Pitbull-eienaar in hegtenis geneem ná aanval

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Itumeleng Moeketse / Unsplash)

Die eienaar van twee pitbulls wat ʼn kleuter Sondag in Hennenman in die Vrystaat noodlottig verskeur het, sal Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Kapt. Stephen Thakeng, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat die man Maandagoggend in hegtenis geneem is, en sê verdere inligting oor die saak sal eers later vandag bekend gemaak word.

Die Bloemfontein Courant het die man as Lebohang Pali (21) geïdentifiseer. Na verneem word, word hy van die aanhou van gevaarlike honde aangekla.

Maroela Media het vroeër berig dat die pitbulls die driejarige seuntjie Sondagoggend omstreeks 09:30 in Sekori-Mpate aangeval en doodgebyt het. Een van die honde is deur gemeenskapslede doodgemaak en verbrand. Die Virginia‑dierebeskermingsvereniging (DBV) het bevestig dat die ander hond van die toneel verwyder en van kant gemaak is.

Die voorval volg nadat Olebogeng Mosime (8) van Vistapark in Bloemfontein op 12 November deur die bure se pitbull doodgebyt is. Die hond is op die toneel deur polisiebeamptes doodgeskiet.

In nóg ʼn voorval is drie pitbulls die afgelope naweek in Gatesville in Athlone aan die brand gesteek nadat hulle ʼn jong meisie aangeval en ernstig beseer het. Volgens die Kaap van Goeie Hoop‑DBV was dit die tweede voorval in een naweek waar pitbulls deur gemeenskapslede aan die brand gesteek is.

Die Stad Kaapstad het die aanvalle op dié honde Dinsdag ten sterkste veroordeel.

“Die debat van ʼn moontlike verbod op pitbulls woed nou al maande in die nasleep van talle aanvalle,” het JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, gesê.

“Dit is die Stad se standpunt dat geen dier inherent gevaarlik of gewelddadig is nie. Die eintlike probleem is hoe honde deur hul eienaars grootgemaak en opgelei word, maar ook inteling wat die temperament van ʼn hond beïnvloed. Verder is hierdie kwessie nie pitbull-spesifiek nie.”

Alderman sê die doodmaak van die honde in Athlone is nie geregverdig nie, aangesien diere-eienaars die verantwoordelikheid het om te verseker dat hul honde geen bedreiging vir enigiemand inhou nie en binne hul erf aangehou word.

“Dit is ook onwettig om ʼn dier seer te maak of te martel. Indien enigiemand kommer oor ʼn gevaarlike dier het, moet hulle dit by die DBV of wetstoepassingsowerhede aanmeld sodat daar dringend opgetree kan word. Ons kan nie ʼn situasie hê waar mense op hierdie manier eiemagtig optree nie.”

Hy meen die Stad neem die saak ernstig op en dat sy dierebeheereenheid die aanval op die meisie ondersoek.

“Die Stad sal nie skroom om gemeenskappe teen gevaarlike diere of hul eienaars te beskerm nie, maar ons doen ʼn beroep op gemeenskappe om nie buite die wet op te tree en vir hulself regsprobleme te skep nie.”

Intussen ondersoek die Kaap van Goeie Hoop-DBV die wrede doodmaak van die honde.

“Die Kaapse Dierewelsynsforum het talle uitdagings rakende die teel van gevaarlike honde geïdentifiseer. Die kern hiervan is die inteling van honde vir die doeleindes om hulle te verkoop of vir hondegevegte te gebruik.

“Die probleem word vererger deur honde-eienaars wat nie toegerus is om sogenaamde ‘kragrasse’ op te lei en behoorlik te beheer nie,” het Alderman gesê. Karen de Klerk, voorsitter van die Cape Animal Welfare Forum, sê honde het behoorlike sosialisering en opleiding nodig.

“Waar ʼn hond heeldag in ʼn beperkte ruimte aangehou word, en nie genoegsame oefening of sosiale interaksie met ander honde en mense kry nie, verhoog dit die risiko dat die dier aggressief sal wees en moontlik ʼn gevaar vir ander inhou.

“Diere-eienaarskap is ʼn massiewe verantwoordelikheid, en ons moedig lede van die publiek aan om deeglike navorsing te doen voordat hulle ʼn hond aanskaf. As jy enige vrae of bekommernisse het, raadpleeg jou naaste dierewelsynsorganisasie. Indien jou hond enige tekens van aggressie toon, oorweeg dit asseblief om die dier aan die dierewelsynsektor oor te gee.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.