Platgeslaan ná makelaar glo met miljoene verdwyn

Discovery het reeds ‘n ondersoek na die beweerde bedrog van stapel gestuur. (Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

Discovery ondersoek beweerde bedrog van nagenoeg R15 miljoen deur ʼn makelaar wat voorgegee het dat hy lede van die publiek se geld by die maatskappy belê het, hoewel die geld die maatskappy glo nooit bereik het nie.

ʼn Familie van die KwaZulu-Natalse Suidkus is onder diegene wat in hierdie stadium geen idee het of hulle weer die geld wat hulle belê het, gaan sien nie. “Ek en my man het ons medies verloor. Ons polisse. Dit is moeilik, ʼn geweldige terugslag, maar jy gaan aan. Jy moet maar,” het ʼn moedelose Sonia Beukes die afgelope week gesê.

Beukes en haar man, Johan (63), het deur hul dogter by die makelaar Tinus Jansen van Vuuren uitgekom en aanvanklik het sake klopdisselboom verloop. Sonia Beukes is in 2019 afgelê en het die geld wat sy destyds ontvang het – sowat R300 000 – deur Jansen van Vuuren laat belê.

Sy het maandeliks die opbrengs op die belegging ontvang en was tevrede dat haar geld in veilige hande is.

Die egpaar se dogter, Chantell Henning, en haar man, Martin, het terselfdertyd sowat R2,3 miljoen belê. Dié geld was onder meer afkomstig van ʼn uitbetaling wat Martin van die Padongelukkefonds gekry het. Die Hennings het ook hul huis in Gauteng verkoop en na Pennington verhuis, waar hulle ʼn ander huis gekoop het.

Hulle het ʼn huislening by FNB aangegaan en dit was danksy die belegging – en ʼn staat van die belegging wat Jansen van Vuuren verskaf het – dat die bank ʼn nuwe lening toegestaan het. Henning sê sy het deurlopend gesukkel om enige dokumentasie oor hul beleggings uit Jansen van Vuuren te kry, maar nadat die bank die staat aanvaar wat hy verskaf het, het sy meer gerus gevoel.

Vroeër vanjaar het die uitbetalings egter skielik opgedroog. Beukes sê hul navraag aan Discovery het hul grootste vrese bewaarheid: Daar was geen rekord van enige belegging nie.

Henning sê hulle het aan die begin van die jaar snuf in die neus gekry toe ʼn ander makelaar hulle gekontak het sodat dié persoon hul portefeuljes kon oorneem. Hulle was skepties oor die e-pos en het die oorspronklike makelaar gekontak wat hulle verseker het dat alles in orde is en ʼn nuwe makelaar bloot sy kliënte probeer steel.

In Mei het Henning weer ʼn oproep ontvang dat Jansen van Vuuren nie meer vir Discovery werk nie en wéér het hy by navraag glo benadruk dat iemand net sy kliënte probeer steel.

“Ek het in Junie, toe ons nie ons betaling kry nie, vir Discovery met ons beleggingsnommer gekontak. Hulle het my in kennis gestel dat daar nie so ʼn belegging bestaan nie,” sê sy.

Sedertdien voer hulle ʼn opdraande stryd om uit te vind wat van hul geld geword het en Jansen van Vuuren is skoonveld. Henning en Beukes sê briewe na die maatskappy het nog weinig antwoorde opgelewer. ʼn Ondersoeker het hulle wel tuis besoek en verklarings afgeneem en hulle het reeds bedrogsake by die polisie aanhangig gemaak.

Discovery het intussen skriftelik laat weet dat hulle nie aanspreeklikheid vir die voorval aanvaar nie en dat hulle dus nie die gesinne se geld gaan terugbetaal nie.

Tien beleggers glo bedrieg

Lianne Osterberger, woordvoerder van Discovery, sê die maatskappy se forensiese span het met ʼn ondersoek begin kort nadat die sake onder hul aandag gebring is. Hulle het ook Jansen van Vuuren se kontrak met Discovery opgeskort, die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) gevra om hom [en ʼn ander makelaar wat glo ook betrek word] se lidmaatskap te skrap en ʼn strafregtelike klag by die polisie aanhangig gemaak.

