Polisie hou motoris ure lank in Centurion aan; eis glo duisende

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Scott Rodgerson/Unsplash)

Meer as vyf jaar nadat hy as tienerseun op ’n plaas aangeval is, moes ’n jong man (23) van Gauteng vandeesweek wéér in die loop van ’n vuurwapen vaskyk toe vermeende polisielede hom vir langer as drie uur in John Vorster-rylaan in Centurion aangehou het.

’n Pistool is gedurende dié traumatiese voorval eers teen die jong man se sy en later teen sy kop gehou voordat hy eindelik gedwing is om al die geld in sy bankrekening aan die polisiebeamptes oor te betaal.

Hy is glo ook gedwing om sy ma te bel sodat sy ook geld kan oorbetaal.

R6 000 later “gooi hulle my motorsleutel vir my en sê hulle wil my nooit weer sien nie”, vertel die jong man op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media.

Die polisiebeamptes het maar R28 in sy bankrekening agtergelaat.

“Ek het min vertroue in die stelsel gehad. Ek het nou nog minder. Ek het álle respek vir ’n polisiebeampte verloor,” vertel hy.

Só verloop gebeure

Argieffoto ter illustrasie.

Die jong man vertel dat hy Dinsdagaand ná werk saam met kollegas in Centurion by ’n restaurant gaan eet het.

Op pad huis toe het drie polisiebeamptes hom voorgekeer. Dit was ná 21:00 en daar was in daardie stadium geen ander voertuie op John Vorster-rylaan in sig nie.

Die polisiebeamptes het hom gedwing om uit sy bakkie te klim. Hulle het hom nié gevra om sy rybewys te wys nie, maar wel dat hy ’n alkohol-blaastoets doen.

Die jong man het ingestem, wetend dat hy nie alkohol gebruik het nie. Die polisiebeamptes het hom nietemin probeer oortuig dat hy ver bo die wettige perk is en in hegtenis geneem sal moet word.

Die slagoffer is egter nie toegelaat om die lesing ná die blaastoets te sien nie.

Hy vertel dat hy ná die blaastoets aangesê is om in die passasierskant van sy eie voertuig te klim. ’n Polisiebeampte het agter die stuur ingeskuif en ’n ent met die jong man gery voordat hulle agter ’n tweede polisievoertuig in John Vorster-rylaan stilgehou het.

Die slagoffer is toe weer aangesê om uit sy voertuig te klim en sy vuurwapen aan die polisiebeamptes te oorhandig. Hy het verduidelik dat hy nie ’n vuurwapen besit nie.

“Een van die polisiebeamptes het toe vir my gesê hy weet enige wit man dra ’n vuurwapen by hom. Hy het gesê indien ek nie my vuurwapen aan hom gee nie, sal hy uit selfverdediging moet optree. Hy het sy hand op sy pistool langs sy heup gehou terwyl hy dit vir my gesê het.”

Die jong man en die bakkie is nietemin deursoek voordat hy weer aangesê is om in sy bakkie te klim.

Die polisiebeampte het weer langs hom in die bestuurdersitplek gaan sit en sy hande geboei.

’n Ander polisiebeampte het toe gevra vir die jong man se selfoon sodat hulle kwansuis met sy prokureur of ouers namens hom kon kontak maak.

“Ek het vir hom gesê dat my selfoon ‘dood’ is omdat ek ’n verkoopsman is en baie op my foon is. Hy was heel vriendelik en het aangebied om my foon se battery vir my in sy voertuig te herlaai.”

Ná sowat 45 minute het die betrokke polisiebeampte teruggekeer met die selfoon. Hy het egter hierdie keer vir die selfoon se wagwoord gevra. Die jong man het aanvanklik geweier, maar later ingegee en die wagwoord verskaf. Die betrokke polisiebeampte is toe weer vort. Ná 15 minute het die polisiebeampte wéér teruggekeer – hierdie keer vir die wagwoord vir die motoris se bank-app.

Die jong man het geweier en die polisiebeampte in die bestuurdersitplek langs hom het ’n vuurwapen in sy sy gedruk.

Die jong man is gedwing om die wagwoord te verskaf en R2 500 is via e-wallet na ’n onbekende selfoonnommer (vermoedelik dié van een van die polisiebeamptes) gestuur. Hy is daarna ook gedwing om die limiet op sy bankrekening te wysig.

“Ek het aanvanklik geweier. Ek het gesê ek sal nié my limiet verander dat julle nóg geld by my kan steel nie. Toe druk die polisiebeampte langs my sy pistool teen my kop.

