Polisiebeampte deur dieseldiewe doodgeskiet

(Grafika: Viewfinder/GroundUp)

ʼn Lid van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid in Middelburg, Mpumalanga, is doodgeskiet en sy kollega gewond toe hulle gereageer het op inligting rakende die diefstal van diesel by ʼn myn.

Volgens kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, Valke-woordvoerder, het die beampte en sy kollega van die Middelburg-speurdiens Maandag in die vroeë oggendure op die inligting gereageer en na die betrokke myn naby die N4 gery.

“Hulle het onderweg na die myn ʼn dieseltenker gewaar wat aan die beskrywing voldoen het. Die beamptes het ʼn U-draai gemaak en die tenker voorgekeer. Drie mans het uit die tenker geklim en op die beamptes losgebrand.”

Albei beamptes is geskiet en gewond. Die een beampte het later aan sy beserings beswyk terwyl die ander beampte na ʼn hospitaal in Middelburg geneem is vir behandeling.

Die verdagtes het van die toneel gevlug. Daar is op drie handwapens, ammunisie en selfone beslag gelê.

Genl.maj. Nico Gerber, hoof van die  Valke in Mpumalanga, het die aanval op die polisiebeamptes veroordeel. “Dit is ʼn hartseer dag wanneer polisiebeamptes doodgeskiet word wanneer hulle hul pligte uitvoer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Perdeby ·

Dit is maklik hulle los die vuurwapens op die toneel en vlug.

Harley Davidson ·

Ek dink nie die opleiding is aangepas en voldoende vir die misdadigers nie,die misdaad raak meer geweldadig en die polisie opleiding gaan agteruit.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die kriminele het geen respek en vrese vir die gehawende Suid-Afrikaanse kriminele regstelsel nie. Nie eens die polisie word ontsien nie. Tragies maar waar. Die menigde verwronge gesinslewens is waarskynlik die onderbou van die kriminaliteit in SA.

Miskruier ·

Here, ek kan net bid vir ons land. Vir onskuldiges wat hul lewe verloor omdat ons regering die pad byster geraak het.

Samuel ·

Dit is hartseer. Hier was nou polisiebeamptes wat hulle werk gedoen het, maar daar is geen ontsag vir die polisie nie, want die regering het die pad byster geraak.

efjy ·

Hoe is dit moontlik dat die polisie nooit die oortreders kan vang nie, nie eers een nie maar beslag gele word op die oortreders se selfone en pistole. Die oortreders vlug? Hoe? Vlug hulle te voet? Dit raak nou afgesaag en blyk dit dat die polisie geen poging aanwend om oortreders te vang nie.

SjN ·

Wees sommer ook hartseer oor die onbevoegde korrupte kaders wat alles ten gronde laat gaan.

Susan ·

Ek kan net nie verstaan dat net 2 polisie beamptes so ‘n operasie alleen behartig nie. Waar is die “backup ” in so geval?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.