Osterberger sê Jansen van Vuuren was ʼn onafhanklike kontrakteur. Sy verduidelik dié kontrakteurs doen sake op Discovery se FSP-lisensie en bedryf hul eie ondernemings, maar Discovery is verantwoordelik vir die finansiële raad wat hulle met betrekking tot Discovery-beleid en -produkte gee. Hulle mag ook net Discovery-produkte en -polisse verkoop en niks anders nie.

Jansen van Vuuren het onder Discovery se FSP-lisensie sake gedoen toe die kliënte na bewering bedrieg is.

“Benewens Discovery se pogings is die Buro vir Versekeringsmisdaad (ICB) die dryfveer van die saak by die polisie. Die laaste van die kliënte se verklarings en bewysstukpakke is op 29 September 2021 aan die ICB oorhandig.

“Daar is tans vier strafregtelike klagte geregistreer: Twee by die Boksburg-polisie, een by die Mondeor-polisie en een by die Bramley-polisie. Die ondersoeker by die Boksburg-polisie is besig om al die sake te laat sentraliseer, indien dit moontlik is,” sê Osterberger.

Die bankstate van alle betrokkenes is reeds aangevra en die polisie het ʼn verklaring van Discovery versoek dat die maatskappy nié die geld ontvang het nie, dat die bankrekeninge betrokke nie dié van Discovery is nie, en of die maatskappy enige polisaansoeke van die makelaar se kliënte ontvang het.

Volgens Osterberger sou Discovery hierdie verklaring teen verlede Vrydag ingedien het.

“Sodra al die uitstaande bewysstukke bekom is, sal die saak aan ʼn senior staatsaanklaer vir hersiening voorgelê word.”

Discovery se ondersoek het intussen reeds tien individue geïdentifiseer wat glo bedrieg is. “Ons is aktief in verbinding met al die geraakte partye om ʼn begrip van die [beweerde] bedrog wat teen hulle gepleeg is te kry, asook om hulle te help om hul geld te herwin,” sê Osterberger.

Slagoffers het alles verloor

Intussen probeer die Henning- en Beukes-gesin bloot kop bo water hou. Die Henning-egpaar moes die afgelope paar maande in skuldberading geplaas word en kan nie eens meer die voltydse skoolgeld vir hul dogtertjie bybring nie. Hulle kon ook nie meer die betalings vir lewens- en korttermynversekering by Discovery bybring nie en dit het reeds verval.

Henning het vantevore haar ouers se mediese fonds by Discovery betaal, maar weens die finansiële penarie waarin hulle hul bevind, kon hulle nie die paaiemente byhou nie en die Beukes-egpaar is intussen ook hul mediese fonds kwyt.

Jansen van Vuuren het juis dié versekering en mediese fonds hanteer, en daarom het hulle hom volkome vertrou met die ander beleggings, sê Henning. “Ons wou juis ʼn stabiele toekoms vir ons dogter hê, nie die gemors waarin ons nou sit nie.”

Beukes sê ook ʼn mens “wonder altyd hoe mense hulle laat vang deur so iets”, tot dit self met jou gebeur. Sy het intussen ook ʼn klag by die FAIS-ombudsman ingedien en het ʼn verwysingsnommer ontvang, maar sê die ombudsman het in korrespondensie aangedui dat sy eers ná minstens 30 dae terugvoer kan verwag. Maroela Media se e-pos-navraag aan die ombudsman is onbeantwoord.

Maroela Media het Jansen van Vuuren op vyf verskillende nommers in die hande probeer, maar geen van dié oproepe is beantwoord nie. Whatsapp-boodskappe en boodskappe op Facebook het ook onbeantwoord gebly.

Keer só dat jy gevang word

Thys van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth (Foto: Verskaf)

Thys van Zyl, hoof van produkte by Everest Wealth, sê dit gebeur gereeld dat beleggers só ingeloop word.

