Polisie krap kop oor moord op haweloses

magnolia-dell-park

Magnolia Dell-park in Muckleneuk, Pretoria. Foto: Tshwane.gov.za

Die polisie het ʼn ondersoek van stapel gestuur ná die liggaam van nog ʼn hawelose man Sondag in Muckleneuk se gewilde Magnolia Dell-park in Pretoria gevind is.

Dit is die derde liggaam waarop in dié omgewing in die afgelope twee weke afgekom is.

ʼn Tweede liggaam is Saterdagmiddag in dieselfde park ontdek en die eerste liggaam is twee Saterdae gelede in ʼn veld naby die Mearspark-treinstasie gekry. Die betrokke veld is sowat 2,8 km van die park geleë.

Volgens kapt. Daniel Mavimbela, woordvoerder van die Sunnyside-polisie, wil dit voorkom of al drie mans op dieselfde wyse vermoor is.

“Die oorledenes is met ʼn stomp voorwerp geslaan en het veelvoudige steekwonde aan hulle bolywe gehad. Die motief vir die moorde is nog onduidelik en die identiteite van die drie mans moet nog vasgestel word,” het Mavimbela gesê.

Die Sunnyside-polisie het hulle forensiese deskundiges, ʼn netwerk van talle informante, asook misdaad-intelligensie by die ondersoek na die moorde betrek.

Mavimbela sê die polisie het intussen begin om haweloses in die gebied van die moorde bewus te maak.

“Ons het instansies, wat met haweloses in die omgewing werk, gevra om saam te werk om haweloses se veiligheid te verseker. Dit sal ook veiliger vir die mense wees as hulle snags saam in groepe kan beweeg.”

Mavimbela het ʼn beroep gedoen op enige iemand met inligting oor die saak om 0860 010 111 te skakel of ʼn SMS te stuur na 32211. Die inligting kan ook anoniem verskaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan ·

Hoe siek moet mens wees om ander mense (onskuldige arm mense) dood te maak. Dit is onbegryplik. Hoop die polisie vang die moordenaar gou.

willem Botha ·

Ek sal nie my asem ophou as jy op die polisie staatmaak om iemand te vang nie .

Lindtjies ·

Daardie mense besit alreeds niks nie, hoekom nog hulle lewe van hulle af weg vat. Dit kom ook nou al meer voor. Hier in ons dorp het hulle ‘n hawelose man ‘n paar weke terug so erg aangerand en ‘n week terug ‘n kar wag so geslaan dat hy aan sy beserings beswyk het. So onnodig

GM ·

Die vraag is – hoekom moet daar so baie haweloses wees terwyl die president se inhuldiging R120 miljoen gekos het? Dan praat ons nie eers van wat die ministers ens. se motors, huise en partytjies kos nie. So kan die lys aangaan van hul spandabelrigheid.
Plaas die regering probeer om werkloosheid te verminder en almal te leer om te werk vir wat jy wil hê in plaas van net te kry, soos hulle net kry.

charmaine ·

3 Hawelose mense hoe kan hulle, hulself verdedig? Dis n lafaard wat so maak.

Ursula ·

As die dodetal op 3 staan met omtrent dieselfde beserings en modus operandi, is daar nie dalk n serial moordenaar in die omtrek?

piet piet ·

Kry Mike Bolhuis in om die saak te ondersoek want ongelukkig is Piet Byleveld nie meer met ons nie en dit is te ingewikkeld vir die saps van 2019.

PJC ·

Ek kan verstaan dat sommige mense nie van hierdie haweloses hou nie want sommige van hulle skep groot probleme en is selfs by misdaad betrokke maar hoe enige mens dit kan regkry om sommer net mense te vermoor gaan my verstand te bowe.

lh ·

piet piet – Bolhuis sal net sê hulle was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek! Net soos sy kommentaar was met die 2 tieners wat langs en in die bakkie vermoor is in Johannesburg. . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.