Phalaborwa tot rampgebied verklaar ná veldbrand

Minstens 12 huise in Phalaborwa het Saterdag aan die brand geraak. (Foto: Twitter)

Die Ba-Phalaborwa-munisipaliteit het Phalaborwa in Limpopo Sondag tot rampgebied verklaar nadat ’n verwoestende veldbrand Saterdag minstens 12 huise in puin gelê het. ’n Ondersoek is intussen van stapel gestuur na die oorsaak van die brand.

Maroela Media het vroeër vandag berig ’n veldbrand het Saterdag voor 12:00 net buite die dorp uitgebreek. Die wind het opgesteek en die vlamme in die rigting van die dorp gedryf waar huise een na die ander aan die brand geraak het.

Die gewilde gastehuis Elegance Guest House en tien hektaar grond in die noordelike deel van Phalaborwa het ook in die slag gebly.

Basikopo Makamu, die LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake in Limpopo, sê nou ’n voorlopige verslag toon dat die brand naby ’n plaaslike weermagkamp ontstaan het.

Makamu sê die wind en droë plantegroei in die omgewing het brandbestryders van die Letaba- plaaslike munisipaliteit se taak bemoeilik. Die vlamme is eindelik Sondag in die vroeë oggendure geblus.

Inwoners wat hul huise in die brand verloor het, word sedertdien in die Cajori-hotel en ander omliggende lodges gehuisves waar kospakkies verskaf word.

Makamu het Sondag sy dankbaarheid uitgespreek teenoor die plaaslike nooddienswerkers en gemeenskapslede wat deur die nag gespook het om die brand in bedwang te bring.

Die LUR het ook die publiek versoek om nie vuur in oop ruimtes te maak nie en motoriste om nie brandende sigaretstompies by die venster uit te gooi nie aangesien stygende temperature en droë plantegroei in Limpopo toestande skep wat gunstig is vir die ontstaan en verspreiding van veldbrande.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Di ·

TE VEEL brande wat skielik uitbreek in die land! Iets is iewers nie pluis nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.