Polisie maak skoon in Bityi

‘n Polisiebeampte maak seker dat een van die skape aan sy regmatige eienaar terugbesorg word. (Foto: SA Polisie)

Die polisie in die Oos-Kaap se hande staan oënskynlik vir niks verkeerd nie.

Nie net is hulle vasbeslote om misdadigheid in die Bityi-omgewing in die provinsie uit te roei nie, hulle jaag sommer ook skaap aan om die vee met hul regmatige eienaars te verenig.

Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder in die provinsie, sê die polisie se “genadelose vasbeslotenheid” om alle vorme van misdaad in die streek te stuit, het beduidende vrugte afgewerp sedert ʼn afvaardiging bykomende polisiebeamptes op 1 Mei in dié gebied ontplooi is.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiehoof, het vroeër opdrag gegee dat die bestaande magte in die gebied versterk moet word deur ʼn ingreepspan wat steeds in die gebied kampeer – ʼn stap wat volgens die polisie oorweldigende steun van die regering, tradisionele leiers en die meeste inwoners van die gebied gekry het wat nou al “geruime tyd onderwerp word aan ongekende intimidasie en marteling” deur misdadigers.

Volgens die polisie is misdadigers verantwoordelik vir ʼn skrikbewind in die meeste nedersettings in die gebied.

Kinana sê die doel van die ontplooiing was om te verseker die oppergesag van die reg en voortgesette vrede en bestendigheid heers in die streek.

Die polisie het beslag gelê op verskeie vuurwapens en ammunisie. (Foto: SA Polisie)

Voor die multidissiplinêre ingryping in die gebied het inwoners onder veediewe en moord deurgeloop. Huisrooftogte was aan die orde van die dag en gesteelde voertuie en dwelms is byna op ʼn daaglikse grondslag in nedersettings gevind.

Volgens die polisie sien Bityi nou heel anders daarna uit.

“Wat eens beskou is as ʼn slag- en speelveld vir veediewe is nou ʼn betreklik vreedsame gebied vir wetsgehoorsame burgers. Die polisie is bewus van ʼn paar misdadigers wat nog ander distrikte gebruik om hul aanvalle op Bityi uit te voer. Ondersoeke is egter aan die gang om deurslaggewend teen hierdie misdadige elemente op te tree.”

Talle bykomende polisiebeamptes is ontplooi, onder meer om veediewe in die gebied vas te vat. (Foto: SA Polisie)

Talle inhegtenisnemings is die afgelope paar weke gedoen. Dit sluit in die besit van ongelisensieerde vuurwapens of ammunisie, dwelmhandel, moord, veediefstal en oortredings van die Wet op Immigrasie.

Die polisie het beslag gelê op 428 patrone, holsters, magasyne, 41 ongelisensieerde vuurwapens, 408 skape en 137 gevaarlike wapens.

Die skape is reeds aan hul regmatige eienaars terugbesorg.

Die polisie het ook beslag gelê op verskeie selfone, speelgoedvuurwapens en drank van sowat R45 000. Tavernes wat nie aan regulasies voldoen nie, is ook gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MAGRIETHA ·

Sterkte welgedaan hou so aan hoop die hele land volg jul voorbeeld

Althes ·

Dis omdat hulle so ñ uitsonderlike generaal het,nl Genl Ntshinga wat misdaad vasvat.

Die Boerepompie ·

Baie baie mmoi sap dankie vir die van julle wat julle bes doen

Francois ·

Wens dit kan in meer dele van die land ook gebeur. Waar ek in Pretoria bly is die plakkerskamp so groot uitgebrei dat diefstalle 500% gestyg het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.