Polisie se ‘tannie Karin’ is jong slagoffers se stem

Kapt. Karin Botha (Foto: Verskaf)

ʼn Polisiebeampte wat ʼn integrale rol gespeel het om die sogenaamde Dros-verkragter agter tralies te sit, is die spreekwoordelike stem vir honderde “stemlose jong slagoffers” van mishandeling.

Kapt. Karin Botha is ʼn forensiese maatskaplike werker verbonde aan die Germiston-polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe.

Dit is een van Botha se hoofverantwoordelikhede om deskundige getuienis in die hof te lewer in sake wat met kindermishandeling verband hou. Sy word in staat gestel om dié getuienis te lewer deur ouderdomsgepaste tegnieke te gebruik om akkurate inligting van jong slagoffers van ʼn misdaad te verkry.

Botha het vanjaar reeds bewys hoe sy ʼn stem aan kinders gee wat voel misdadigers het dit weggevat.

Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê met Botha se hulp het die hooggeregshof in Pretoria vroeër vanjaar al die nodige feite gehad om ʼn 42-jarige pa van Meyerton ʼn swaar straf op te lê vir onder meer die verkragting van sy twee biologiese dogters.

Die pa is vier lewenslange tronkstraf opgelê, asook ʼn bykomende 73 jaar vir verskeie verkragtings. Die pa is ook skuldig bevind op aanklagte van seksuele gereedmaking, bloedskande, die besit van kinderpornografie en mishandeling.

“Die pa het skuld beken op al die aanklagte teen hom en erken dat hy altesame vyf kinders tussen 2019 en 2020 seksueel mishandel het, onder wie twee van sy biologiese dogters,” sê Mathe.

“Die slagoffers was ten tyde van die misdrywe tussen nege en 13 jaar oud.”

Botha is aangewys om hierdie slagoffers se verklarings te bekom en het hul bevoegdheidsbeoordelingsverslae saamgestel wat die hof gehelp het om ʼn gepaste vonnis op te lê.

Sy het destyds gehelp om ʼn slagofferimpakverslag saam te stel in die saak teen Nicholas Ninow; die man wat in 2018 ʼn sewejarige dogtertjie in die badkamer van ʼn Dros-restaurant verkrag het.

Sy het ook as ʼn deskundige getuie opgetree wat die hof gehelp het om Ninow eindelik lewenslank tronk toe te stuur.

Botha is in 2020 deur die minister van polisie vereer vir “die instrumentele rol wat sy gespeel het in die vonnisoplegging van ʼn pedofiel vir verskeie aanklagte van die besit, vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie sowel as kindermishandeling”. Die skuldige is lewenslange tronkstraf opgelê, asook ʼn bykomende 100 jaar.

Volgens Botha beland daar jaarliks meer as 100 sake wat verband hou met seksuele kindermishandeling op haar lessenaar.

Die kindertjies waarmee sy werk verwys graag na Botha as “tannie Karin”, maar sy sê sy is net dankbaar dat sy enigsins ʼn verskil in dié kinders se lewens kan maak.

“Ouers, voogde, onderwysers of enige ander volwassene moet nooit ʼn kind se woord betwyfel of dit afmaak as niks wanneer hulle die moontlikheid van seksuele misbruik bekend maak nie,” sê Botha.

“Kontak eerder die naaste polisiestasie, maak ʼn saak aanhangig en tree in die beste belang van ons kinders op.”

Mathe sê Botha is die verpersoonliking van die gesegde: “Regte helde dra nie skouermantels nie”.

“Sy is sowaar ʼn stem vir ‘stemlose’ kinderslagoffers.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Martie ·

Nou wat van al die kinders wat op 10-11 jarige ouderdom kinders het? Word dit nie ook as ‘n seksuele misdaad gesien nie? Waarom word die man of seun wat verantwoordelik is vir daardie kind se swangerskap nie ook as ‘n seksuele oortreder gesien en behandel nie. Sekerlik moes daar ‘n seksdaad plaasgevind het om ‘n swangerskap te veroorsaak, genoem statuêre verkragting, of is daar nie meer so iets in die regstelsel nie. Kaptein spoor hulle op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.