Polisiebeampte in hof oor vals reiseise

Argieffoto (Foto: Unsplash)

ʼn Voormalige polisiebeampte van die Oos-Kaap het Woensdag in ʼn hof in Port Elizabeth verskyn nadat hy na bewering die Suid-Afrikaanse Polisiediens uit duisende rande bedrieg het.

Kapt. Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Valke, het in ʼn verklaring gesê Jimmy Desmond Marais (49) word daarvan beskuldig dat hy die polisie in 2017 uit R18 000 bedrieg het toe hy by meer as een geleentheid vals reiseise ingedien het.

Marais was in dié stadium ’n adjudant-offisier verbonde aan die Mount Road-polisiekantoor se afdeling voertuigidentifikasie en beveiliging (VISS) in Port Elizabeth.

Marais het ook na bewering inkopies in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal gedoen toe hy veronderstel was om ʼn hofsaak by die Izingolweni-landdroshof by te woon. Marais het ʼn eis vir dié rit en klere wat hy gekoop het, ingedien.

Volgens Ngcakani het die polisiestasie op ʼn betaalstrokie opgemerk dat die klere gekoop is op ʼn dag waarop Marais in die hof moes wees.

Die saak is na die Valke verwys wat ʼn ondersoek van stapel gestuur het.

Marais is vandeesweek op waarskuwing vrygelaat. Hy sal weer op 24 Maart in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michael ·

Pleks dat hy die werk doen wat hy gekies het nou laat hy my mense sleg lyk.

Brakenjan ·

Waarskuwing? Dis korrupsie… Jy kry nie eens parool as jy van korrupsie aangekla word nie; jy wag in die tronk tot jou hofdatum.

Kaal Keiser ·

Dit moes R 18 000 000 gewees het – dan het hy gekwalifiseer om los te kom … soos ons minister ensomeer.

Hellsbells ·

ag asseblief tog!!!! Hulle dra nie uniform nie en mág dus vir ‘n sekere (klein) bedrag eise indien vir gewone klere. LOL… en hoekom mag hy nie klere koop terwyl hy op reis is nie…. mens sit nié heeldag by die hof nie. Dis eintlik skreeu-snaaks. Dis nou seker weer ‘n persoonlike aanval!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.