Polisie weer bo-aan korrupsielys – verslag

(Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is die tweede agtereenvolgende jaar in Corruption Watch se jaarlikse verslag oor die ontleding van korrupsieneigings, die instelling waaroor fluitjieblasers die meeste klagtes aangemeld het.

Klagtes teen polisie

Altesaam 13% van alle klagtes by Corruption Watch was teen die SAPD.

“Fluitjieblasers gee hul misnoeë en konsternasie met die polisie te kenne in ʼn wye verskeidenheid bewerings wat hoofsaaklik die wreedheid, onbedagsaamheid en onmenslikheid teenoor die publiek, asook ʼn gebrek aan respek vir wet en orde deur amptenare en beamptes blootlê,” lui die verslag.

Corruption Watch sê versoeke vir omkoopgeld is verantwoordelik vir 31% van korrupsieklagtes en polisielede eis glo omkoopgeld van verdagtes én slagoffers – en soms van klein sakeondernemings of gewone lede van die publiek.

Omkoopgeld word volgens die organisasie betaal sodat dwelmhandelaars sonder skroom kan sake doen, of sodat dossiere verdwyn.

“Klein sakeondernemings, meestal informele handelaars, se items word gekonfiskeer en dan terugbesorg sou die eienaars bereid wees om watter bedrag ook al vereis word, te betaal.”

Tydens die afsonderingstydperk het polisielede glo dikwels gedreig om doodgewone mense se lewe “baie moeilik” te maak sou ʼn lid van die publiek nie bereid wees om op te dok om in vrede gelaat te word nie.

Die organisasie sê in hierdie tyd het beamptes stop-en-deursoekingsoperasies gedoen. Diegene wat aan die afsonderingsregulasies voldoen het, is glo aangesê dat hulle ʼn bedrag moet betaal om die veiligheid van hul besittings te verseker en inhegtenisneming te verhoed.

Wat klagtes oor magsmisbruik betref, was omkopery nie altyd die probleem nie, maar mense is glo aangerand.

“Ons is ingelig dat sulke sporadiese voorvalle van geweld plaasgevind het wanneer beamptes mense daarvan beskuldig het dat hulle nie aan die afsonderingsregulasies voldoen nie. Ironies genoeg sluit ander beweerde magsmisbruik deur die polisie die verkoop van verbode items, meestal drank en sigarette, in, asook dat ongemagtigde ondernemings toegelaat is om sake te doen,” lui die verslag.

Plaaslike regering

Inwoners van Olievenhoutbosch staan in ’n tou vir kospakkies. (Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Altesaam 5% van die klagtes wat tussen Januarie en Junie by Corruption Watch ingedien is, was weens beweerde korrupsie op plaaslike regeringsvlak.

Die organisasie het bevind die algemeenste vorm van korrupsie is die wanbesteding van hulpbronne, wat 35% van alle korrupsiesake uitmaak. Fluitjieblasers voer aan amptenare verduister en wanbestuur geld wat veronderstel is om vir dienslewering en ontwikkeling aangewend te word.

Daar is volgens Corruption Watch miljoene rande waarvoor nie rekenskap gegee kan word nie.

Korrupsie tydens tenderprosesse kom ook algemeen voor. “Diegene wat sake aanmeld beweer dat ondernemings, soms georganiseerd in groepe soortgelyk aan kartelle, geld aan raadslede betaal wat dan weer verseker tenderprojekte word uitsluitlik aan hulle toegeken. Die gebruik is so algemeen en diepgewortel dat sommige munisipaliteite langtermyn-gemeenskapsprojekte sonder enige verduideliking aan inwoners laat vaar het. Die sakeondernemings kry egter deurlopend tenders.”

Corruption Watch sê die diefstal van kospakkies was nog ʼn kommerwekkende neiging wat tydens die afsonderingstyd kop uitgesteek het.

“Die diefstal van kospakkies wys korrupsie in die mees basiese vorm – die gulsigheid van diegene in beheer wat letterlik die kos uit die monde van die kwesbaarstes in die samelewing steel.”

Corruption Watch het sedert die aanvang van die afsonderingstydperk 67 verslae van korrupsie wat verband hou met die verspreiding van kospakkies ontvang.

Mense is glo gevra om geld te betaal of gunste te doen sodat hulle ʼn kospakkie kan ontvang, of kospakkies is slegs uitgedeel aan familie en vriende van spesifieke wyksraadslede.

“Sommige wyksraadslede of verkose amptenare het glo die inhoud van die kospakkies gesteel en dit dan weer aan die gemeenskap verkoop.”

By verkeers- en lisensiekantore is omkopery die algemeenste vorm van korrupsie. Corruption Watch sê motoriste kla dat verkeersbeamptes omkoopgeld by padblokkades eis.

“As ʼn motoris onwillig is om omkoopgeld te betaal of nie geld het nie, word sy of haar voertuig of ander besittings op grond van ʼn kamma-oortreding gekonfiskeer.

“By lisensiekantore beweer voornemende bestuurders steeds dat amptenare weier om lisensies uit te reik sonder ʼn meegaande bruin koevert met duisende rande in.”

