Polisiehoës weer vandag in hof oor Marikana-sterftes

Voormalige adjunkpolisiekommissaris van Noordwes genl.maj. William Mpembe, brig. Gideon van Zyl, kol. Dingaan Madoda en kapt. Oupa Pule in die Noordwes-hooggeregshof (Foto: ANA)

Die saak teen die voormalige adjunk-kommissaris van polisie in Noordwes, genl.maj. William Mpembe, en drie ander senior polisiebeamptes, word Dinsdag in die hooggeregshof in Mogwase, Noordwes, voortgesit. Die saak hou verband met die Marikana-protes in 2012 toe meer as 30 mynwerkers deur die polisie doodgeskiet is.

Mpembe, brig. Gideon van Zyl, kol. Dingaan Madoda en kapt. Oupa Pule staan tereg op aanklag dat hulle die Kommissiewet en die Wet op die Polisieondersoekdirektoraat (Opod) oortree het en dwarsboming van die gereg.

Hulle is in Maart 2018 in hegtenis geneem nadat ʼn ondersoek deur Opod aan die lig gebring het dat ʼn mynwerker, Modisaotsile van Wyk Sagalala, in 2012 in polisieaanhouding gesterf het en nie in die hospitaal of op die toneel by Marikana nie. Polisiebeamptes het 34 mynwerkers op 16 Augustus 2012 doodgeskiet tydens ʼn gewelddadige staking by Lonmin se platinummyn in Marikana naby Rustenburg.

Die staat voer aan die beskuldigdes het destyds die omstandighede rondom Sagalala se dood verbloem.

Die hof het tydens ʼn vorige verskyning gehoor dat ʼn mynwerker die naam van ʼn medemynwerker aan die polisie verskaf het, wat destyds in ʼn polisie-vragmotor in Marikana gesterf het ná die skietery op 16 Augustus.

“ʼn Man wat saam met ander in hegtenis geneem is, het vir my die naam van die oorledene gegee maar het geweier om sy eie naam te gee,” het brig. Samuel Seboloki, voormalige bevelvoerder van die Atteridgeville-polisiestasie, in Augustus vanjaar getuig.

Seboloki is deur adv. Jan Ellis, vir Mpembe en Van Zyl, aan kruisondervraging onderwerp.

Maroela Media het vroeër berig die Lonmin-mynperseel in Marikana is destyds as ʼn aanhoudingsentrum gebruik om foto’s en vingerafdrukke te neem van mynwerkers wat in hegtenis geneem is ná die slagting van 16 Augustus.

Volgens Seboloki was hy destyds die bevelvoerder by dié aanhoudingsentrum en het hy kol. Madoda gebel om toesig te hou oor speurders in die sentrum. Hy het getuig dat hy die hantering van die misdaadtoneel, waar ʼn liggaam in ʼn polisie-vragmotor gevind is, aan Madoda en Pule oorgelaat het, omdat hulle oor wye kennis van misdaadtoneelbestuur beskik het.

Sagalala se liggaam het destyds in ʼn vragmotor by die aanhoudingsentrum aangekom. Seboloki het gesê hy is in kennis gestel van ʼn man wat besig is om in die vragmotor te sterf. Toe hy gaan ondersoek instel het hy die man op sy linkerkant sien lê.

Hy het daarna ʼn telefoonoproep na die gesamentlike operasionele sentrum gemaak om Mpembe, toe die algemene bevelvoerder van die operasie, en Van Zyl, toe die provinsiale speurhoof, in te lig oor die sterwende mynwerker.

Hy het gesê dat hy destyds nie die besonderhede van die paramedikus gekry het wat Sagalala dood verklaar het nie, omdat hy verwag het dat Pule en Madoda dit sou doen.

“Ek was die bevelvoerder van die aanhoudingsentrum [en] ek het nou saamgewerk met Pule en Madoda. Ek het verwag dat hulle daardie besonderhede sou kry,” het Seboloki aan die hof gesê.

