Polisie vorder effens met DNS-agterstand in Wes-Kaap

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die landwye agterstand in DNS-toetse met betrekking tot seksuele misdrywe het in die Wes-Kaap met 28% afgeneem.

In antwoord op die DA se parlementêre vrae in dié verband, het die polisie aangedui dat agterstallige sake in dié provinsie van 37 647 in Julie tot 27 146 in September gedaal het.

Maroela Media het vroeër berig daar is ʼn ernstige agterstand in DNS-toetse wat gedoen moet word om derduisende kriminele sake af te handel omdat die elektroniese registerstelsel van die polisie se forensiese laboratorium, wat bewysstukke vir DNS-ontleding bestuur, buite werking is.

“Hoewel ons die afname in agterstallige sake verwelkom, bly die besonderhede oor Bheki Cele, polisieminister, se skakeling met die polisie se Forensiese Wetenskapslaboratorium (FSL) steeds onduidelik,” het Gillion Bosman, DA-LP en voorsitter van die Wes-Kaapse staande komitee vir maatskaplike ontwikkeling, Donderdag in ʼn verklaring gesê.

“Toe ek gevra watter pogings die minister aanwend om die agterstand te hanteer, het die terugvoer vaagweg gesuggereer dat die polisie op die oorsaak van die agterstand by die FSL fokus.”

Cele het maande gelede reeds beloof dat die probleem aandag geniet, maar gesê dat die agterstand eers teen November 2022 ingehaal sal word.

In die lig hiervan het Bosman bykomende versoeke ingedien vir spesifieke besonderhede van vier “ingrypings en vergaderings” wat Cele na bewering in Mei, Junie en September vanjaar geïnisieer het.

“Inwoners van die Wes-Kaap verdien meer as krummels van minister Cele. Die nasionale regering het reeds die DNS-Wet (2013) oortree deur toe te laat dat enige sodanige agterstand 30 dae oorskry.”

Bosman meen Cele moet die publiek in sy vertroue neem en oop kaarte speel oor watter stappe gedoen is om seker te maak dat die probleem opgelos en nie weer herhaal word nie.

Dit is nie duidelik wanneer die DA terugvoer op hul versoek aan Cele sal ontvang nie.

“Hoewel die heersende situasie betreurenswaardig bly, is dit positief dat die DNS-agterstand wat verband hou met seksuele misdrywe op ’n afwaartse trajek is. Tragies genoeg word geregtigheid vir vroue in Suid-Afrika steeds ernstig belemmer.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Shakespeare ·

So julle is nog 72% agter. Ongelooflike Afrika prestasie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.