Polisie veg dapper om gesin uit brand te red

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Brian Fegter/Unsplash)

Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Saterdag in die vroeë oggendure moedig probeer om ʼn gesin van vyf en hul oppasser uit hul brandende huis te red.

Drie van die gesinslede het egter tydens die voorval omgekom.

Kapt. Ursula Roelofse, polisiewoordvoerder, sê twee konstabels het om 04:30 hul lewe gewaag nadat oproepe ontvang is dat ʼn huis in Huntstraat in Aliwal-Noord in die Oos-Kaap aan die brand geraak het.

Terwyl daar gewag is op lede van die brandweer het konstabels Siyabonga Tabane en Florince Nwabisa oor duiwelsvurkheining geklim om toegang tot die erf te kry. Die huis was met diefwering beveilig en die twee konstabels moes ʼn ruit breek om die gebou binne te gaan.

ʼn Ethiopiese gesin en hul oppasser was in die huis ten tyde van die brand.

Die ma, seun, twee dogters en hul oppasser is uit die huis gered, maar die pa was nog in die huis vasgekeer.

Die pa, wat in sy 40’s is, kon egter nie betyds gered word nie en het in die brand omgekom.

“Die 12-jarige seun is later ook op die toneel dood en sy tweejarige suster is met haar aankoms by ʼn hospitaal dood verklaar,” sê Roelofse.

“Die ma, een van haar dogters en die oppasser het die tragiese voorval oorleef.”

Dit is nog nie in hierdie stadium bekend wat die brand veroorsaak het nie, maar alle gespesialiseerde eenhede is ontbied om die saak te ondersoek.

ʼn Geregtelike doodsondersoek is ook reeds van stapel gestuur.

Brig. Asogran Naidoo, waarnemende distrikskommissaris, het die lede se dapper optrede “wat dit moontlik gemaak het dat van die familielede gered kon word”, geloof. Hy het ook sy innige meegevoel met die familie betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koei ·

Wat van die brandweer manne wat daar was ? Wat het die polisie toe gedoen? Probeer die vuur dood blaas? Die brandweer was BAIE vinnig op die toneel. Die berig is misleidend, volgens die polisie sê 3 mense, die brandweer sê 4? Wat van die brandweer man wat deur die vloer geval het wat ook dood kon gebrand het? Sy eie mense moes hom uithaal nadat hy agter die pa aangegaan het in die huis? Die pa wou sy kinders gaan haal, maar het dit nie gemaak nie.

Die regte en korrekte inligting moet gepubliseer word, dit veroorsaak verwarring as die een party so sê en die ander party so sê.

Korrekte inligting is rerig van belang, veral in hierdie tragedies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.