(Argieffoto: SA Polisie)

“Hy het gesê hy dink dit sal die beste wees as ek na die sersant luister.”

Die jong man het noodgedwonge sy limiet verander en die laaste oorblywende geld in sy rekening is oorgeplaas. Die polisiebeamptes het hom toe glo selfs aangesê om sy ma te bel sodat sy R13 500 kan oorbetaal.

Die jong man se ma het nie geantwoord nie. “Hulle dwing my toe om my 88-jarige ouma te bel om vir my ma te sê dat sy vir my geld moet oorbetaal.”

Die slagoffer se ma het slegs R1 500 oorbetaal voordat twee van die polisiebeamptes vermoedelik na ’n nabygeleë kitsbank toe is om die geld te onttrek. Met hul terugkeer is die jong man se motorsleutel in sy rigting gegooi en die vyf polisiebeamptes is vort.

Dit was ná middernag.

Die jong man vertel dat ’n vuurwapen tydens ’n plaasaanval in Desember 2017 in sy gesig gedruk is.

“Ek weet wat dit beteken. Jy moet doen wat hulle vir jou sê.”

DIe jong man se ma vertel aan Maroela Media dat haar seun erg getraumatiseer is ná die voorval.

“Dit maak jou bang vir ’n polisieman. Dit is nie hoe dit hoort nie. Wanneer jy daardie blou uniform sien, is jy veronderstel om daardie man of vrou te kan vertrou.”

Grandi Theunissen, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in die Tshwane-metroraad, sê voorvalle van hierdie aard het ’n tendens geword – en nie net in die Tshwane-metrogebied nie.

“Ek beveg dit hand en tand in Tshwane en 30 wetstoepassingsbeamptes is al strafregtelik aangekla vir voorvalle van hierdie aard. Beamptes van die Tshwane-metropolisie word egter in al dié gevalle aangekla.

“Dit is totaal onaanvaarbaar. Dit is terrorisering van lede van die publiek.”

Só maak mens

Theunissen raai motoriste aan om dadelik die wetstoepassingsbeampte te vra om hom of haar te identifiseer wanneer hulle voorgekeer word. Motoriste het ook die volste reg om te vra waarom hulle voorgekeer word.

“Moenie aggressief raak nie, maar staan op jou regte,” sê Theunissen.

Indien ’n wetstoepassingsbeampte van ’n motoris vra om ’n blaastoets te doen, het die motoris die reg om te vra op grond waarvan vermoed die beampte dat die betrokke motoris alkohol gebruik het.

Motoriste het ook die reg om ’n bloedtoets “wat in die hof sal staan” aan te vra eerder as ’n blaastoets. Die motoris moet dan na ’n hospitaal vervoer word waar die bloedtoets uitgevoer sal word.

Motoriste het ook die reg om die bevoegdheidsertifikaat en kalibrasiesertifikaat van die wetstoepassingsbeampte te versoek voordat ’n blaastoets uitgevoer word.

Maak ook seker dat die blaastoestel voor gebruik verseël was.

“Jy het regte as lid van die publiek. Jy moet met respek behandel word, maar jy moet ook met die nodige respek teenoor die beampte optree.”

Maroela Media het ’n navraag aan die SAPD gestuur en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ronél ·

Ek kan aan baie negatiewe byvoelike naamwoorde dink om my misnoeë en haat uit te spreek – nie meer ‘n trotse landsburger nie.

mariannaj ·

Dis maklik vir Grandi Theunissen om voor te skryf wat om te doen maar die jong man was met ‘n geweer teen die kop gedreig en kon dus niks voorwaardes van sy kant af stel nie.

Dis ‘n skande indien mens nie eens die polisie kan vertrou nie. Ek hoop dat daar stappe teen die polisiemanne geneem gaan word. Hulle was in ‘n polisievoertuig en dus hoort hulle te weet wie op daardie tydstip in daardie omgewing was.

Dandeleen ·

Die ATM waar die geld getrek was behoort beeld materiaal te hê, maak ‘n saak van ontvoering, diefstal en poging tot moord.

Elma ·

By wie moet mens n saak maak? As ek die arme man was, sou ek beslis te bang wees om polisie toe te gaan om hulle makkers aan te gee.

Elma ·

Identifiseer jouself asb. My naam is Thabo, gee jou bank wagwoord dat ek jou geld kan vat.
Ek moet na n plaaslike hospitaal vervoer word.
uhm….neee, hiers n geweerloop teen jou kop, jy mag op niks aandring nie. Lede van die publiek se regte is NUL. Stupid advies rerigwaar. Almal weet ons het regte, almal behalwe sommige lede van die polisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.