“Dis baie hartseer, maar beleggers moet besef dat hulle nie net goedsmoeds kan aanvaar wat hul makelaar sê nie, en ʼn verantwoordelikheid het om te verseker dat die makelaar gekwalifiseerd en geregistreerd is wel hul beleggings hanteer soos ooreengekom.”

Hy sê veral in die geval van onafhanklike makelaars, waar groot fondsbestuurshuise soos Old Mutual of Sanlam nie namens hulle aanspreeklikheid aanvaar nie, moet kliënte seker maak hul makelaar het professionele vrywaringsdekking, sou iets met hul geld gebeur.

“Kliënte moet ook seker maak hul makelaar is by die FSCA geregistreer en dat hy wel gemagtig is om die dienste uit te voer wat hy aanbied. Kliënte moet ook aandring op ʼn statutêre kennisgewing, wat die makelaar se besonderhede, asook die besonderhede van jou opdragte aan die makelaar, bevat.” Hy raai kliënte ook aan om ʼn bewys van hul beleggings aan te vra en selfs direk by die betrokke fondsbestuurshuis navraag te doen oor hul belegging.

Van Zyl benadruk egter daar is baie betroubare en goeie onafhanklike makelaars en dat hy nie kliënte afraai om van dié dienste gebruik te maak nie, “maar kliënte moet hul huiswerk behoorlik doen”.

Volgens hom het slagoffers van dié tipe bedrog die opsie om die betrokke fondsbestuurshuis by die bedryf se ombudsman te verkla, ten einde die instansie te dwing om aanspreeklikheid te aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

JoHines ·

Maak seker dat die breedsprakerige finansieèle bestuurder persoonlik as FSP registreer is.

Dirk ·

Ai,die mense wil nie luister nie.Belê jou geld in n bank waar dit veilig is.Daar is soveel van die skelms daar buite wat mense van al hulle geld beroof en hulle het nie eers n skaamte daaroor nie..

Ek kan ·

Die probleem is dat maatskappye soos Sanlam nie persoonlik met jou wil sake doen, hulle smeer ‘n makelaar aan jou af. Jy het geen benul of die persoon oneerlik is of nie, dis nou goed en wel van mnr Thys van Zyl om te sê maak seker van dit of dat, maar hoe op aarde moet Jan Alleman dit nou doen?

VaalDonkie ·

Ja weet jy, ek het by FNB ‘n Share Investor rekening oopgemaak. Ek kry elke week ‘n epos van FNB af met “tips” oor aandele om in te bele met ‘n indikasie van hoe hoog hulle dink hy gaan raak, asook waar ek moet uitklim indien die verlies ‘n sekere vlak bereik het. Oor die afgelope jaar het daardie “tips” so met gemiddeld 12% gegroei en sommige soveel as 30%.

Dit werk vir my. En dan is daar ook opsies soos die Satrix top40 wat ‘n mandjie van die top 40 beste aadele is. Mens het nie rerig ‘n makelaar nodig behalwe as jy genoeg geld het dat ‘n halwe persent ‘n verskil gaan maak nie.

Perdeby ·

Stem saam met jou gaan dan direk na Discovery of ander instansies en belê dan, maar ‘n makelaar of iemand wat namens iemand ander handel ………….. jammer ek vertrou hulle nie.

Mauritz ·

Dirk, jy is heeltemal reg. Ongelukkig preek jy nou vir die mense wat nie in die kerk is nie. Oor ‘n jaar sit hulle maar weer snordiep in ‘n ander gemors.

Gerdus ·

Ek sou dink, dat indien iemand sake doen soos in die geval onder Discovery se FSP lisensie nommer dat hulle verantwoordelik is vir die geld?

VaalDonkie ·

Nee jong, Discovery worry net oor of jy jou geldjies elke maand inbetaal en of jy al gewaks is. Verder beteken hulle niks

ES ·

Ongelukkig werk dit nie so nie Gerdus – anders kan iemand maak of hulle jy is, mense indoen sonder jou wete, dan moet jy betaal? Werk mos nie so nie?

Hardekwas ·

Die afwenteling na “onafhanklike” finansiële adviseurs is sodat die versekeraar nie uif, mediesefonds bydraes, ens hoef te maak nie. Dus n groot finansiële besparing vir die versekeraar, gepaardgaande met geen verantwoordelikheid vir swak raad/diefstal deur die “onafhanklike” adviseurs nie.

