Polisie gedagvaar ná Krugersdorp-verkragtingslagoffers se inligting uitlek

Verskeie vroue is op 28 Julie deur ’n groep gewapende mans in West Village verkrag. (Foto: SAPD)

Die Nasionale Inligtingsreguleerder het ’n dagvaarding aan die SAPD uitgereik oor besonderhede wat verband hou met die uitlek van persoonlike inligting van die Krugersdorp-verkragtingslagoffers.

Die dagvaarding volg nadat die polisie versuim het om voldoende inligting te verskaf oor die omstandighede wat gelei het tot die bekendmaking van die agt vroue se persoonlike inligting. Dié vroue is op 28 Julie deur ’n groep gewapende mans in West Village verkrag.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn ondersoek van stapel gestuur is om vas te stel of polisiebeamptes sekere bepalings van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi) oortree het nadat slagoffers se name, ouderdomme, huisadresse en die aard van die oortredings teen die slagoffers op Whatsapp versprei is. Die inligting is na bewering deur die polisie uitgelek.

Die polisie was veronderstel om alle toepaslike inligting teen 15 Augustus aan die reguleerder te verskaf, maar het uitstel tot 24 Augustus versoek. Die reguleerder het ʼn verlenging tot 24 Augustus toegestaan, maar teen dié datum het die SAPD slegs inligting vir een van die items in die amptelike inligtingskennisgewing verskaf.

“Die polisie het aangedui dat hulle eers verdere inligting kan verskaf sodra hulle hul ondersoek afgehandel het, maar het geen aanduiding gegee van wanneer hulle verwag die ondersoek afgehandel sal wees nie,” het die reguleerder Maandag in ʼn verklaring gesê.

Die reguleerder het bevind die SAPD se reaksie is onvoldoende en vandaar die besluit om ʼn dagvaarding uit te reik vir die inligting wat die reguleerder vir die doeleindes van die ondersoek vereis het. Die reguleerder sê om ’n deeglike ondersoek te kan doen moet die SAPD onder meer bevestig of die boodskap in enige ander formaat of platform buiten Whatsapp gesirkuleer is.

Die polisie moet ook ʼn verslag aan die reguleerder verskaf om vas te stel of die verwerking van slagoffers se persoonlike inligting in ooreenstemming met Popi geskied het, asook ʼn verslag oor die polisie se eie ondersoek na die verspreiding van sodanige inligting.

“Ons aanvaar nie onvoldoende reaksies op uitgereikte inligtingskennisgewings deur verantwoordelike partye nie. Dit belemmer die reguleerder se vermoë om ondersoeke na behore te doen.

“Dit het ’n ernstige uitwerking op die reguleerder se vermoë om die nodige hulp te verleen aan slagoffers wie se reg op privaatheid moontlik geskend is,” het adv. Pansy Tlakula, voorsitter van die reguleerder, gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Snuffelgids ·

Ek wonder of die polisie gesien het daai Zama Zama het n graaf agter sy rug lol. Kyk na die foto

Maritza ·

Mens kan niks verwag van ou Hoedjie en sy trawante nie. Onbevoegde kadawers

Shakespeare ·

Afrika o Afrika …….hoekom wil julle altyd teruggaan na die oertyd toe ??????

Catherina ·

Mens is so MOEG vir korrupsie, onbevoegheid, moord ens….what happened to our well run country. RSA has nothing to offer anymore except beautiful scenery and not even safe there anymore. My heart goes out to these poor women….imagine how they must be feeling…..

Anonymouse ·

Mooi so! Ek wens net dat as daar skadevergoeding is dat dit uit SAPS se sakke sal kom. Begin die geld uit hulle jaarlikse verhoging begrotes haal. Hierdie vrouens is alreeds so erg getraumatiseerd en nou is hulle persoonlike inligiting uitgedeel.

007 ·

Klomp useless goed die. En hulle kry vreeslike groot salarisse vir wat hulle doen en weet.

Swerwer ·

Glo nie die Regering en SAP weet wat ‘n “Sekerheidsklaring” is nie, en nog minder wat dit behels.

@n0Niem77 ·

Dagvaar Cele en CR in hul persoonlike hoedanigheid. Dit is mos nou die twee pelle aan stuur van land sake en veiligheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.