Polisie oorweeg skrywe oor vuurwapenlisensies

(Argieffoto: Marcus Trapp/Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ontvangs van die burgerregteorganisasie AfriForum se skrywe oor hernuwingsaansoeke vir vuurwapenlisensies gedurende die algehele landwye afsondering bevestig.

Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid, het Dinsdag in ’n verklaring gesê die SAPD het in ’n skrywe wat deur brig. Lawrence Nkgweng onderteken is, ontvangs van AfriForum se skrywe van 25 Maart 2020 bevestig. Dié skrywe is aan genl. Bheki Cele, die minister van polisie, en genl. Khehla Sithole, die nasionale polisiekommissaris, gerig.

Maroela Media het vroeër berig die skrywe het onder meer die organisasie se kommer uitgespreek dat die afsondering vuurwapeneienaars se vermoë om hulle vuurwapenlisensies betyds te hernu negatief sal beïnvloed. AfriForum het in die skrywe ook navraag gedoen oor die moontlikheid dat ’n uitstelperiode aan vuurwapenlisensiehouers oorweeg moet word.

“Die feit dat die polisie per skrywe erken dat hulle aandag aan hierdie aangeleentheid gee, bevestig dat hulle nou kennis dra van die onsekerheid en petalje waarin die geraakte vuurwapeneienaars hulself bevind,” meen Kamfer.

Volgens Kamfer sal AfriForum die situasie monitor en aandring op stappe om vuurwapeneienaars by te staan gedurende die afsonderingstydperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jessey ·

Het nou al ‘n rukkie gesit en wonder of hulle ook die Amnestie Periode gaan verleng

Cherokee ·

Een van my twee wit lisensies is geldig tot 12/10.2020. Die ander tot 29/01/2029. Die eerste sal ek dus hernu nie later as die eerste week van Julie. Ek vra myself somtyds af waarom ek dit hernu want ek het groen lisensies vir albei. Dubbel gelisensieer dus want die groen weergawes kan nooit verval nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.