Polisie gryp eindelik in ná vlaag misdade omroeper tref

Reinette Myburgh is onlangs met ‘n mes aangeval en wag al ’n maand vir saaknommer van die polisie. (Foto: Verskaf)

Dit lyk of die polisie eindelik gaan ingryp nadat Reinette Myburgh (57), ʼn omroeper by Radio Kaapse Kansel, al weke lank in vrees leef nadat sy met ʼn mes in haar huis in Bellville in die Wes-Kaap aangeval is.

Myburgh het die voorval by die polisie aangemeld, maar ná byna ʼn maand het sy steeds nie ʼn saaknommer ontvang nie.

“Hulle het glo die dossier verloor,” het Myburgh Vrydag gesê.

“Daar is ook niemand in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.”

Myburgh, ook ʼn eiendomsagent en sosio-sielkundige, is op 8 April in haar kombuis oorrompel nadat sy ʼn inbreker onkant betrap het. Hy het haar onder meer in die rug, bors en skouer gesteek.

“Die mes is deur my skouer en het ook my long getref. Volgens die dokters het die mes my hoofslagaar met 4 mm gemis. Dit is met die Here se genade dat ek leef,” sê Myburgh.

“Hy [die aanvaller] het my foon en Bybelsak – wat vermoedelik vir hom soos ʼn handsak gelyk het – gesteel.”

Lede van die Bellville-polisiestasie het Myburgh wél Vrydag besoek en onderneem om dié voorval asook ander inbrake by haar huis die afgelope maand te ondersoek. Maroela Media het kort tevore ʼn navraag oor die voorvalle aan die polisie gerig.

“Ek is net dankbaar dat die polisie eindelik ondersoek gaan instel. Ek woon al vyf jaar hier en daar het nog nooit voorheen so iets gebeur nie.”

Myburgh sê dat daar sedert die eerste voorval al vier keer by haar ingebreek is.

“Twee keer by my motorhuis én by die twee woonstelle op my perseel. Dit sou ses keer gewees het, maar die ander twee pogings was onsuksesvol.”

Myburgh sê dat haar selfoon ook sowat twee weke voor die mesaanval uit haar motor gesteel is.

Volgens Myburgh het sy nie haar motor gesluit toe sy vinnig haar bril, wat sy in die huis vergeet het, gaan haal het nie.

“Toe ek terugkom, was my foon vort. Ek dink nie eens dit was ʼn hele minuut nie. Iemand moet my beslis dopgehou het. Ek het nie die diefstal by die polisie aangemeld nie aangesien my deur nie gesluit was nie.”

Kort daarna het ʼn man by die tuinwoonstel in haar erf probeer inbreek, maar gevlug toe die huurder hom gewaar het. Die polisie is ontbied en het glo drie uur later opgedaag, maar gesê dat hulle niks kon doen nie.

Myburgh is sowat ʼn week later aangeval.

“Dit is veronderstel om ʼn veilige woongebied te wees. Daar is egter ʼn oop stuk munisipale grond langs my huis en ek vermoed dat die persoon dalk van daar af toegang tot my perseel verkry het.”

Hoewel twee verdagtes ná afloop van een van die inbrake by haar motorhuis in hegtenis geneem is, is hulle vrygelaat weens ʼn gebrek aan bewyse. Dit is onduidelik of dié verdagtes ook vir die ander inbrake of die messteek-aanval verantwoordelik was.

“Ek is dankbaar vir wonderlike bure wat my geweldig ondersteun het en verlig dat die polisie nou die strate gaan patrolleer.”

Die polisie het nog nie op Maroela Media se navrae gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Surfer ·

Hulle sal ook nie reageer nie, klomp hopelose spul ANC pionne.

Ovelia ·

Ken ek nie ook di woorde-die dokumente is weg- nie?? Potch is ook so

isabelle ·

welkom in suid-afrika…..wanneer word iets aan hierdie dinge gedoen
polisie is beslis nie eers n opsie nie :(

hopelik was die bybel ook in daai sak dalk lees die man bietjie

OW ·

Dit is deel van die misdaad nuus,in die misdaad vodde Suid-Afrika.

AH ·

Martie Smartie, hoe dan nou? Jy het wel die berig gelees en lewer nog kommentaar ook. Dit was immers jou besluit om dit nie net te ignoreer een aan te beweeg nie! Each to his own – nuuswaardig vir mense wat in dieselfde omgewing woon….

Windhond ·

Ek was onder die indruk dat die Weskaap se Polisie baie meer gedisiplineerd en betroubaar is, ons in die Oos Kaap bly in die Wilde Weste van Afrika en by ons is die bogenoemde n normale verloop van sake en dis n onbegonne saak om n saak by die polisie aan te meld

Pieter J ·

Ek dink nie mense besef altyd hoe onveilig het dit hier in die skiereiland geword nie. ń Mens moet 24 uur van die dag op jou hoede wees. As jy nie paraat is nie wag daar probleme.

Chris ·

Dis tyd dat ‘n “tweede polisiemag” tot stand gebring word, waar hul soos van-ouds respek afdwing deur hul positiewe optrede en bilikke behandeling van alle mense. Cele en sy kaders speel wegkruipertjie wanneer dit by witmens sake kom. Was dit nou iemand anders, was die EFF en hele polisiemag eerste daar om hulp te verneem. Reinette bid jou alle sterkte toe.

Samuel ·

Hoe verloor mens ‘n dossier? Maklik, die klaagster is Wit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.