Die polisie in Limpopo het die hulp van die publiek gevra om ʼn 46-jarige man op te spoor.
Konst. Maphure Manamela, woordvoerder van die polisie, het gesê Johannes Michal Koekemoer van Louis Trichardt is op 8 Februarie die laaste keer gesien toe hy sy huis verlaat het op pad na Pretoria.
Koekemoer was glo op 1 Maart in verbinding met familie, maar sy foon is sedertdien af.
“Intussen was die polisie se pogings om hom by vriende of familie op te spoor onsuksesvol.”
Enigiemand met inligting oor waar Koekemoer hom moontlik bevind, word versoek om sers. Mavhungu Malebo by 071 230 0968 of 015 519 4300 te bel.