Misky ·

Die skelms kom net met meer en meer slinkser en skelmer streke vorendag. Kan soms nie glo wat ek lees nie. Sterkte aan die slagoffers van hierdie kriminele

Blikkies ·

Dan is dit nog ons eie mense! en almal weet hoe moeilik dit is vandag in die land, dit maak dit nog erger.

Wielspore ·

My skoonma (Huisvrou) het so ‘n belegging by ‘n bekende versekeraar is Vanderbijlpark gedoen vir ‘n vaste termyn. Toe die termyn verstreke is was die geld op, makelaar het intussen afgetree, spoor hom wel op en al wat hy sê is, ek is afgetree, praat met die versekerings maatskappy.
Hy was die enigste een wat vir skoonma die beste rente koers op haar belegging gegee het, hierdie ekstra rente was lyfrente wat die kapitaal opgevreet het. Na my mening is sy uitgebuit weens haar gebrek aan kennis.

VaalDonkie ·

My Ouma het in die 90’s altesaam R30000 in so ‘n vaste belegging gehad. Toe sy vroeer hierdie jaar sterf, verneem ek sy het die belegging aan my bemaak. Daar betaal hulle R7000 aan my uit. Presies genoeg vir my om vir haar verassing te betaal, en ‘n bottel wyn van R120 vir myself te koop. Nou vra ek vir jou: hoe word R30000 in 1990 se Rande, R7000 in 2021 se Rande?

JoHines ·

“doen sake op Discovery se FSP-lisensie en bedryf hul eie onderneming” Dit is hoe dieskels tewerk gaan. Daar is baie van hulle.

ES ·

Ek glo nog altyd mens bestuur jou geld en jou beleggings self. Om te se jy het nie die kennis nie is ‘n flou verskoning – ek het ook nie die kennis gehad nie, maar ek het myself geleer. Daar is baie bronne, webtuistes en YouTube videos waar jy jouself kan inlig.

My vrou se grootouers het amper al hul pensioengeld in die Krion skema in die vuildriehoek verloor. Daar is baie gewetenlose mense daar buite.

VaalDonkie ·

Ja jy weet, ek het dieselfde gedink. my bank het ‘n tipe rekening waarmee jy direk op die JSE kan aandele aankoop en verkoop. En hulle stuur vir my eenkeer ‘n week wenke oor aandele en waar die mikpunt en “stop loss” is. Ek sit ‘n klein alarmpie aan vir beide, en dan verkoop ek as hy die top of die onderkant bereik het. Dus doen ek dieselfde skuiwe as wat die slim ouens maak, maar ek is self in beheer van als.

VaalDonkie ·

En jy hoef nie eens rerig te weet van kers grafieke en wiskunde nie. Jy volg net wat die mense in die weeklikse eposse aanbeveel (of nie).

Pablo ·

If it sounds to good to be true bly weg. Hoe val mense vir die bedrog.

Wicus ·

Ek het destyds geld in Sharemax bele, dis als weg. Gelukkig was dit ‘n proefneming, dus nie baie nie. Ook op aanbeveling Saambou aandele gekoop en 3 maande later het Saambou gevou. Die les, doen self jou beleggings, hou maar by die bewese ouens, moenie gierig wees nie, bly weg van ‘Fly by nights’, en versprei tussen bate klasse, dis nie so moeilik nie, goud, aandele, regeringsuitgifte, geldmark, as een vou is die ander nog daar.

Martie Smartie ·

Enige een wat in elke geval enige iets met Discovery Bank te doen wil he, is nie baie wys nie. Ons almal weet wie is hulle aandeelhouers. Maar die kliente waarteen gediskrimineer word, se geld is mos goed genoeg ne mnr Gore

Alma ·

Klink omtrent of jy ‘n kursus moet loop om nie gevang te word nie. Jinne, watter gewone ou gaan weet om al die goed te doen, of eers waar om te begin om seker te maak alles is in orde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.