Corruption Watch sê in sy verslag die verwoesting wat korrupsie veroorsaak kan vergelyk word met ʼn Tweede Wêreldoorlog-scenario, maar gebeur tjoepstil. Die organisasie sê kleptokrate se sakke word volgestop terwyl die gesondheidsorgstelsel onder enorme druk is, skole leë doppe word en polisiebeskerming net diegene beskore is wat bereid is om daarvoor te betaal. Dít terwyl daar brutaal opgetree word teen die armstes in die samelewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Andre ·

Nee wat. Hoe moet ons een tree vorentoe gaan met ‘n polisiemag wat so korrup is ? Hoe moet die land ooit beheer oor misdaad kry as dit is hoe dit gaan ? Nou my vraag.Waar kry julle die potensiele kanidate en is daar enigsins nog ‘n keurings proses ? Ons gaan regtig moet afstig en ons eie weermag en polisie mag moet opbou en oplei.Soos dit nou gaan is daar geen vertroue in enige uniform nie.Dit help nie om te kla nie.Vir die meerderheid is die Afrika standaard goed genoeg.

Gerhard ·

Ja wel, hier is nog ‘n bewys van ‘n minister wat die voorbeeld stel…. hoe kan ons land beskerm word as die leier van die SAPD nie ‘n idee het wat hy doen nie. Hy maak uitlatings en stellings wat totaal en al ongegrond is en geensins sin maak nie. Geen wonder die polisie is die mees korrupte eenheid/afdeling in die land nie. Ek is jammer vir al die polisielede wat vir die regte doel daar is, wat hulle werk doen wat van hulle verwag word, wet en orde probeer handhaaf en dan word hulle onder dieselfde kam geskeer as die klomp korrupte goed wat ook daar werk. Ek is ‘n baie positiewe mens, maar regtig, die ANC is besig om ons mooi land en al sy afdelings te vernietig en die ergste van alles is, hier sit ons, ons kan niks doen nie, by niemand kla nie, want juis die wat ons moet vertrou is die grootste skelms…..ons president ingesluit.

Persheks Adri ·

Goed vir niks doen nie en beskerm ons beslis nie! Met Cele in beheer van hulle kan ons niks minder verwag nie… Seer sekerlik gaan niemand iets omtrent dit doen nie en Cyril is dood stil

Hercules ·

“narsistiese, patologiese, kompulsiewe, skynheilige, jezebel leuenaars en kleptomanie gaan hand aan hand – hulle gee nie om as hulle niemand bevoordeel nie; hulle is koue, berekende, manipulerende, selfsugtige mense, en hulle dink glad nie aan ander nie behalwe om hulself te bevoordeel nie; meestal toon hulle glad nie emosie nie; narsistiese, kompulsiewe leuenaars glo dat hulle wonderlik is, dat alles aan hulle fantasties is en dat hulle op alles geregtig is en ander blameer ander vir hulle eie kortsigtheid”

def van terrorisme:
“die onwettige gebruik van geweld, manupilasie en intimidasie, veral teen onskuldige burgerlikes, in die strewe na eie politieke doelstellings”

Adeline ·

Wel dit is waar wat gesê word van die polisie en ook van die munisipale polisie – eerstehandse ondervinding daarvan en weet verseker dat omkoopgeld geëis word…. Polisie Mafia met CELE as die hoof

Sobymykoolkop ·

En die minister raak skoon liries en aangedaan oor die meer as 300 000 mense wat tydens inperking boetes vir rook en drink en strandstap gekry het. Verskriklik om om aan hierdie staandaard van ” leierskap ” onderworpe te wees

Kokerboom ·

Mnr O’Sullivan het aanbeveel aan Staat dat HELE Polisie topstruktuur moet afgedank word en uitbetaal word en van vlak zero begin word. Indien nie gaan die probleem NOOIT opgelos word

Herman ·

Ja die sogenaamde president het beheer verloor oor sy mense(dis as hy ooit gehad het). Cele is dieselfde as om n transito rower minister van die reserwe bank te maak……….. se maar net.

Annelien ·

Ongelooflik. Dit laat dink my aan hienas rondom ‘n karkas.

Sarel ·

Daar was nog nie waardige Leiers vir die Polisie of Weermag nie. Waar Leiers korrup is sal ondergeskiktes voorbeeld volg

Nico ·

Nou is Bheki Cele doodstil maar hy het veel te sê oor plaasmoorde, hy het geen kennis wat in die SAPD aangaan nie.

christo ·

Dis deesdae die reël en nie meer die uitsondering nie. Ek werk by ‘n skool waar ‘n werklose ‘oud ANC wyksraadslid ‘ die beheerliggaam voorsitter is. So word talle projekte deur hom geïnisieer waar hy die projekbestuurder is en sorg vir die arbeid, aankope ensovoorts. Elke maand by die 25ste is hy daar om sy ‘ deel ‘ te kom kry. Die beheerliggaam is dus net nog ‘n ANC kaping. Hoeveel keer word korrupsie en die ANC in dieselfde sin gebruik?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.