Hy het bygevoeg dat Madoda die liggaam aan Thomas Setshedi, die beampte wat die foto’s van die oorledene geneem het, uitgewys het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

patriot ·

Doen die polisie hulle werk word hulle aangekla. Doen hulle dit nie kla almal. Watter kant toe? Die stakers by Marikana het met panga`s en ander wapens opgedaag. Daar is `n polisieman dood aan `n kapwond tydens die storie. Ek dink dis tyd dat alle stakings en protes optogte verbied of verban moet word. Dit loop NOOIT vreedsaam af nie. Daar is altyd skade of beserings, of iemand dood.

se net ·

Hoe lank wil hulle nou regtig nou nog aan hou met die? 7 jaar nou al dis n grap regtig.

Kobus ·

So ver ek kan onthou was lede van die Polisie ook vermoor maar glo nie enige iemand was nog daarvoor gearresteer nie.

Tersia ·

Dit is verregaande dat daar nog soveel polisie beskuldig word en tereg soossoos Kobus aanhaal. Geen beskuldigde word ook regtig vervolg nie en as hulle wel aangekla word, stap hulle het met ‘n waarskuwing weg. Waar is die geregtigheid in hierdie land?

Maljan ·

Wat het geword van die Britse joernalis wat n berig geplaas het dat die stakers eerste op die polisie geskiet het? Wat die polisie se optrede selfverdediging maak. Stakers moet geleer word staak beteken STOP WAARMEE KY NESIG IS. Nie vaar die land in en breek en brand nie. Nie pak die pad vol bande en steek dit aan die brand nie. Nie plunder winkel of rand mense aan of intimideer hulle nie. As hulle ontevrede is met salarisse , voordele en werksomstandighede, staan dit hulle vry om te bedank en ander werk in die eff of anc te vind.

Hannes ·

Die beamptes moes almal medaljes gekry het. Moet ‘n vreesaanjaende storie wees om so voor die massas te staan en jy mag nie eens wet en orde toepas nie. Wat ‘n skandelike klug is dit nie. Sal graag wil sien dat ons agbare ministers in die toekoms self na al die optogte (sonder polisie begeleiding) gaan om probleme op te los. Dit is juis as gevolg van hul swak besluitneming dat ons land in hierdie gemors is. Dit is snert dat enige iemand kan maak wat hulle wil, brand, moor ,roof, verkragtings en vele ander misdade word toegelaat terwyl die polisie nie hul werk mag doen nie.

Hannes ·

Stem volkome saam met Patriot. Alle stakings en protesoptogte moet teen die wet wees en verbied word. Die Regering moet regeer, gaan niks help om die massas te pamperlang nie. As jy ander mense se eiendom wil brand of skade berokken dan moet jy maar die gevolge dra. Seker tyd dat alle griewe sommer by die parlement en regerings-kantore opgelos word instede van om die paaie en publiek se eiendom aan die brand te steek.

Nico K ·

Jy is heeltemal reg Kobus. Daaride stakende mynwerkers het polisielede vermoor en nie een is ooit aangekla daarvoor nie.

Arak ·

My mening is dat hierdie storie aangaan, omdat die regering nooit enige verantwoordelikheid wil aanvaar vir enige iets nie. So, nou is dit die polisie se skuld wat by Marikana gebeur het. As gevolg van hierdie ondersoek is die polisie tans so lam gelê dat hulle nie eers meer wil optree waar dit hulle plig is nie, want netnou eindig die polisieman ook in die hof vir die handhawing van wet en orde. Weens die regering se gedrag teenoor die polisie is die polisie net wet en order op papier en kan eenvoudig nie meer reg en orde handhaaf nie.

Christa ·

Die besigheid is net geldmors. Die mense wat gesterf het, het dit oor hulself gebring. Hulle Wil staak en Maak Soos hulle Wil en almal Moet daaronder my. Waar is die toordokters Nou wat so vol brawade was.

Manna ·

Dir polisie het korrek op getree en saak behoort uitgegooi word. Polisie betrokke is helde wat hulle lewens op spel geplaas het om wet en orde te handhaaf. Geen wonder polisie wil nie betrokke raak nie.

Sarel ·

Die ergste is dat die SAPD nou nooit bereid is om op te tree nie en die misdaadslagoffer aan hulself oorlaat deur net te monitor. Hulle deel jou sonder omhaal van woorde mee dat hulle bang is vir siviele eise. Het dit net gister weer gehoor van n baie senior polisie beampte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.