PhD-student ontwikkel nuwe graderingstelsel vir heuningbostee

(Foto: Verskaf)

ʼn PhD-student aan die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn graderingstelsel vir heuningbostee ontwikkel om ʼn sensoriese “gehaltestempel” aan die verskillende produksielotte toe te ken.

Die sensoriese gehalte van heuningbostee — die aroma, voorkoms en smaak daarvan — is deurslaggewend om tussen gehalte-tee en swak produkte te onderskei, sê Brigitte du Preez wat hierdie week haar PhD aan die US se Departement Voedselwetenskap verwerf het.

“Heuningbostee het ʼn herkenbare blomagtige, appelkoos-, karamel- en fynbos-soet aroma en soet smaak. Die kenmerkende sensoriese profiel daarvan is gekarteer en kan gebruik word om kwaliteitsgradering van verskillende produksielotte mee te doen.”

Heuningbostee is eie aan Suid-Afrika en is afkomstig van die gefermenteerde blare en stamme van die heuningbosteeplant.

Die inheemse Khoi-San-inwoners van die Wes-Kaap was waarskynlik die eerste mense wat tee afkomstig van die heuningbosteeplant gemaak het, waarskynlik vir medisinale doeleindes. Kommersiële heuningbosboerdery was beperk tot in die vroeë negentigerjare.

Dié bedryf het intussen gegroei van ʼn plaaslike bedryf tot ʼn rolspeler in die internasionale kruieteebedryf. Mededinging in dié mark is egter volop en daar is heelwat uitdagings vir die bedryf om sy markaandeel te vergroot.

Tot dusver was daar geen gestandaardiseerde maatreëls om die sensoriese aspekte van heuningbostee mee te beoordeel nie. Kommersiële prosesseerders, verpakkers en bemarkers gebruik verskillende maniere om die sensoriese gehalte van heuningbostee te bepaal en dit oor te dra, en regeringsregulasies in Suid-Afrika bevat nie spesifieke sensoriese kwaliteitstandaarde hieroor nie. Gevolglik beland tee van wisselende gehalte in die mark.

(Foto: Verskaf)

“Soos wat die aanvraag na heuningbostee toeneem, moet alle produksielotte aan die beste gehaltestandaarde voldoen. Net gehalte-teelotte behoort die markplek te bereik,” sê sy.

Du Preez het ʼn kwaliteitgraderingstelsel ontwikkel om die sensoriese eienskappe van verskillende teelotte te bepaal en te beskryf.

Sy het ʼn datastel as vertrekpunt hiervoor gebruik wat sensoriese ontledings, kleur en troebelheid van 585 produksielotte wat tee van goeie sowel as van ʼn mindere gehalte verteenwoordig.

Voorts het sy universele chemiese verwysingstandaarde geïdentifiseer om voedselgebaseerde verwysingstandaarde te vervang wat in die aromaleksikon van heuningbostee aangedui word.

Die chemiese verwysingstandaarde verteenwoordig die spesifieke aromakenmerke van die tee. Dit kan gebruik word om teeverwerkers en bemarkers te help om heuningbos se sensoriese woordeskat, waaronder beskrywings soos “fynbos-soet” en ongewenste smake soos “medisinaal” en “rokerig”, te begryp en oor te dra.

Sy het ook verskillende klasse van sensoriese gehalte en spesifikasies vir “hoë”, “gematigde”, “lae” en “swak” kwaliteitsklasse ontwikkel, deur verskillende eienskappe van die tee te integreer.

“Hoë-gehalte heuningbostee het ʼn rooierige bruin kleur, ʼn hoë intensiteit van blomagtige, vrugtige en soet aromas, met ʼn effense soet smaak en ʼn frank mondgevoel,” sê Du Preez.

“Tee van swak gehalte word gekenmerk deur ʼn oorwegend smaaklose sensoriese profiel en hoë intensiteit van ongewenste smake, waaronder ‘rookagtig’, ‘medisinaal’ en ‘muwwerig’.”

Om hierdie nuwe graderingstelsel by te staan het Du Preez ʼn hersiene aromaleksikon opgestel, sowel as ʼn aromawiel wat die kenmerke van heuningbostee en die intensiteit daarvan visueel aandui. Sy het ook ʼn tellingkaart en kleurverwysingskaart opgestel.

Du Preez hoop dat hierdie nuwe sensoriese gehaltebeheermetodes deur maatskappye gebruik sal word om produksielotte akkuraat te beoordeel volgens gehalte en dat dit sal dien as vertrekpunt vir beheerregulasies oor sertifisering en uitvoerbeheermaatreëls.

Sensoriese kwaliteitsbeheer is van sleutelbelang om die volhoubare groei van die bedryf te verseker, meen Du Preez. “Dit is ook nodig om te verseker dat goeie teegehalte nie ingeboet word in die teel van plantmateriaal as deel van navorsing nie.”

Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het die navorsing gefinansier in samewerking met die Suid-Afrikaanse Heuningbostee-vereniging en die Departement van Wetenskap en Innovasie (DSI).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.