Plasings by Gauteng-skole is ‘burokratiese kleitrappery’

lesufi-deur-ana-2019-03-11

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys. (Foto: ANA)

Die burgerregtegroep AfriForum sê hy is die afgelope twee weke oorval met klagtes van ouers wat steeds nie SMS-kennisgewings ontvang het met ʼn aanbod vir die plasing van hul kinders in skole aanstaande jaar nie.

Maroela Media het vroeër berig minstens 34 000 voornemende graad 1- en graad 8-leerders het nog nie plek in ʼn skool nie. Panyaza Lesufi, die LUR vir onderwys in Gauteng, het plegtig verklaar dat elke kind in die provinsie geplaas gaan word en het intussen die spertyd hiervoor na die einde van vandeesmaand verleng.

Talle ouers was Sondag woedend oor die chaos met die aanlyn plasingstelsel en het selfs beamptes aangerand en toerusting en geboue beskadig toe hulle na die departement se streekkantore opgeruk het in ʼn poging om plek vir hul kinders te verseker.

Ouers het woedend reageer oor die burokratiese rompslomp. (Skermgreep: Facebook)

Lesufi het weereens deurgeloop onder kritiek op die stelsel en hy het ouers daarvoor om verskoning gevra.

AfriForum sê intussen die plasingsproses is chaoties en ʼn burokratiese kleitrappery. Hy sê ook dit skep onsekerheid by ouers en leerders, het Carien Bloem, AfriForum se bestuurder van onderwys, gesê.

Sy het gesê skole stoei ook al geruime tyd om hul plasingslyste te laat klop met dié van die departement, omdat talle skole lyste van die departement ontvang het wat heeltemal van hul lyste verskil. AfriForum sê hy het reeds verskeie skole in dié verband bygestaan.

Bloem het gesê die aanlyn registrasiestelsel én die plasingsproses het talle probleme veroorsaak wat AfriForum reeds in Mei voorsien het en waaroor die organisasie die departement tóé al genader het.

(Skermgreep: Twitter)

“Die waarskuwings het egter op dowe ore bly val en nou vra Lesufi en die departement deurentyd om verskoning oor die foute, eerder as om te erken dat die stelsel ʼn mislukking is en skole toe te laat om self hul plasings te hanteer soos voorheen.”

Die departement het vandeesweek gesê ouers wat nog nie ʼn aanbod om plasing ontvang het nie, behoort dit binne die volgende maand te kry.

“Dit is baie onregverdig dat die skoleregistrasie- en plasingsproses ouers en leerders onder soveel spanning plaas. Lesufi verkondig wyd dat sy stelsel foutloos is, maar eintlik het dit in vier jaar nog geen sukses opgelewer nie,” het Bloem gesê.

“AfriForum sal aanhou om skole en beheerliggame by te staan in die stryd om die plasingsprobleme op te los voor die aanvang van die 2020-skooljaar.”

Sy het gesê daar word ook gekyk na maniere waarop soortgelyke chaos met die 2021-plasings verhoed kan word.

“AfriForum moedig ouers aan om deurgaans met die skool van hul keuse te kommunikeer en seker te maak hul kind of kinders is wel op die skool se plasingslys, al het hulle nog nie ʼn SMS-kennisgewing gekry nie,” het Bloem gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Koos B ·

lesufi,my tuin tegnikus en my huishulp tegnikus het almal een ding in gemeen as hulle iets opneuk (o sorry sorry)

piper ·

wat n grap is die lesufi. hy is baie gou om n eier te le veral as dit polities en teen afrikaanse skole en die onderwysers is. hy moet eerder as tuinwerker by n skool aangestel word.

Basjan ·

Lesufi sal nie erken dat hy ‘n fout gemaak het nie. Die alombekende “blame game” word gespeel. Ten minste word sy aandag nou besig gehou deur die vure wat doodgeslaan moet word oor die chaos wat daar in sy departement heers.

Peper ·

Hierid ouens hou ons behoorlik besig met die gaos en sit en giggel seker lekker. Hulle kry lekker as ons afhankilik en rooi gesig staan…

Julie Jansen van Rensburg ·

Waar is die dae toeouers self kon besluit by watter skole hulle hulle spruite kon inskryf, al was dit dalk in ‘n ander drop of provinsie, en almal was tevrede en genoemde spruite het geweet hulle moet maar hard werk, en vakansietyd saammet ma/pa/familie gaan uitspan. As Lesufienige verstand in sy kop gehad het, sou hy LA-A-_NK-al planne beraam het om die bestaande skole in die townships – wat stelselmatig uitmekaar val -of afgebrand is – weer te laat herstel, dan kon daardie kinders minstens nader aan hulle eie ouerhuise geskool raak – en die huidige sillabus opgradeer sodat genoemde spruite ook kan lees,spel en somme – maar nee, hierdie huidige bestel – ongeag wie aan bewind van onderwys is – probeer regmaak wat jare terug goed gewerk het… met ander woorde – soos die Engelse (of Amerikaners,of wie ookal) dit sou stel: “Trying to fix what is/was not broken…” Ai, dankie-tog, ekhet nie meer skoolgaande kinders nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.