Pikkies sonder vere gehelp met voeding

Van die jong pikkewynkuikens wat nou gerehabiliteer word omdat hul ouers nie vir hulle kan sorg nie omdat hulle verveer. (Foto: Verskaf)

Tientalle Kaapse pikkewynkuikens op Dyer-eiland naby Kleinbaai is die afgelope paar weke van die eiland verwyder, in ʼn poging om hulle by te staan met voeding terwyl hul ouers verveer.

Die Afrika Pikkewyn-en-seevoëlrehabilitasiesentrum net buite Kleinbaai het op 5 en 8 November onderskeidelik 49 en 16 pikkewynkuikens in samewerking met Cape Nature op die eiland gaan haal om in hul sentrum versorg te word. Die sentrum is ʼn afdeling van die Dyer Island Conservation Trust (DICT).

Wilfred Chivell, internasionaal bekroonde mariene bewaarder en eienaar van Marine Dynamics, het gesê pikkewynouers is nie normaalweg swak ouers nie en sorg goed vir hul kuikens.

“Inteendeel, hulle swem honderde kliometers agter kos aan vir die kuikens, wat nog nie kan swem nie. Hierdie tyd van die jaar, tussen Oktober en November, is die einde van die broeiseisoen en kuikens is veronderstel om vet en gesond te wees en reg om uit hul neste geskop te word.

“Weens onbekende omstandighede begin sommige ouers egter nou al verveer voordat die kuikens uit die neste is. Die ouers moet dus nou ʼn dilemma trotseer omdat hulle nie alleen die kuikens moet voer nie, maar ook deur ʼn hele verveerproses moet gaan. Dit beteken dat hulle hul liggaamsgewig drievoudig moet vergroot om genoeg vetreserwes op te bou tydens die verveertyd. Hulle moet ook op land bly aangesien hulle nie geïsoleer is nie en dus nie kan swem om kos vir die kuikens te versamel nie.

Xolani Lawo (links) en Mervin Visagie, voëlrehabiliteerders by die Afrika Pikkewyn-en-seevoël-rehabilitasiesentrum buite Kleinbaai, versorg van die kuikens wat onlangs van Dyer-eiland afgehaal is. (Foto: Verskaf)

“Die kuikens sal dus op die eiland van honger vrek, want hulle kan ook nog nie swem sonder die verlange vetreserwes nie,” het Chivell verduidelik.

Volgens Chivell kan ʼn mens redeneer dat dit ʼn natuurlike seleksieproses is. “Ons moet egter ook onthou dat die mens voorheen al miljoene pikkewyneiers van broeiplekke verwyder het en tonne guano in die nesmaakgebiede van pikkewyne geskraap het. Daarom is hul neste, eiers en kuikens aan roofvoëls soos seemeeue en die natuurlike elemente blootgestel. Dit het bygedra tot die ineenstorting van die Kaapse pikkewynbevolkings. Voortgesette oorbevisting deur kommersiële vismaatskappye in die gebiede waarin die pikkewyne kos versamel, dra ook tot hierdie benarde situasie by.”

Chivell sê omdat ons nie in die volmaakte wêreld leef nie, moet ons aktiewe bewaringsmaatreëls instel om die moontlike uitsterwing van die Kaapse pikkewyn te voorkom. “Minder as 1% van die oorspronklike Afrika-pikkewynbevolking is in die natuur oor en ons moet iets doen. Om die kuikens wat ondervoed is en wie se ouers verveer na ons rehabilitasiesentrum te bring en met die hand groot te maak, is ʼn deel van die groter Afrika-pikkewyn-biodiversiteits- en bestuursplan.

“Hoewel rehabilitasie ʼn reaktiewe toetreding is, is dit belangrik dat soveel moontlik Afrika-pikkewyne gered moet word as deel van ons voortgesette bewaringspogings,” het Chivell gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.