‘Plaasmeisie’ spog met agt A’s

Lané Botha van die Hoërskool Hopetown. (Foto: Verskaf)

Al spog Lané Botha van Hoërskool Hopetown in die Karoo met agt onderskeidings, is sy ʼn plat op die aarde plaasmeisie. Sy is gebore en getoë in die Karoo. Vra jy haar wat motiveer haar om hard te werk, dan antwoord sy, “Ag, ek motiveer maar myself!”

Haar ouers boer met skape op ʼn plaas tussen Britstown en Strydenburg en sy was van gr. 1 af in die koshuis.

Lané erken sy is ʼn groot boekwurm en verslind Deon Meyer en veral FA Venter se boeke. “Hy het in die omgewing grootgeword, so ek geniet sy boeke.” Die boeke moet egter hardeband wees, sê Lané.

Vanjaar gaan sy optometrie aan die Universiteit Stellenbosch studeer. “Ek wou nog altyd met mense werk en nie met syfers nie.” Sy wil graag suksesvol wees in haar werk en reis – dit is haar drome.

Haar gunsteling-vakke op skool was lewenswetenskappe: “Ek hou daarvan om te sien hoe dinge in ʼn mens se lyf werk.” Sy geniet ook fisika, “want so sien ʼn mens hoe dinge in die wêreld werk.”

“Moenie jouself dood werk nie,” is haar raad vir vanjaar se matrieks. “Dis ʼn stresvolle jaar en dis belangrik om ook te rus!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.