarsboming van die gereg. Opod het verlede week ʼn hofinterdik teen Phahlane bekom wat hom verhoed om met die ondersoek na die bewerings in te meng.
Volgens Dlamini is die beplande klopjag ʼn poging deur Phahlane om die ondersoek na hom in die wiele te ry. Robert McBride, uitvoerende direkteur van Opod, het gesê dit is “skokkend” dat polisiehulpbronne ingespan sal word om ʼn verdagte te beskerm net omdat hy ʼn magsposisie beklee.
“Die vermetelheid om mag so te misbruik en die wet so te minag vir persoonlike belang, is verbysterend. Dit herinner aan soortgelyke optrede deur dieselfde polisiebeamptes wat adv. Gerrie Nel en ander in hegtenis geneem het om hul base te beskerm,” het McBride gesê.
Volgens die verklaring sal Opod nie sy ondersoek van stryk laat bring nie, aangesien die bewerings baie ernstig is en die ondersoek “tot dusver toon dat die bewerings meriete het”.
“Opod sal alle wettige middele aanwend om sy onafhanklikheid te beskerm. Dit is belangrik dat alle staatsinstellings, onder wie die polisie, die Grondwet en die wet respekteer.”
Geniet mekaar !
Stem saam hoop hulle braai lekker chop en dop
Hulle is almal deel van die Zuma / Gupta bende
Soort soek soort.
‘n Klopjag word nie voor die tyd wyd en syd verkondig nie. Wat n klug
Is Phalane nie veronderstel om geskors te wees nie? Het hulle nie van hom ‘n motor en selfoon wat hy wederregtelik geneem het, teruggeneem nie? Aardjie na sy vaartjie sal seker nie werk nie. So dalk is dit nou maar klasie na sy basie. hy het opgelet in die klas.